Saturday, March 9, 2013

Wêreldreis: Stad 8. New York stad van die dood en hergeboorte (reïnkarnasie)



En hier is ek dan vir die herdenking van 9/11 in my hartstad. In Tokio het ek ‘n Pakistaner ontmoet wat ewe snedig meen dat die hele 9/11 op die rekening van die Amerikaners geplaas moet word.

“Dit was hulle wat die vliegtuie in die Torings ingejaag het. “Het jy ooit ‘n lys van die passasiers gesien wat omgekom het,” vra hy grimmig. “Wel, óns het.” En ja, daar wás bomme in die geboue... 

Die dood van JFK, Diana, ander groot gebeure word altyd omgeef deur samesweringsteorieë. Dit maak egter nie die impak van so ‘n ramp of dood ongedaan nie. Dit bly iets wat altyd die bewussyn van die mensdom sal verander. Ek gaan tuis in die Millennium-hotel.

Die Groot appel, die stad-wat-nooit-slaap nie…

Ek spring dadelik weg op ‘n hop on-hop off Downtown New York verby die Empire, Chrysler en die Woolworth-gebou. En natuurlik Ground zero.

© 2011 Redhead Ranting

Daar is vele toeriste wat die pre-museum besoek om hulself te oriënteer rondom die gebeure tien jaar gelede. Die bouwerk aan die nuwe bakens vorder flink en die New Yorkers lyk asof hulle die ramp van hulle afgeskud het. ‘n Ewige vlam brand ter herdenking en teen mure is daar blomme en die name van slagoffers.

Die volgende dag keer ek terug om die volledige verhaal weer op ‘n program te beluister en die onderhoude met mense aan te hoor.

Om die twee groot waterruimtes met foutlose watervalle gebou waar die fondasies van die Tweeling Torings was, is ál die name van die slagoffers in brons afgedruk. Jy moet egter ‘n internet-bespreking maak – wat ongelukkig vol is tot einde November. Ek soek die hoogste gebou en besigtig dit van bo.

Uptown New York het ‘n ander gevoel. Die hop on beweeg verby Central park, die lieflike kerke tot in Harlem en draai dan weer afwaarts. Ek stop by die Guggenheim wat ongelukkig onder rekonstruksie is sodat ‘n mens nie Frank Lloyd Wright se gebou kan op- of afwentel nie. Net die Kandinksy’s is beskikbaar en op die boonste vloer ‘n paar pop kunswerke soos ‘n Andy Warhol-selfportret en ‘n paar Lichtensteins. ‘n Jong kind, ek skat haar vyftien, raak met die verbystap aan ‘n Lichenstein. Pandemonium. Die sekuriteitsbeampte gee die ma ‘n tongloesing. Ek is sélf verontwaardig. Totdat ek buite kom en sien dit is ‘n vertraagde kind.

©  Second Lives Club

Die MoMa het ‘n De Kooning-retrospektief en die asemsnakkende kuns hou my vir ure besig. Elegante New Yorkers bekyk al die fases van die kunstenaar se werk. Die middelperiode is vir my die beste. Die laaste fase is kennelik deur sy siekte, vermoedelik Alzheimers, onklaar, maar steeds goed. Wat die hele Tretchikoff-uitstalling in Kaapstad tot ‘n groter belaglikheid reduseer. 

‘n Mens word deur kundiges begelei met oorfone om die verskillende fases te begryp en hoe hy by herhaling teruggekeer het na dieselfde skildery en daaraan bly verander het.

As ‘n mens iets van ‘n land se kultuur wil begryp, is televisie ‘n moet. Laatnag kyk ek ‘n program wat Bio heet waarin mense hul grusame ervarings bely. Dan is daar ‘n popsielkundige wat celebs se drome verklaar. Ek skaterlag oor die belaglike simboliese analises wat almal glimlaggend vir soetkoek opeet. ‘n Verwringing van Freud wat jou lank bybly. Glip na ‘n kanaal oor die mafia in New York. En dit is, soos Coppola se Godfather-films, ‘n belangrike analise van hierdie sub-kultuur in NY. Vandag is hy ook wynmaker in Kalifornië en sy Merlot is aan te beveel!

