Sunday, March 24, 2013

Izak de Vries - Kom slag 'n bees (1998)



Izak de Vries. Kom slag 'n bees. Tafelberg Uitgewers, 1998. ISBN: 0 624 03671 5.

Resensent: Joan Hambidge

Die M-Net-beurs vir kreatiewe skryfwerk het alreeds beduidende talente opgelewer, soos Sonja Loots (Spoor en mag sy liewers weer skryf en haar rubriekies los), Jaco Botha (In Drie Riviere), Tom Dreyer (met sy baie mooi gedigte in Nuwe Stemme 1) en nou: Izak de Vries se Kom slag 'n bees met sy sterk Afrika-gerigtheid.

Nou was dit Peter Blum wat ons al daarop attent gemaak het dat hierdie vasteland waarop ons boer een van waansin is. Tog het dit die Afrikaanse letterkunde baie lank geneem om eintlik in Afrika aan te kom. Dit was bykans altyd 'n blik van buite. Tog iets neerbuigends wanneer daar oor swart kulture geskryf word. Of: 'n poging om dit immer te probeer vergelyk in  terme van 'n Westerse model; sonder om die waarde van Afrika in sigself te begryp.

Nou is dit baie goed om by 'n jong skrywer soos De Vries te sien hoe Afrika in al sy wansin en teenstrydighede losgemaak word. in die onstellende openingsverhaal, “Hardloop”, word die implikasies van 'n muti-moord behandel.

Vele verhale aktiveer 'n paranoïese wêreld van oortreding, vergelding, weerwraak en onthou. Of selfmoord. In die ontstellende “Die verlede lê nog voor” word die implikasies van die Waarheids- en Versoeningskommissie bespreek in die gemoed van iemand wat vrees dat hý sal moet getuig. Wat is waarheid? In 'n land, ironies genoeg, wat almal weet wat die “waarheid” is.

Die uiters geroetineerde bestaan van die karakter, Jan Coetzee, dui al op 'n toestand na aan breekpunt.

Dit is 'n bundel wat hom leen tot baie Jungiaanse analises en verwysings na die primordiale. Dit gee ook dikwels 'n blik op die skrynende ervaring - soos “Die blou rok” - waarin 'n verkragtingstoneel so dwingend hanteer word dat dit 'n mens bybly. Die kind se aanneming - en die moeder se opdrag dat sy nie moet skaam wees vir die Here nie - tref soos 'n hamerhou. Dit is waarskynlik De Vries se grootste kwaliteit: die trefhou teen die einde nadat die leser 'n gewelddadige ervaring (armoede, verkragting, geestelike leed) gedistansieerd meemaak.

Izak de Vries is op sy beste as hy 'n streng-konvensionele verhaal vertel. Die bundel word bemark as 'n bydrae tot die postmodernistiese kortverhaal in Afrikaans. Dit is egter al so snuif getrap en beter gedoen deur Koos Prinsloo, Abraham H. de Vries en Johann de Lange in Vreemder as fiksie, dat 'n mens nou al wil sê: pastiche! paste tense!

Dit is net jammer dat De Vries probeer het om op Etienne van Heerden se klassieke teks, “My Kubaan” te antwoord. “Ons Kubaan” val magistraal plat en bewys dat 'n parodiese antwoord 'n misdoen in die skoene van die grotes word as jy nie beter is as jou model nie. Miskien is hier iets van die student wat sy mentor, Van Heerden (onder wie se leiding hy leer skryf het) wou antwoord? 'n Verskuilde huldeblyk?

Die verhaal kon maar gerus uitgeval het.

In die geheel gesien, is dit 'n goeie bundel. Miskien is daar nog te veel van eenselwige toon - maar dit is waarskynlik omdat die skrywer nog te jonk is om verskillende stemme te kan skep.

Of daar moet darem meer geleef word (“Op die lewe” probeer 'n ingewikkelde onderwerp gedistansieerd beskryf; maar die verteller is te onervare) of in “Ons moet vir jou 'n bees slag” raak te self-bewus 'n politieke dokument. Eerder dan “Die mooiste meisie” met sy verhulde implikasies!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]