Thursday, March 28, 2013

Paul Christelis - Rabbit season (2001)



Paul Christelis. Rabbit season. Mail & Guardian Books, 2001. ISBN 09584340 5 0.

Resensent: Joan Hambidge

Rabbit Season van Paul Christelis het waarskynlik die mooiste buiteblad van enige roman die afgelope paar jare. Op die voorblad staan Bugs Bunny as 'n teiken met skote in en op die agterblad is daar 'n windpomp wat die eg-Suid-Afrikaanse sfeer wil weergee. Die roman word tereg as 'n kultusroman bemark en dit is 'n inderdaad presies die geval ten spyte van hierdie leser se aanvanklike skepsis.

Dit is 'n hibriede roman wat die invloed van populêre kultuur op ons lewens ondersoek. In hierdie geval dan “Bugs Bunny” en ander bekende strokiesprente vorm die sub-teks vir 'n verhaal oor waansin, die vrees vir die dood en die invloed wat die familie op 'n mens se psige het.

In strokiesprente kan die onmoontlike gebeur en daar is sekere kodes wat hierin aangetref word: karakters se ogies wat op dieselfde manier omrol en dat enige vorm van geweld altyd oorwin kan word. Dit is helaas anders gesteld in die werklikheid: die menslike psige kan net soveel pyn verduur en die verwysing na die moeder wat 'n kenner van Sylvia Plath is, word eweneens 'n ironiese kommentaar op die gebeurde.

Dit is 'n roman wat ook kommentaar lewer op presies waarheen moderne universiteite op pad is met kursusse soos “media studies”. Hierdeur word erkenning gegee aan die invloed van presies dit wat Umberto Eco raaksien in The role of the reader.

Die outeur speel vernuftig tussen die voorskrifte van die sogenaamde “oop” en “geslote” teks. As Donald Duck al 'n geleerde Marxistiese analise kon verduur, is Bugs Bunny eweneens belangrik vir die romankuns.

Soos Bitterkomix ondersoek hierdie roman ook die troebel verhouding tussen kind en ouers. By eersgenoemde is dit dikwels 'n groteske, skrynende analise van magsvergrype, terwyl dit in laasgenoemde op 'n subtieler manier weergegee word. Die rede vir die emosionele onrus is die suggestie van molestering. Dit word egter so subtiel aangebied soos in Saul Bellow se Herzog dat die leser bladsye later daarna moet terugkeer(p. 215).

Wat kan alles gebeur in 'n strokiesprent wat in die realiteit pynlik en onmoontlik is? Daar is altyd 'n vinnige regstelling van pyn of geweld. Die oog is soos 'n blinding en daar is maar net sterretjies of voëltjies om die oë (p. 168)!

Daar is verwysings na Hunter S. Thompson en Thomas Pynchon en die Amerikaanse droom wat 'n nagmerrie geword het. Maar die roman wat waarskynlik die sterkste inspeel op hierdie kragtoer vol slim verwysings - ja selfs Eliot gooi hier 'n draai - is ongetwyfeld Catcher in the rye.

Dit is postmodernistiese antwoord met al sy gedigte, film- en teksverwysings, op Salinger se karaktertjie, Holden Caulfield se ontgogeling met die grootmenswêreld.

“Merci bucket” aldus Bugs Bunny aan Paul Christelis vir 'n opwindende roman. 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]