Sunday, March 24, 2013

André P. Brink - Duiwelskloof (1998)



André P. Brink. Duiwelskloof. Human & Rousseau, 1998. ISBN  0 7981 3879 3.

Resensent: Joan Hambidge

Telkemale skryf André P. Brink saam met 'n waterskeidende roman 'n akademiese studie. Toe hy destyds Lobola vir die lewe geskryf het, was Aspekte van die nuwe prosa 'n goeie aanduiding van hoe hy gelees wil word. Saam met sy kluif politieke romans kan 'n mens gerus weer gaan kyk na Reinventing a continent (1996).

Nou, saam met sy jongste, Duiwelskloof, besonder keurig uitgegee deur Human & Rousseau, verskyn daar 'n belangrike essay-bundel The novel, gepubliseer deur UCT Press. Hierin gee Brink waarskynlik van die belangrikste sleutels vir hoe 'n mens sy jongste kan (en behoort te) lees. 

Daar is in Duiwelskloof die bevestiging van Brink die briljante, meesleurende storieverteller. Die verskillende hoofstuk-afdelings gaan terug op sy sieninge van die 17e en 18e eeuse roman toe skrywers aangedring het: dit is die werklikheid en ek sweer dis waar! Gaan kyk onder meer wat skryf Brink oor Cervantes en Defoe.

Maar die roman het ook 'n klap weg van die magies-realisme, van die bo-natuurlike (hier kan 'n mens gerus die essay oor Márquez bestudeer). En ja, daar is ook 'n postmodernistiese blik - en veral die hoofstuk oor Calvino se If on a winter's night a traveller is tersaaklik.

Duiwelskloof is 'n bedrewe roman geskryf deur 'n storieverteller. In hierdie roman gaan hy terug op die oer-gegewe van die roman, naamlik om die leser te oortuig dat iets “waar” is (anders as in die pomo-roman waar die skrywer juis weer wil oortuig alles is fiksie.) Maar hoe meer jy beklemtoon dis “waar”, des te meer gebeur die omgekeerde.

En dis met hierdie “suspension of disbelief” waarmee Brink toor. Sy mislukte joernalis-hoofkarakter, Flip Lochner (hy het dieselfde “stem” as die hoofkarakter in Gerugte van reën, terloops) se skunnige aanslag word gesinkopeer met 'n outydse, gek klomp vertellers. Hier gebeur die moontlike èn onmoontlike. Die leser, egter is die hele tyd meegevoer en oortuig: dis moontlik!

Die verhale betrek die dood van 'n jong seun en die Lochner se reis na Duiwelskloof ten einde dit te verstaan. Hier word hy met nog 'n kind se dood en etlike bo-natuurlike ervarings gekronfonteer. Die misdaad-verslaggewer verloor sy objektiwiteit. Die outydse gemeenskap kan as 'n allegorie van ons land gelees word, maar veral as 'n terug-beweeg in die tyd word dit bykans 'n soort Middeleeuse gegewe wat vasgevang word. Veral die Suid-Amerikaanse letterkunde praat hier saam in die beskrywing van die bo-werklike.

'n Biddag vir reent, 'n vrou met vier borste, heldersiendes, doodskiste wat as beddens funksioneer en nog vele ander verskynsels maak van hierdie roman 'n hutspot van die buitenissige. Tussendeur is die joernalis wat filsofeer oor die betekenis van geskiedskrywing, en ja, die funksie van stories wat nie uitgepraat word nie. En hoe dit dan tog na vore kom.

Dis 'n soort ouktoriale roman met hoofstuk-aanwysings en opsommings van onderafdelings. Daardie soort negentiende-eeuse tegniek wil immer die implikasie van “waarheid” skep, wat ook terselfdertyd ondermyn word deur die storie wat sy eie stertjies kry.

Dus dan ook 'n metafiksionele roman en die self-bewustheid met betrekking tot geskiedenis en waarheid het bepaalde resonansies vir die werklikheid. Dit is iets waarmee Brink al besig is sedert Kennis van die aand. Jungiaans gelees her-skryf die romanskrywer sy belangrikste obsessies: die mistieke vrou, die dood, die seksuele, God wat ons oorlaat aan onsself. Dis dan die werk van 'n ryp outeur wat as't ware 'n bestekopname maak van sy eie kreatiewe onbewuste.

'n Mens lees in hierdie boek ook iets van die gevoelige mens se onsekerhede met taal, met waarheid, en: met erkenning. Dit bly dan altyd 'n ironie dat die skrywer wat waarskynlik die meeste gedoen het om die vertel-bakens te verskuif en die oer-Afrikaanse gegewe oop te maak, nie na waarde geag word in sy eie taal nie.

Miskien het Brink in die tagtigerjare meer vir die buitelandse leser geskryf, terwyl Duiwelskloof juis praat met die leser wat al die primordiale verwysings en toespelings sal snap. Die politieke gegewe word dan ook meer indirek aangebied.

Die name van die karakters is glo veral by Langenhoven en Leipoldt gekry en dit op sigself maak ook 'n ander vergelykende studie vir die speurende leser oop. Dit is 'n roman wat van enorme navorsing getuig, maar die magiese hand van die storieverteller verdoesel al die harde werk van die tapisserie wat voor 'n mens uitgestal word. (En die opsetlike fout laat ek aan die leser oor om te vind!)

Waarskynlik het Brink met hierdie roman al sy beste kwaliteite in een roman ten toon gestel. En die gevolg is 'n werklik heerlike roman wat hierdie leser duiwelsveel geniet het.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]