Friday, March 15, 2013

Louis Esterhuizen - Opslagsomer (2001)



Louis Esterhuizen. Opslagsomer. Human & Rousseau, 2001. ISBN 0 7981 4138 7.

Resensent: Joan Hambidge 

In hierdie bundel skryf Louis Esterhuizen meer toeganklike belydenisverse as in sy vorige verse wat swaargedra het aan die kriptiek. Dit is 'n bundel wat hoofsaaklik handel oor die verbygegane verhouding en die viering van 'n nuwe, bykans onverwagse liefde.

Dit is dus 'n bundel waarin die Janusgesig van die liefde weergegee word: die verlies en die wins daarvan. Enersyds word die ou geliefde se gesig gesien as 'n spieël waarin hy homself kon sien; andersyds is die nuwe geliefde 'n totale ekstase van liggaam en gees.

Om oor die liefde te dig, en meer spesifiek die lyflike liefde, hou altyd die gevaar van banalisering in. Dit was onder meer die kritiek wat ingebring is teen Johann de Lange se Nagsweet. Daar is dus 'n paar verse wat vir hierdie leser as te intiem oorgekom het. Nie intiem in die morele sin nie, maar intiem in die sin dat dit nog te na aan die ervaring staan en nie werklik beeldend verwoord is nie.

Hierdie leser was blosend by die te intieme "Aardbewerkings" (p. 58) en "Feesmaal" (p. 56. Hierdie en 'n paar ander is waarskynlik net vir die geliefde se oog bedoel?

Uitstaande gedigte is:
"Berusting" (p. 13)
"Ontruiming" (p. 16)
"By die wegdraai" (p. 19)
"Party vroue is klein, 'n houthuisie"(p. 34)
"Die opmaak van 'n bed" (p. 37)
'Verlange is eintlik maar net 'n eenkantkas" (p. 40)

"Verlange is maar net 'n eenkantkas" (p. 40) is een van die uitstaande verse in hierdie bundel.

Die bundel kan ook as 'n oorgangsbundel gesien word. Daar is vele verse wat 'n individuasieproses aandui. Waarskynlik hierom die gelate "Somtotaal" (p. 81). Die ouer geliefde is aantrekliker juis omdat sy deur pynlike ervarings beweeg het.

Dit moet miskien vermeld word dat die digbundel waarskynlik die aakligste ontwerp – gepleeg deur Annelize van Rooyen – het wat ons in jare moes aanskou het.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]