Tom Wolfe. A man
in full. Jonathan Cape, 1998. ISBN 0 224 0306 1.
Resensent: Joan
Hambidge
Tom Wolfe het in
die sewentigerjare bekendheid verwerf vir sy New Journalism-tekste, oftewel
faksie. Vertellinge waarin die tydsgees
joernalisties, “objektief” ondersoek word met 'n skeutjie fiksionalisering
daarby. Hiervan was Radical chic &
mau-mauing the flak catchers (1970) vir my die innoverendeste en The electric cool-aid acid test (1968)
insgelyks belangrik.
Daar is ook tekste wat gewoon studies wil wees soos The painted word (1975) en The right stuff (1979. Verder het sy
roman The bonfire of the vanities (1987)
'n nuwe begrip aan die term best-seller gegee met die suksesvolle verkope. Ook
die film was interessant.
Wolfe se ander bekende waarmerk is sy dandyisme, sy “natty”
skoene en pakke. Die outeur as stylvolle poseur.
Die jongste roman A
man in full maak opslae. Die New Yorkse kritici wys tandjies en naeltjies.
Is die lewe lank genoeg dat 'n mens so 'n lange roman kan inpas?, vra 'n
bitsbek. En ag, is Wolfe darem nie nou weer aan die rol nie? 742 bladsye? Ook
word dit bemark as die roman waarna die meeste uitgesien is in die twintigste
eeu!
My liefde vir lang, deurgekomponeerde romans is bekend.
Gee vir my 'n lang Flaubert of Balzac en ek is stil; of Byatt se The babel tower. A man in full is gewoon net wat omvang betref, 'n prestasie. Daar
is skerp dialoog en helder beskrywings van 'n komplekse gemeenskap: die VSA aan
die einde van die twintigste eeu.
Die storie: Atlanta, Georgia. Charles Crocker, 'n
voormalige voetbalspeler en nou verloopte magnaat met 'n landgoed waarop
kwarteleiers geskiet word. Conrad Hensley, in Oakland, ontdek die gatkant van
die Amerikaanse regssisteem en verder is daar aantygings van “date rape” teen
Fanon, 'n agtergestelde - met al die implikasies van 'n swart-wit-spanninge.
Dit is 'n ambisieuse roman met 'n wye doek-aanslag.
Die bemarking alleen was by die $500 00m en ongeveer
$1.2 miljoen is gespandeer op die druk van die boek. Dan praat ons nie eens van
die regte wat die skrywer gekry het om die boek se regte aan Rolling Stone
-tydskrif te verkoop nie ($600 000).
Die roman analiseer die Amerikaanse obsessie, te wete
geld en skuld. Deur New York af te speel teenoor Kalifornië word die volledige
Amerikaanse droom betrek. Die roman is 'n antwoord op F. Scott Fitzgerald se The great Gatsby, meen 'n kritikus. Maar
dan 'n roman met groter kwashale geskilder as eersgenoemde.
In die karakter, Charlie Croker, 'n man in sy
sestigerjare – hy word ook op die voorblad van die roman afgedruk as mens die
skutblad oplig – word 'n tipiese Balzaciaanse gegewe behandel: as jy diep in
die skuld is ($5 00 miljoen) word jou mens-heid en eer diep beproef. Veral as
geld deur die jare dit so gerieflik gemaak het om van die goeie waardes te
vergeet...
In die film, Cousin
Bette word hierdie situasie ook behandel; met Jessica Lange as 'n
aangrypende Bette.
Lees Wolfe. Hy het baie belangrike dinge te sê oor die
moderne samelewing aan die einde van 'n millennium.
As kultuurwaarnemer word daar skerp kommentaar gelewer
op 'n gemeenskap van “thugs” en terapie. Die geweld van hierdie samlewing word
byvoorbeeld baie oortuigend beskryf op bladsy 675 in Wolfe se kenkmerkende
staccato-styl.
En hoe briljant, ondergesteld kan Wolfe nie beskryf nie.
Wanneer Jill (p. 262) verneem dat daar geen geld meer oor is nie, word die
leser oortuig van die totale verplettering.
Die slotsin lees ek as 'n waarskuwing dat daar dalk 'n
opvolg mag wees...
Om so 'n roman op 'n tikmasjien te kon skryf, wil gedoen
wees.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Beeld geplaas.]