Achmat Dangor. Bitter
fruit. Kwela, 2001. ISBN 0 7957 0097 0.
Resensent: Joan
Hambidge
Bitter fruit is 'n hoogs leesbare en onderhoudende roman. Die gegewe
is die effek wat die 'struggle' op mense in hierdie land gehad en meer
spesifiek, die uitwerking van 'n verkragting op die psige van Lydia, die
eggenoot van Silas Ali, 'n voormalige politieke aktivis.
Hy is tans werksaam by die WVK en op 'n Sondagoggend
loop hy toevallig vas in Luitenant du Boise, die verkragter van sy vrou. Wat
dan ontvou, is nie alleen die bloedige geskiedenis van hierdie land en ons
troebele apartheidsverlede nie, maar ook die effek wat so 'n ongevraagde seksuele
uitwerking op 'n mens se psige het. Dangor is 'n fyn beskrywer van
genderpolitiek: lesbiese verhoudings, bloedskande, 'n ongevraagde swangerskap
beskryf het met soveel krag dat 'n mens eenvoudig meegesleur word deur die
vertelling.
Verkragting word inderdaad 'n swaar gelade metafoor vir
die verlede, maar omdat die skrywer sy simboliek so kragtig en terselfdertyd,
delikaat hanteer, word dit nie banaal nie.
Al die donker areas van die menslike psige met
betreffende tot seksuele skuld word in hierdie roman ondersoek. Die sondes van
die vaders word oorgedra na die kinders en die spirituele wysheid van die roman
- onder meer die verwysing na die Sufisme - maak die roman se
interpretasievlakke wyer. Hiermee wil die outeur waarskynlik insinueer dat skuld
en bevryding 'n karmatiese proses is.
Madame Bovary, Cavafy, Camus se Die
buitestaander is deel van die ryk literêre intertekste wat op 'n briljante
wyse die komplekse politieke, sosiale en religieuse dimensies van die
Suid-Afrikaanse samelewing ontgin. Dit
is 'n roman wat ek op Sondag begin lees het en wees gewaarsku: dit maak 'n mens
uiters melancholies juis omdat Dangor die bitter vrug afskil tot in die laaste
pit.
Die roman funksioneer ook soos 'n speurverhaal en
wanneer die verskillende kodes van bloedskendige verhoudings, wraak en
weerwraak getrek word, is die einde goed voorberei en verlossend vir sowel vir
een van die hoofkarakters as vir die leser. ('n Leser wat waarskynlik nie
krities staan teenoor die ou-Suid-Afrika nie, gaan nie so 'n katarsis ervaar
nie.)
Daar is ook 'n handige glossarium vir die nie-Afrikaanse
leser.
Die verskillende kulturele verwysings behoort veral vir
die nie- Suid-Afrikaanse leser openbarend te wees oor presies hoe kompleks ons
samelewing is.
Hamba kahle, Achmat Dangor! Dit is 'n slim pakkende
roman wat gerus met Nadine Gordimer se laaste roman gelees kan word.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]