Saturday, March 16, 2013

Breyten Breytenbach - Lady One (99 liefdesgedigte) (2000)



Breyten Breytenbach. Lady One (99 liefdesgedigte). Human & Rousseau, 2000.  ISBN 0 7981 4012 7.

Resensent: Joan Hambidge

Lady One(99 liefdesgedigte) is 'n keuse wat die digter Breyten Breytenbach gemaak het uit sy eie werk, en meer spesifiek, uit sy groot korpus van liefdesgedigte. Die 99 verwys waarskynlik na die verhaal van die man wat gewag het op die geliefde vir 99 nagte en op die 100e nag vertrek het...

Dit is 'n legende wat ons ken uit die Boeddhisme, hoewel daar ook ander weergawes bestaan. Die bundel word opgedra aan die vrou in die digter se lewe, Yolande, wat sowel politieke- as taalsimbool is. Vir haar moes hy baie opoffer tydens die apartheidsjare toe sy besoek na Suid-Afrika geweier is. Sy is ook taalsimbool: sy is nie Afrikaans nie en hiermee raak Breytenbach aan die oerkrag van die liefdesgedig dat die (o ewige) aangesprokene heel dikwels nie die gedigte begryp nie. Of dit nie eens lees nie. Die geliefde was die rede vir die ontstaan van die gedigte en die gedig  transendeer die verhouding. Dit word 'n rooi bors duif wat vir ander lesers iets bydra tot hul verhouding. Breytenbach behoort tot die Westerse diskoers; die geliefde tot die Oosterse. So gesien, word alles die yin en yang wat saamgesnoer word.

Breytenbach se digkuns vind hierdie leser in die besonder boeiend om die interessante psigoanalitiese perspektiewe wat dit aktiveer. Nou weet ons dat digters dig en die teoretici trek soos swaels agterna... Op sy postmodernistiese hoogtepunt soos in ('yk') speel hy klaar met Derrideaanse beginsels. In een van sy verse praat BB van die p-modernisme, ja daardie onsegbare woord. Woordwerk op sy beurt "antwoord" Deleuze & Gauttari se Anti-Oedipus.

Hoe gebeur (begeur?) dit? Waarskynlik is die gevoelige persoon osmoties in  staat om teoretiese ontwikkelinge op te suig. Lady One word gepubliseer met 'n miniatuurskildery van die digter wat hy in die maksimumsekuriteitsgevangenis gemaak het, Oktober 1985. So gesien, wil die digter die leser dwing om die liefdesgedig te lees teen die agtergrond van die politieke geweld wat hom aangedoen is. Breytenbach wil waarskynlik ook genre-grense tussen liefdes- en politieke vers problematiseer. Pablo Neruda het ook hierdie grense telkemale oorskry, ofskoon die meeste lesers hom  net uit bloemlesings ken as 'n liefdes- of ars poetika digter.

Lady One is 'n bloemlesing. Idiosinkraties, persoonlik en interessant omdat 'n mens weer eens besef dat die digter se keuse anders mag opklink as die kritiek s'n! Tersaaklik wel, omdat dit 'n mens 'n private blik gee op die digter se keuse wat dikwels voorkeur gee aan die ontstaan van die gedig, die persoonlike gevoel toe dit geskryf is eerder as die tegniese gehalte.

Breytenbach is die digter van die transformasie (hierom die verskillende skuilname) en die digter wat 'n beeld kan skep wat nuut en vars is. Soos pyn wat eentonig bly priem in 'n tand.  En  dit is hierdie durende verlange wat sy gedigte so aangrypend maak. Daar is sprake van 'n beeldvloed wat die leser se verbeelding laat duisel. Selfs die kleinste gedig is so gelees 'n prestasie.

Hy is ook 'n digter wat ander digters verlei (het) met sy manier-van-doen; iets wat elke groot digter presteer, naamlik om die kontoere van die digkuns te verander. Hierom is hy, tereg, bekroon met die Hertzogprys vir poësie tydens die laaste ronde.

Soos wat die miniatuurvuurhoutjie-boksie van die gevangenis uitgesmokkel is na die geliefde, is hierdie gedigte uit die digter se binnekamer gesmokkel na die leser. Nou kan ons sien wat is vir BB sy belangrikste of mooiste liefdesverse. En in een band speel die gedigte ook interessant en nuut op mekaar in sodat hulle as't ware bevry word uit die tronke van die vorige bundels.

Dit is liefdesgedigte wat sig self ondermyn. Die gedig word 'n metavers wat kommentaar lewer op die gedig en die taalprobleem wat dit skep: hoe stel jy die liefde voor? Die geliefde as projeksie van die self (soos by Petrarca); die geliefde as ewige begrypende (soos by Neruda se Mathilde); die pyn van afskeid/alleenheid/verlange terug vind ons alles hier.

In "Palestina/Israel"(p. 75) word die Psalm 23 knap herskryf en die digter se krag is opgesluit in sy vernuftige omgaan met ou Halleluja-liedere, die Bybel en Groot verseboek.
  
Selfs Groep twee se "Jy is my liefling" gooi hier 'n draai en ons hoor van 'n slang wat poep(!).'n Gedig soos "Lesende Li Bai"(p. 155) vat die essensie van hierdie gedigte saam, wat soos Jorge Luis Borges dit stel, 'n vanselfsprekende antwoord is op 'n vraag wat nie gestel is nie. Die digter kyk hier na sy beminde en hoe sy was voordat hy op die toneel gekom het. Hy vra homself af of sy ooit sou weet van hierdie liefde, van hierdie gedigte?

'n Mens kan die gedigte chronologies lees; of van agter na voor. Punt bly staan: dis 'n boek wat die statuur van BB opnuut bevestig.   

Die geliefde word nie geken nie; sy word gewéét. En haar gesig is op die vuurhoutjieboksie wat uitgesmokkel is, want om 'n liefdesgedig te skryf, en te lees, is soos om 'n vlam aan te steek. 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]