Monday, March 25, 2013

Chris N. van der Merwe & Hein Viljoen - Alkant olifant (1998)



Chris N. van der Merwe & Hein Viljoen. Alkant olifant. J.L. van Schaik, 1998. ISBN 0 627 023385.

Resensent: Joan Hambidge

Watter idee sal 'n blinde van 'n olifant hê? Seker 'n beperkte idee. Miskien dink een dis 'n muur of 'n pilaar, en 'n ander dis 'n slang.

En met hierdie analogie speel die twee outeurs, kollegas Van der Merwe en Viljoen (met medewerking van Gerda Dullaart en Rien Segers) wat vir die sowel die ernstige leser as die student of gewone leser 'n inleiding, kompendium, vraeboek en tergboek word. Want vra maar enige persoon wat in die literatuurteorie wroet: daar is meer boeke as bome; meer vrae as antwoorde; meer raaisels as oplossings.

So enige navorser wat die toffieboude het om te gaan sit navors en saamstel, moet alleen om sy monnikewerk geloof word. As 'n mens dan boonop 'n relevante boek hiervan kan maak, is dit des te meer lofwaardig.

Die gesprek rondom die Afrikaanse letterkunde is aan't doodloop. Daar verskyn te min studies en te veel artikels in tydskrifte. Ons behoef studies, debat, polemiek en met hierdie studie word die stilte verbreek van net te min studies die afgelope paar jaar. (Ek dink daar was twee verlede jaar.)

Daar word gekyk na die verskille tussen wetenskaplike en nie-wetenskaplike ondersoek; literatuur versus letterkunde; genre-verskille; moderne teorieë in die twintigste eeu.

Kommentaar word gevra in die inleiding en hier is myne. Die studieboek is 'n goeie geheueverfrisser vir hierdie resensent wat eweneens gedink het dat die versoening tussen teorie en praktyk goed gehandhaaf word.

Ofskoon daar 'n goeie stuk van Dullaart opgeneem word oor feminismes sou 'n mens tog in die volgende edisie 'n gender-afdeling wou sien. 

Alkant olifant let op al die komplekse konvensies (en oortredings hiervan) in die leesaksie en 'n magdom teoretiese werke word hierin opgeneem.

Ook word evaluering as 'n aparte afdeling bespreek. Dit is juis dan hier waar 'n mens dikwels die meeste polemiek, onaangenaamheid, twis en verdagmakery vind. Ons onthou almal Mark Behr se onverkwiklike opmerking oor die boordelaars en hul gekonkel, nie waar nie? Terloops in die studie staan daar dit was by die CNA-toekenningsaand toe hy so tekere gegaan het. Dit was egter by 'n M-Net-funksie (p. 189) en toe ek sy naam opsoek in die register, is dit nie daar nie. 'n Meer uitgebreide register, miskien?

J.M. Coetzee se The Master of Petersburg word behandel as 'n roman waarin 'n mens ten beste kan sien hoe verskillende teoretiese aannames tot verskillende lesings en waardeoordele kan lei. Dit is ook 'n pluspunt dat daar buiteom die Afrikaanse letterkunde vir voorbeelde gesoek word, ofskoon daar telkens intens gefokus word op “Droogte” van Jan Rabie. 

Daar is kwalik 'n probleem wat hierdie outeurs nie aanspreek nie. Terwyl 'n mens die boek lees dink jy: vir soveel eeue lees en dink mense al oor boeke en telkens is dit moontlik om 'n nuwe hoek te vind. En ook is dit ironies dat sekere standaarwerke - soos die van die Russiese Formaliste en Praagse Strukturalisme - steeds relevant bly!

Die beste teoretikus is die verkleurmannetjie kan 'n mens sien. Soos Roland Barthes wat telkens saam met die literatuurteorie transformeer en nuwe probleme aanspreek. Bykans elke benadering of beweging kan 'n mens in sy tekste vind: Strukturalisme, die Semiotiek, Marxisme, Psigoanalise en meer nog.

Barthes het ook om die grense tussen teoretiseer en kreatief skryf afgebreek. Die outeurs wys ook hierop. In hulle studie breek hulle ook dikwels ingewikkelde grense af vir die jong student wat nie bekend is met die jongste teorie nie. Of gewoon nie begryp dat die letterkunde altyd die teorie vooruit is nie!

Soos bewys in die voorwoorde in John Barth se Giles goat-boy (1967) (p. 189).  Postmodernisme-in-aksie, as jy wil.

Verskillende metafore is deur die eeue gebruik om die aard van die literatuur voor te stel: die spieël, die lamp, die vaas, die labirint. Enige teoretikus is egter alreeds “besmet” deur die wete dat die literatuur 'n labirint kan wees waarin 'n mens verdwaal; of dat jy nie werklik in staat kan wees om die finale woord te kan spreek nie (Derrida se différance).

Terselfdertyd word die bydraes van die Strukturaliste of New Critics wat 'n mens geleer het om deeglik op die teks te fokus, nie verminder nie.

'n Omstrede uitspraak van J.M. Coetzee dat die Suid-Afrikaanse letterkunde 'n “provincial” letterkunde is wat by herhaling die wiel probeer uitvind word, word ook aangehaal. Is dit waar? Of bewys die huidige publikasielys juis dat die Afrikaanse letterkunde erg gesofistikeerd is?

Die  boek getuig van deeglike en omvangryke navorsing. Moeilike teorie word leesbaar aangebied; sonder om ooit oppervlakkig of banaal te word.

Soos die Indiese legende sê: vir geen blinde van Indostan is dit beskore om alkant van die olifant te ken nie. Maar die outeurs het wel verdomp naby gekom. En die wat dit nie kan insien nie, is besig om die olifant aan sy stert te trek.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]