Wednesday, March 27, 2013

Karin Cronjé - Vir 'n pers huis (1998)



Karin Cronjé. Vir 'n pers huis. Human & Rousseau, 1998. ISBN 0 7981 3878.

Resensent: Joan Hambidge

Vir 'n pers huis – deur Karin Cronjé – is meer as 'n konvensionele roman. Dit is eintlik 'n individuasieverslag van 'n vrou wat verlaat word deur haar man en skielik gekonfronteer word met die feit dat sy altyd deur hom moes leef en waarneem.

Aanvanklik moet die man, die skrywer, haar verhaal goedkeur, maar soos hulle verhouding al hoe meer verbrokkel, besef sy dat haar krag in haar eiewaarde en kreatiwiteit opgesluit is. Sy ontmoet ook 'n maestro.

Dit is dan ook 'n teks wat verskillende psigoanalitiese interpretasies ontlok. Die huis in Freudiaanse terme is 'n vergestalting van die self; die maestro (meester) is die 'magician' of towenaar in die Tarot. Daardie kaart wat spesifiek gekoppel word aan 'n transformasieproses en ook vir kreatiwiteit staan.

Dit is 'n ontsettende eerlike en weerlose teks. Dit herinner aan die wrang-sardoniese konfessie van Erica Jong (Fear of flying) en Marita van der Vyver (Griet skryf 'n sprokie). Dit is veel meer getransformeer as Rachelle Greeff se Al die windrigtings van my wêreld wat halfpad té sterk op 'n blote numerasie van die werklikheid steun.

Die leser word gekonfronteer - soos dikwels dan ook feministiese tekste gebeur - met 'n openhartigheid. Daar word geskryf oor masturbasie, menstruasie, oor 'n man wat nie meer wil vat nie, oor gewigsprobleme en ander sake van die lyf. Kortom, dit wil opsetlik die mooi, fraaie blik van die SARIE-agterblad aan die kaak stel deur juis die leser te neem na die ruimte van ontnugtering. In hierdie verband is die onanistiese moment wat tot 'n skildery van die self geteken word 'n markante voorbeeld.

Nie om dowe neute nie word daar begin  met 'n resep vir “Spog-wortelkoek”. Maar daar is geen resep vir die hantering van eensaamheid en verwerping nie. 'n Poging tot 'n nuwe flirtasie (is dit werklikheid of fantasie, wonder die leser saam met die eggenoot?) word bederf deur menstruasie.

Die teks is geskryf met die vaart so kenmerkend aan alle individuasie-tekste. (Hierom, waarskynlik word die teks aan haarself opgedra.) Dit vra om saam met Clarissa Pinkola Estés se wonderbaarlike Women who run with the wolves gelees te word.

Die boek is in 'n liriese toonaard geskryf en 'n mens ervaar die pyn van afwysing èn die innerlike transformasie van die hoofkarakter. Ook is die Engelse passasies tersaaklik in hierdie teks omdat dit afstand skep tussen die intense belewenis en die verdraaiing daarvan.

Ook die vriendskap met Johannatjie, 'n mede-skrywer, is relevant vir die begryp van die vrou se gemoed. Háár agterbaksheid is ook 'n rede vir die vrou se verdere indelf in haar self.

Dit is 'n pynlike analise van die wete dat skryf 'n byproduk van die lewe is, maar ook 'n terselfdertyd 'n ontvlugting word in tye van nood en verdriet.

Dit is 'n roman wat 'n mens op 'n realistiese vlak as 'n blote storie kan lees of op 'n transformasie/spirituele vlak. Die hoofkarakter word in Tarot-terme met die maan verbind, dit wil sê, die kaart van illusies en valse liefde. Ten slotte is daar wel bevryding. En heling.

En soos dikwels met individuasie-tekste die geval is: die begin is die einde; die einde die begin.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]