Harry Kalmer. Die
man met die dertien kinders. Queillerie Uitgewers, 1998. ISBN: 1 874901 81 3.
Resensent: Joan
Hambidge
So 'n jaar gelede het ek pragtige 'n Italiaanse novelle
gelees wat groot Italiaanse pryse losgeslaan het. Dit heet Silk en dis geskryf deur Barrico. Ofskoon klein in omvang, lees 'n
mens dit weer en weer. So 'n boekie is Harry Kalmer se Die man met die dertien kinders, 'n soort minimalistiese novelle.
Met vele sub- en supra-tekste.
Die begin en die einde skakel in mekaar, hierdie storie
van Jos Goosen, sy vrou Matilda en hul dertien kinders. Hulle woon in die
sogenaamde “biltong-belt” aan die rand van die Bosveld. Jos drink te veel; sy
vrou en kinders stel eise.
Breedweg handel hierdie boekie oor verspeelde kanse en
mense se drome. Dit is 'n boek oor ontnugtering, oor mislukking.
Die grootste wins is dat dit so ondergestem aandgebied
word dat dit juis meer effek het op die leser in hierdie dae van “big bang”-prosa.
Dit is geskryf in dieselfde siniese, verminderende trant
as die romans van Kurt Vonnegut. (Hier is ook 'n prentjie afgedruk - van 'n man
met dertien kinders - soos 'n mens by Vonnegut kry.)
Tog is daar onder alles iets wat vibreer, 'n soort
ontnugtering wat van hierdie boekie iets besonders maak. Daar is ook humor: die
beskrywings van Lemoenkop Fortuin wat in die kattebak van 'n oranje Cortina bly
en wie se kantoor 'n straattelefoon is in 'n oranje skulp is werklik snaaks.
En ja, verdriet: in hierdie verband is die tekening van
die moeder se besoeke aan Hillbrow 'n raak beskrywing van 'n geslag Afrikaanse
vrouens wat hul lewens moes opoffer aan 'n patriargale orde. Met kinders wat
hul drome moet uitleef.
Ook aggressie: die rusies oor Mathilda se ontrouheid.
En veel is daar te geniet aan die Jos se waarnemings van
sy lewe, sy musieksmaak en sy emosies. Daar is 'n aweregsheid wat van
ontsettende vernuf getuig. Ook die sinne is kort (sulke standerd-vier-sinne),
maar gelaai met geweldige skop.
Daar word eweneens sosiale kommentaar gelewer; al is dit
dikwels sommer so in die verbygaan. Maar bysake kan dikwels hoofsake word, die
weet ons soos die dood van 'n karakter wat 'n hoofkarakter beïnvloed. En sy
vrou se ontrouheid.
Jos Goosen vat dop. Hy's 'n man wat hou van drink en
hierdie verhaal lewer navrante kommentaar op die effek wat drank op hom en hoé
dit sy waarnemings aantas.
Die boek is in 'n soort sirkel geskryf (dit begin en
eindig met 'n Mars-bar) waarin 'n mens dan allerhande geleerde dinge kan
raaksien oor self-ontwikkeling, ensomeer. Ook meen ek dat die boekie 'n soort
grootmens-kinderboek wil wees wat gebruik maak van die tegnieke van die
kinderverhaal, maar dit dan telkens ondermyn deur 'n angel in 'n gegewe raak te
sien.
Hierdie leser is besonder bly vir Kalmer se jongste;
veral na die mindere X-ray Visagie en die
vingers van God. Ook omdat 'n mens gevrees het dat die outeur se talent
deur die reklamewese befoeter word.
D.J. Opperman het mos vas geglo dat G.A. Watermeyer deur
die reklamewêreld opgeslurp is. Maar dit was in die dae voor e-pos en internet,
nie waar nie?
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]