Saturday, March 30, 2013

Reisjoernaal: Derwiese dansers

 Fethiye, Turkye © 2012 Wallpapers Kingdom
I

In hierdie dae waarin ons dikwels lees oor geloof versus wetenskap, wat hewige en emosionele debatte ontlok, dink ek terug aan ‘n ervaring in Turkye in 2008. Dit was ‘n reis geboek deur Trafalgar met vele stoppe en oorstaanplekke wat nog lank daarna in die gemoed sou draal.

Niemand kan waarskynlik die lewe na die dood “bewys” nie. Tog kan niemand telepatiese verbintenisse tússen mense ontken nie. As alles wetenskaplik bewysbaar of kwantifiseerbaar was, hoekom is daar iets soos die digkuns of word ‘n mens ontroer wanneer jy na groot sangers se vertolkings luister? Waarom is daar iets soos ‘n epifaniese oomblik?

‘n Uitsonderlike ervaring vir my was die belewenis van Derwiese dansers in ‘n grot in die sogenaamde Dervish House. In Fodor’s lees ek dat Rumi in Konya geleef het. “Beautiful, trancing and unique” – moenie dit misloop nie, beveel die reisgids.


Derwiese Grothuis © 1998-2013 priceline.com Inc.

Op sulke georganiseerde bustoere moet mens vir die ekstras betaal soos vir hierdie vertoning. Die reis deur Turkye is lank en uitputtend met ‘n sjarmante gids wat, elke keer wanneer ons vra hoé ver nog, lieg met ‘n “ons is amper daar”.  In ‘n sirkelreis deur Turkye, wat begin en eindig by Istanboel. Met ‘n drama wanneer ‘n vrou skielik siek raak en die busbestuurder na die naaste hospitaal haas. En dit gelukkig net hitte-uitputting blyk te wees.

Op versoek van ‘n mede-reisiger besluit ek om tóg die Semâ-seremonie mee te maak, ten spyte van my onkunde oor wat dit nou eintlik behels.

In die sewe stappe van die mistieke ervaring, beleef ons woordeloos die inspirasie van Mevlânâ Celâleddin-i Rumî wat geleef het in die dertiende eeu (1207 – 1273). Die soeke na die heilige mistieke sirkel om perfeksie te vind en nader aan God te beweeg.

Die sewe stappe is die volgende:

1. dit begin met ‘n aanprysing (Nat-I serif) van die Profeet wat liefde vergestalt en om hierdie Profeet te besing, beteken dat God geëer word;

2. hierop volg tromslae wat die “Kun-Be” weergee;

3. in die derde fase luister ons na instrumentele musiek wat die eerste asemhaling voorstel;

4. dan groet die Derwiese dansers mekaar en begin in ‘n drievoudige sirkel te stap, die “Devri Veledi”, wat die voorstelling is van siele wat mekaar herken;

5. die vyfde fase is die Semâ (op Engels “whirling”) wat uit vier “Selams” bestaan:

    (i) in die eerste groet of saluut word die bestaan van God as Skepper erken;
    (ii) in die tweede groet word die grootsheid van die skepping geëer;
    (iii) in die derde groet word die belangrikheid van liefde gesien wanneer die 
    persoon alles aflê om deel te word van die Een. In die Boeddhisme word dit 
    Nirvana genoem en hier Fenafillah.
    “The aim of Semâ is not unbroken ecstasy and loss of conscious thought, 
    but realization of submission to God”, verduidelik die glansbiljet.
    (iv) in die vierde groet word die onderdanigheid aan God weer beklemtoon 
    met ‘n erkenning daarvan in Sy werk op aarde.

6. In die sesde fase word daar uit die Koran gelees. Sura Bakara 2 vers 115:
    Aan God behoort die Ooste en die Weste en waarheen jy ookal beweeg of draai,
    vind jy Sy Aanwesigheid.
    “He is All-Embracing, All-Knowing”, lees ons.

7. Die seremonie kom tot ‘n einde met ‘n gebed om vrede vir alle siele.

Hierna keer die Derwiese dansers terug na hul selle vir meditasie (tefekkür).

En almal is ontroer.


Derwiese dansers © Bruno Morandi - Stone/Getty Images
II

So het ek in 2008 op my reis hieroor gedig:

Derwiese dansers

Op ’n keer sien ek
Derwiese dansers
in ’n sirkelgang
soos ’n sissende slang
met rokke wat swaai
in selfhipnose
amper nes ’n trans . . .
Op ’n keer eenmalig
Derwiese dansers
dansend ’n dáns
op ’n sewe maatslag,
tollend weg van die ek.

(Opgeneem in Vuurwiel. Human & Rousseau. 2009)

Maar hierdie ervaring lê buite woorde. Net so min as wat ‘n mens ‘n spirituele oomblik of die impak van ‘n gebed kan verwoord…


III

En waarom soveel jare later hieroor skryf?

Toevallig – maar ek glo lankal nie maar aan toeval nie – val hierdie brosjure uit ‘n verslete, voos-gelese grammatikaboek. Op my lang reise lees ek altyd ‘n Franse of Italiaanse grammatikaboek om my kop skoon te hou. Op ‘n oggend ontvang ek slegte nuus. ‘n Hartsvriendin is opgeneem in ‘n kliniek met ‘n lewensbedreigende trombose. ‘n Aar is verstop van haar enkel tot buik en ‘n operasie is die enigste uitweg. In die hande van ‘n knap sjirurg, wat verduidelik hoe die hart en longe beskerm sal word met ‘n siffie teen stukkies wat mag losbreek. Die stappe van die operasie wil ek eerder nie hier verduidelik nie.

Net dit:

Ek bel my beste vriende en familie en vra om aan haar te dink. Tydens ‘n slapelose nag mediteer ek oor hierdie sirkel van mense wat net positiewe gedagtes na haar stuur.

Ateïste en agnostici mag nou mor en beweer dis daardie uitstekende dokter en mediese navorsing wat alles laat goed afloop het.

Mag so wees.

Ek weer dink dit was eerder óns sirkel van geloof.


Bronne:

Fodor’s Turkey. Random House, Londen. 2007.



[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]