Tuesday, March 26, 2013

Pamela Jooste - Like water in wild places (2000)



Pamela Jooste. Like water in wild places. Random House, 2000. ISBN 0 385 60133 6.

Resensent: Joan Hambidge

Wanneer 'n mens Kaapstad Internasionale lughawe verlaat, is daar 'n kuriosum winkel met proteas, rooi wyn en biltong. Ook ander tipies Suid-Afrikaanse simbole wat jy vir 'n buitelander kan saamneem om te verduidelik: made in South Africa.

Dit is die oorweldigende gevoel wat by hierdie leser opgekom het by die lees van Pamela Jooste se jongste roman Like water in wild places. 'n Bietjie Boesman-folklore, gemeng met Afrikaanse patriargie. 'n Opstandige seun, 'n onderdanige vrou. Alles in 'n potjiekos van tipies (Suid)-Afrikaanse clichés, en siedaar! Nog 'n roman uit die pen van Pamela Jooste.

Die prosa is vlot. Seepglad soos die toneel wat sy beskrywe waar die kinders bad en die vader die kind optel en ja, aanrand. Maar dit is juis die probleem met hierdie roman: dit lees sonder enige weerstand sodat die vlotheid juis die grootste belemmering word, ironies genoeg.

Daar is een oomblik wanneer 'n mens glo aan Pamela Jooste se onbetwiste talent en dit is by die dood van die moeder. Die res is voorspelbaar, patroonmatig soos die beskrywing van die ou  boer, sy jong vrou en die donkie wat doodgeskiet word (p. 200). Is dit 'n weergawe van egte folklore?

Of is die leser die buitelandse een wat die grappe en verwysings nie ken nie? Die binnelandse leser helaas, is onbeindruk deur hierdie truuks.

Is daar nog 'n land op aarde waar soveel romans aan ons opgedoek word as “groot” en “belangrik” wat niks meer as populisties is nie? Ons staan nog te na aan die vergrype van die vorige regime om 'n roman van diepte op te lewer. Iets soos The reader kan nou eers die volledige impak van die WO II registreer.

Maar nou ja. Die buitelanders wil dikwels 'n “maklike” weergawe lees van 'n komplekse samelewing. Dit sal Pamela Jooste baat om 'n bietjie asem te skep. Frieda and Min was alreeds 'n dawerende mislukking. En dit is nodig dat sy haar talent koester.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]