Thursday, March 28, 2013

R.K. Belcher - Van Heidebos en klip (2000)



R.K.Belcher. Van Heidebos en klip. Suider Kollege Uitgewers, 2000. ISBN 0 620 25635.

Resensent: Joan Hambidge

Daar is niemand wat so lekker kan voorlees as Ronnie Belcher nie en kwatryn-skepper het hy beslis nie gelyke in Afrikaans nie! Gaan kyk maar net na die talle bundels en die talent is daar. Ook by die Woordfees op Stellenbosh het hy telkens die gehoor aan sy voete gehad.

Belcher het ook 'n akademiese en ernstige sy. Sy doktorale proefskrif (Grondslae van die sonnetvorm, 1969) handel oor die sonnet, waarskynlik die moeilikste eis vir 'n digter. Sy debuut was in 1956 met Mens en skepper;hierna volg onder andere Ver land (1961). Vir my is die hoogtepunt egter sy latere bundels soos So is die lewe vir een pond sewe (1979) en 'n Ding om te skil in die maand April (1980) en die kinderverse verdien ook vermelding.

As die beoefenaar van die guitige vers is hy 'n moderne A.G. Visser. Ook by die onlangse Bekgeveg kon hy 'n  gehoor laat gil met sy gawe om die onderstel met die bostel te laat versoen.

Sy jongste Van Heidebos & klip is deur die digter self uitgegee; die redes hiervoor is dat die digkuns met suinige uitgewershand beheer word. Nou sit dit nie in  algar se broek om 'n sonnet soos Petrarca of Shakespeare van ouds te maak nie. Hierom waarskynlik die groot aantal gebreekte sonnette in die werk van jonger digters.

Ook wys die sonnet 'n fout uit nes 'n “home perm” of 'n selfaangeboude huis. Een rymfout en die sonnet draai skeef . Dis die gedwonge rymterminale, versvullings en sware gang waarteen veral gewaak moet word. Die openingsgedig stamel alreeds 'n bietjie, want die leser kan nie help om in “Kuslyn” Antjie Krog se Paternoster gedig te hoor nie. Haar stem oorskadu dus syne.

Die gedigte dreun (om die woorde van die digter aan te pas) apokalipties soos 'n basuin(p. 2) en dis asof die boodskap dikwels net te swaar vir die gedig is. 'n Aangeboude huis met net te veel aangelapte kamers, by wyse van spreke. 'n Stywe “home perm” op 'n krulledos, ja.

Dit gaan in die lees van poësie om die “voice”, oftewel die stem van die digter soos Helen Gardner dit noem. Iets in hierdie stem is te pedanties, te prekerig, selfs vermanend. Die vormbeheer is dikwels gedwonge.

Heuglike momente is daar in “Suidwesters” (p. 4), “Boeke” (p. 14), “Rasoel Moegammat” (p. 15), “Poësie-aand” (p. 21) en “Sandy Bay” (p. 38) om 'n handvol knappes uit te sonder.

Die verse is nie altyd polities-korrek nie en die digter het ook die gawe om mense se aard vas te vang. Baie gedigte bly lank daarna nog in 'n mens se gemoed draai.

Maar mag ek dit skryf: Ronnie Belcher se métier is die speelse vers. Daardie stuitige gedigte van 'n ouwaas wat al loer vir die ander boud by die ou vrou se begrafnis of die Kaapstadse moffies wat so lustig eet aan tjoklits en toffies. Soos hy self besef in 'n vers:

......

Nee, eerder lieg en skurwe rympies maak
oor snaakse goed wat ander siele raak

......

Maar smokkel met my siel se brood-en-jêm
voor al dié vreemde wesens? Not-a-dêm!

Bestel direk van: Suider Kollege Uitgewers, Postnet X5061, Suite 252, Stellenbosch, 7599.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]