Ten spyte van New Yorkers se nurksheid en hul onbeskaamde gebedel vir tips om elke hoek en draai, bly dit ‘n ongelooflike stad. Ek koop drie memento’s: ‘n Zippo met Manhattan daarop afgedruk en twee speelgoedmotors: ‘n geel taxi en ‘n polisiemotor.


Op die laaste dag kuier ek met ‘n vriend wat vir my 'n NYPD-pet persent gee. Ons stap laatnag van kroeg tot kroeg. Om drie laai hy my af by die hotel en stuur ‘n sms: ”Hierdie stad wat nooit slaap nie. ‘n Mite. Alles in Greewich Village is toe.”

Die volgende oggend hoor ek hoe ‘n man ‘n Heineken bestel voor twaalf in die hotel: ”Jammer meneer, geen drank mag voor twaalf op 'n Sondag in hotelle bedien word nie. Dis ‘n regulasie van die stad.”

Ek verlaat die stad met betogers by Wall Street wat betoog teen die finansiële ongerymdhede van die land en die pynlike realiteit van geboue wat onkeerbaar aan’t verval is weens die resessie. Mense het die stad na 9/11 verlaat…

New York, ‘n meditasie

Tydens ‘n slapelose nag in die stad-wat-nooit-slaap
flikker ‘n advertensiebord ‘n beeld van ‘n stappende mannetjie.
Vannag onthou ek die vele mense met roet oor hul gesigte
op die Brooklyn-brug, weg van die gemaal én twee geboue.
Eers die werklike gebeurtenis, dan die vele voorstellings.
Uit verskillende hoeke afgeneem, weergegee en vermenigvuldig.
‘n Vuur bly brand ter herdenking; foto’s teen mure,
blomme, kruise, onderhoude met naasbestaandes, hou
die herinnering lewend:  pyn is ‘n slaapwandelaar
waarvoor daar geen kuur bestaan, toe of nou.
‘n Polisiepet, een paar skoene en ‘n speelding
uitgestal in ‘n museum. Net die simboliek van skoene
maak sin: om aan te stap, beweeg, woordeloos te vlug
van hierdie sinnelose daad met geen beskerming
op daardie dag, genaamd 9/11, toe hierdie stad
vir ewig en altyd verklaar word tot ongeneesbare insomniak. 


New York as gedig

Akatalektiese stad,
jy is ‘n aksie-gedig,
veelstemmig met Greenwich Village
wat resoneer met Harlem,
‘n Hudson wat terugpraat met die East.
Stad van allusies en illusies,
jy laat jou nie maklik skandeer
óf verstaan nie. Op Lexington Avenue
begryp ek iets van jou leksikale veelheid:
in Central park staan ek vol onsekerhede
oor hoé om jou in ‘n vers op te som. 
Skuilplek vir haweloses en magnate: Donald Trump
hou die blinkkant bo nes die Rockefeller met wapperende vlae.
Die World Trade tans herbou; ‘n aanval so getroef.
Maar jy val my telkens in die rede,
nes ek dink ek het jou onder die buigende knie.
Grimmig weet ek jy begryp Aposiopesis of ‘n weer-begin
as digterlike handgreep. Hierdie is my apostroof,
my groet aan jou: stad wat Auden tydelik huisves,
die grote Ginsberg se fantasieë versier
en Billy Collins laat kekkel en skater by kroegvoorlesings.
Vanaf die Brooklyn-brug kyk ek terug na jou:
ek neem afskeid vir ‘n vyfde, maar nie laaste keer.
Hartstad, dwingende stad, ingewikkelde stad,
my eerste elegieë het hier ontspruit;
ek sing vanaand die Westside-Blues.


Bronne:
9/11 For A Brief Moment, We Were All Just Americans | Redhead Ranting

John Snelling. 1990. The Elements of Buddhism. Massachusetts: Element.