Philip Roth. I
married a communist. Random House, 1998. ISBN 0 224 05258 6.
Resensent: Joan
Hambidge
Philip Roth het deur die jare bestendige werk as
romanskrywer gelewer. Tog sal hy waarskynlik altyd onthou word vir die
genoeglike Portnoy's complaint wat die
verhaal vertel van 'n jong Joodse seun se ontdekking van seksualiteit en
homself.
Sy jongste heet I
married a communist, 'n lang uitgerekte roman wat klaarblyklik gelees moet
word as 'n antwoord op sy vrou, die aktrise Claire Bloom se memoirs, Leaving a doll's house (1996).
Dit is dan ook 'n bittere stryd tussen die twee figure
en toe die memoirs van Bloom indertyd gepubliseer is, het almal hul uitgespreek
oor haar dwaasheid om hierdie vuil wasgoed in die openbaar te was.
Dit is ook goed om te weet dat hierdie soort “revenge
between covers” nie net eie aan die Afrikaanse letterkunde is nie, maar ook in
die Amerikaanse letterkunde afspeel.
Leaving a doll's house vertel van Roth se senuwee-ineenstorting en sy rusies
met sy vrou. Dit het hy as verraad in die ergste graad beskou. Bloom onthul die
donker en negatiewe kant van Roth se persoonlikheid, natuurlik tot die outeur
se chagrin.
Daar is ook insinuasies dat Bloom haar memoirs
gepubliseer het om finansiële redes aangesien haar eggenoot enigsins suinig was
in sy onderhoud aan haar.
I married a communist – met die opsetlik omgekeerde buiteskut - is 'n
fassinerende en hoogs leesbare roman. Dit gaan in op die na-oorlogse Amerika,
en meer spesifiek, Newark, New Jersey. Die Levovs en die Ringolds en wat dit
alles behels het om in Amerika teen
die regering van die dag te wees. Hierom dat Steven Spielberg nie kon hande
klap vir Elia Kazan nie.
Dit was harde, verraderlike tye. Of Mevrou Roth hiervan
gaan hou? Net sy sal werklik kan bepaal waar en hoe sy seergemaak word, as sy
haarself as Eve sien. Roth verdedig homself op bladsy 278:”Literature is not a
primary reality but a kind of expensive upholstery to a sage himself so plumpy
upholstered...”
As fiksie is dit 'n waardige toevoeging tot Roth se
romankuns.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Beeld geplaas.]