Chris Bohjalian. Trans-sister
radio. Harmony Books, 1998. ISBN 0 609 60407 4.
Resensent: Joan
Hambidge
Chris Bohjalian se vorige romans Midwives, The law of similars
en The water witches het baie gunstige reaksie by die
kritici in die VSA ontlok. Trans-sister
radio (met 'n nogals uitlokkende omslag: 'n naakte vrou se gekruiste voete
word versier met 'n madeliefie...)
Die roman spreek die gender-debat aan, en meer
spesifiek, transseksualisme. Allison Banks, 'n geskeide onderwyseres,raak
verlief op die professor, Dana Stevens, wat 'n somerkursus in letterkunde en
film aanbied. Haar dogter, Carly is verheug oor haar moeder se nuutgevonde
liefde, terwyl die eks-man, Will nie heeltemal plesierig op sy vrou se nuwe
liefde reageer nie.
Die probleem is nie net 'n outydse liefdesdriehoek nie,
maar die feit dat Dana in wese 'n vrou is. S/hy is alreeds gereed vir 'n
geslagsveranderingoperasie.
Trans-sister radio is 'n toepaslike titel vir 'n roman waarin gender,
identiteit en die politiek van geslagsdiskoers behandel word. Die gemeenskap se
hoon en vooroordeel kom ook aan bod en die vraag ontstaan: wat is gender? Wat
is seksuele voorkeur? Waarop het Allison verlief geraak? Op 'n sosiale
konstruksie of die “werklike” mens? June Singer se puik Jungiaanse studie Androgyny (Routledge & Kegan Paul, Londen, 1977) verskaf vele sleutels
vir die begryp van hierdie spanninge in die mens.
Tereg word die roman in Vermont gesitueer, daar waar
Amerikaners al gehoor het van liberaler idees en steeds uiters konserwatief
optree. Die roman bewys die verskil tussen sosiale kondisonering en persoonlike
behoeftes. Nou onlangs het 'n foonmaatskappy in Boston 'n spesiale toilet vir
'n transseksueel ingerig; maar dit, helaas, beskerm so 'n indiwidu nog lank nie
teen diskriminasie en persoonlike ellende nie.
Al die rolspelers kom aan bod en dit gee 'n komplekse
perspektief op die gegewe. Die vader werk vir 'n radiostasie en die verhaal
word telkemale voorafgegaan met 'n radiotranskripsie. Dit skep distansie op die
emosionaliteit van die vertellers en bevestig die verlede tyd van die
ervaringe. Ons lees dus die indrukke aprés
le deluge.
Die leser word blootgestel aan die gemeenskap se
kleinlike vendettas en die verhouding beleef uiterse spanning onder die
volgheoue kritiek van die gemeenskap. Trouens, konvensie se rol in
geslagsdiskoers word hier goed uitgelig. Seuntjies dra blou; meisies pienk - al
was dit tydens WOI andersom.
Die einde is nie aangenaam nie, maar die leser weet dat
alles hier afspeel op 'n tragiese, onvermydelike slot. Die wetenskap mag
radikale veranderinge meebring, maar die gemeenskap neem lank om dit te aanvaar
of institusionaliseer. Hierom is die radiodrama se titel All things considered.
Juis omdat soveel in ag geneem moet word.
Die roman is goed geskryf en veral rolspel en sogenaamde
gender-disforia word helder belig. Die roman kry 7/10.
The human stain van Philip Roth bly die roman van die jaar 2000.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Beeld geplaas.]