Saturday, March 16, 2013

Allan Boesak - ...tot sterwens toe (liefdesgedigte en tralies (2001)



Allan Boesak. ...tot sterwens toe (liefdesgedigte en tralies). Human & Rousseau, 2001.   ISBN 0 7981 4207 3.

Resensent: Joan Hambidge

Soms ja soms land daar 'n bundel op jou lessenaar wat jy weet: hier het ek al die voorbeeldmateriaal vir studente van hoe om dit nie te doen nie. En vir 'n kursus in die literatuurwetenskap: hoe om nie te lees nie.

Toe ons jonk was, het die ouer literatore gewaarsku teen die sogenaamde "intentional" en "affective fallacy" in die leesproses. Moenie luister na die bedoeling van die skrywer nie; en die effek van die vers moet ook nie jou oordeel beinvloed nie. Die moderne benaderings smaal hierop as "outyds", maar by gevalle soos Allan Boesak, is dit waarskynlik raadsaam om na die teks net die teks te kyk.

Selfs 'n debat oor 'n besoek aan 'n skrywersaand kan nie sonder emosie (en trane van Elias P. Nel) plaasvind nie. En daar word vergeet: hy was ten tyde van sy uitnodiging nie 'n gearriveerde kreatiewe skrywer nie. Ons moes egter ook die les leer: vir sommige mense is hy simbool wat bo kritiek en kanttekening verhewe is, so help my die 'struggle'.

Om Human & Rousseau te vra waarom hierdie bundel gepubliseer is, sal nie deug nie. Papier is geduldig. En ja, waarskynlik weet meneer die-uitgewer-meneer-die-sakeman dat hierdie bundel sal verkoop.

"Love is blind; the neigbours ain't" is die refrein wat deur die kop draai wanneer 'n mens hierdie bundel lees. Wat eerder in die laai moes bly, word nou opgekalfater as gedigte. Net jammer die kritikus is nie ook blind nie...

Dit was immers Auden wat mos gewaarsku het dat die kritikus nie anders kan as om af te wys wanneer 'n reddelose vrot bundel voor jou land nie. Maar die leser hou haar in. 'n Mens probeer dit net as gedigte benader, maar dit werk nie as gedigte nie. Ook die foto's wat geplaas word, aktiveer die buite-teks in Derrida se terme. 'n Mens kan nie die gedigte net as 'gedigte' lees nie.

Sontag se On photography en Barthes se Camera lucida word gebruik om die foto's te dekodeer. Die lesende Boesak met die Bybel voor hom; 'n omhelsing van die geliefde wat later in die verse die afwesige (en aanwesige) geliefde word; wandeling langs die see (simbool van die onbewuste); en 'n soen van hartstog.

Woord en woord; woord en wederwoord; koord en akkoord?

Wat gebeur hier? Hoe kom dit dat hierdie gedigte gepubliseer word, maar 'n jong talent word weggewys?

Ode aan Elna op Valentynsdag

My lief, kom wees my Valentyn
verlig my saggeryn
verruil die donker liefdesmart
vir vreugde in my hartseerhart.

Dit is 'n dag vir rosetjies
vir Annatjies van Kosetjies
maar selfs vir jappies soos ons
laat hierdie dag ons hartjies bons ...
(p. 11)

Inderdaad soos die digter bely: "my eie woorde maal tot kaf" (p. 13). Wat die persoonlike geskiedenis of verontregting ookal mag behels, dit is en bly swak gedigte.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]