Thursday, March 21, 2013

Andries Walter Oliphant (Red.) - At the rendezvous of victory (1999)



Andries Walter Oliphant (Red.). At the rendezvous of victory. Kwela, 1999. ISBN 0 780795 0093 8.

Resensent: Joan Hambidge

Hoe word ooit in die letterkunde 'n bestekopname gemaak van terreur, van politieke ongeregtighede en wandade? Onder die bekwame redaksie van Andries Walter Oliphant is At the rendezvous of victory 'n wydlopige reaksie en antwoord op hierdie probleem.

Probleem juis omdat die Suid-Afrikaanse letterkunde waarskynlik ten tyde van sy “struggle”-jare op vele gebiede van sy uitmuntendste en briljantste bydraes gelewer het. Almal in  hierdie land, onafhanklik van politieke uitkyk of oortuiging, weet dat die wittebrood van hierdie vryheidsviering verby is. Nou is die harde werklikhede van armoede, straatmense, geweld, moord, diefstal iets waaraan almal moet aandag gee.

Geen leser kan dus hierdie verhale lees sonder om al hierdie inligting te laat meespeel nie. Oliphant trap ook nie in die maklike slagyster deur net te post-”struggle”-verhale te plaas nie. Hy plaas die wye spektrum van die Suid-Afrikaanse ervaring en selfs 'n verhaal waarin daar blatante politieke onkunde afspeel soos in Ken Barris se “Beautiful people”.

Daar het dus net meer verwikkelde opposisies na vore gekom ten spyte van die feit dat die illusie van rasgelykheid nog lank nie klasgelykheid inhou nie. Die bloemlesing bevat sowel wit as bruin en swart bydraes; ook manlik en vroulike/feministiese skrywers neem deel. Om dus 'n veralgemening te probeer maak oor die verskillende verhale geluk ook nie hierdie kritikus nie.

Oliphant betrek veral die sieninge van J.M. Coetzee, Njabulo Ndebele en Richard Rive om die problematiek van skryf in hierdie land te behandel. Die sogenaamde postkoloniale diskoers of kondisie maak estetiese aannames ongedaan. Of doen dit werklik, kan die leser vra as 'n mens verhale van sogenaamde wit skrywers betrek.

“The scream” van Etienne van Heerden aktiveer juis op 'n markante wyse die spanning tussen (Suid)-Afrika en die Lae Lande en die koloniale impikasies van hierdie ingewikkelde verbintenis.

Oliphant beklemtoon tereg dat ons nooit die verlede kan ontsnap nie en dat vele verhale juis funksioneer rondom 'n komplekse verhouding tussen hede en verlede. As samesteller voorsien hy die leser ook van ongeveer elf temas wat onder die loep geneem word. Dit is dan ook 'n samestelller wat sy navorsing deeglik gedoen het en bereid is om sy leser te lei in hierdie bloemlesing.

'n Mens het sulke wydlopige verhale soos die wat antwoord op die Europese verbintenis (Van Heerden onder meer) en diegene wat weer let op die komplekse en teenstrydige proses van vergifnis: Achmat Dangor en Graeme Friedman. Sterk allegoriese verhale van Peter Horn en veral Maureen Isaacson, trek ook die aandag. Verandering onsekerheid en vrees en verskillende skrywers reageer ook hierop.

Die waarskynlik onbedoelde bydrae van hierdie Kwela bloemlesing is dat die die verskillende estetiese uitgangspunte van Suid-Afrikaanse letterkunde aan bod bring. Ofskoon daar verhale is waarvan 'n mens miskien minder hou, is dit dan ook tersaaklik om die verskillende estetiese maatstawe te vergelyk. 

Die titel is ontleen aan 'n bydrae van Nadine Gordimer waarin die hartseer van 'n politieke verlede op 'n groteske wyse vertel word. Dit word ook 'n literêre rendezvous vir hierdie leser wat steeds bly wonder of Gordimer ooit bekroon sou word met die Nobelprys as dit nie net vir haar politieke sentimente was nie? Die verhaal as sodanig is nie indrukwekkend nie.

En dit verrraai alreeds my literêre vooroordele en waardesisteem. Dit is 'n allegaartjie van 'n bundel waarin 'n wye verskeidenheid van style en temas aangebied word. Dis ook mooi uitgegee en beslaan by die 270 bladsye.

En skande Kwela: die glossarium wemel van foute soos heera, i.p.v. hoera; chommie i.p.v. tjommie; likawaans i.p.v. likkewaan.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]