Monday, March 25, 2013

Gertrud Strauss - The blood spot and other stories (1999)



Gertrud Strauss. The blood spot and other stories. Solo Collective, 1999. ISBN 978-0620238366.

Resensent: Joan Hambidge

Gertrud Strauss se debuut kortverhaalbundel The blood spot and other stories begin met een van daardie sielige voorwoorde: een en almal word bedank en aan erkenning gegee. As die leser verby hierdie pienk marshmallow-aanslag beweeg, is die openingsverhaal “The blood spot”, 'n soort rite of passage-verhaal alreeds 'n aanduiding van 'n gevoelige persoon se blik op die wêreld.

Die verhale het oor 'n tydperk van veertig jaar ontstaan en hierom waarskynlik die ingehoue aanslag en die vermoë om presies op die regte oomblik die verhaal te laat eindig. Die leser, 'n voyeur saam met die jong karakter, Karin beleef 'n intieme oomblik. Vernuftig word dit geplaas teenoor haar ervarings van verhale in Die Huisgenoot.

Die amper kinderlike voorblad van Dina Cormick wil 'n mens ook reeds 'n aanduiding gee van die aanslag en die tematiek: mense se interaksies met mekaar op sowel 'n persoonlike of religieuse as 'n politieke vlak word hier onder die loep geneem. Ook sal dit 'n hoofsaaklik vroueperspektief wees.

Die meeste verhale is tereg nie konvensionele kortverhale nie (soos die agterflap aantoon), maar hier is dan juis ook die grootste beswaar wat ingebring kan word. Die verhale gee te dikwels die indruk van 'n blote “slice of life” en dit mis die kompaktheid en direktheid van die kortverhaal as genre.

Te veel verhale staan waarskynlik ook nog te na aan die skrywer wat die leser met 'n gevoel van onbehae laat: hierom waarskynlik die uitspraak in die Voorwoord en die persoonlike belydenisse?'n Grensoorskrydende ervaring moet steeds in taal vertel word en die storie moet as verhaal oortuig. Hierom is De Maupassant of Tsjekof voorbeelde van onsterflike meesters: die een om die ironiese lesse wat die lewe ons kan leer; die ander om die sosiale werklikhede wat ons ook kan verander. Beide is egter meesters van taal en struktuur.

En selfs as 'n skrywer die sogenaamde struktuur van die kortverhaal oortree, soos 'n Raymond Carver met sy dirty realism, is daar steeds 'n erkenning van reëls. Miskien sou 'n gevestigde uitgewershuis die outeur van raad kon bedien.

Maar daar is mooi oomblikke: soos die verhale “Maria's passion” wat die intieme gedagtes oor die dood in dagboekvorm neerskryf en die skrynende verslag van 'n swart vrou “Listening to Matrina's problems”. Ook verdien “African tune” vermelding in  die sensitiewe waarneming van huweliksontrou en -verraad. “Her flight and return” gryp 'n mens ook aan die hart, dis politiek werklik, maar die verhaal beweeg verby die natuurlike slot verby.

Maar my besware in die geheel bly staan: die verhale het 'n Hettie Scholtz se oog nodig gehad.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]