Wednesday, March 27, 2013

Rayda Jacobs - The slave book - a novel (1998)



Rayda Jacobs. The slave book - a novel. Kwela, 1998. ISBN 0 7957 0078 4.

Resensent: Joan Hambidge

Rayda Jacobs se eerste boek was The middle children (1994). Haar tweede werk, 'n roman, Eyes of the sky (1996), is bekroon met die gesogte Herman Charles Bosman-prys vir Engelse letterkunde. Na 'n Kanadese verblyf van 27 jaar het die skryfster nou onlangs teruggekeer en The slave book het sopas by Kwela uitgewers verskyn.

The slave book word beskryf as 'n roman, ofskoon die gegewe sterk steun op die leser se historiese kennis van rassevooroordeel in hierdie land. In Februarie 1832 bie Andries de Villiers - alreeds 'n stoere naam - op Sanagora van Java, 'n slaaf.

De Villiers besef die slaaf is 'n moeilikheidmaker want om sy enkels is daar vars kettingmerke. Op die koop toe skaf hy ook sy stiefdogter met haar groen oë aan.

Die roman lewer kommentaar op die verskillende tradisies, kulture en gelowe van die tyd en die implisiete spanninge wat só 'n aankoop tot gevolg het.

Die roman getuig van deeglike historiese navorsing en die verskilende hoofstukke word ook voorafgegaan deur relevante momente uit die geskiedenis wat dan die fiktiewe gegewens besonder goed belig. Die uittreksels vorm dus dan die “backdrop” waarteen die daramtiese gegewe gestitueer word.

Slawe is verklaar tot die Ander; tot dit wat on-mens kan word in Lacan se terme. Daarom was dit vir die mense uit die laat negentiende eeu so 'n vanselfsprekende manier van optrede. Deur hierdie roman te skryf, gee Rayda Jacobs as't ware 'n stem aan die stilgemaaktes. Daar is selfs 'n brokkie waaruit sy uit 'n slaaf se afluistering aanhaal. Al word jy deur die wette stilgemaak, het jy steeds oë en ore, is die boodskap van hierdie roman.

“...he not having any slaves had not once inquired about it...my master replied that although he had not any slaves, he must nevertheless stand up for his country, further saying that he would shoot the first Commissioner, Englishman, or landdrost who should come to his place to make the slaves free...   (overheard by slave, name unknown, in 1830s) (p. 128).

Die roman begin nogal traag, maar dit kry hier teen 'n derde weg 'n absolute vaart. Die opstand van die slaaf - voorafgegaan deur 'n reeks vernederings, word goed vertel. Ook die etlike kultuur-historiese beskrywings maak die roman hoogs leesbaar. In welke mate slawe besittings was word onder meer geïllustreer deur 'n slavin se begeerte tot 'n aborsie wat ondermyn word. Sy bly die besitting van die boer en daarom is 'n ongebore kind ook syne.

'n Mens word onder meer presies vertel hoe die “azeemaat” funksioneer: die klein stukkie papier waarop 'n Arabiese inskripsie staan ten einde sigself te beskerm. Of die betekenis van 'n “ratiep” : 'n spirituele opvoering met messe en swaarde. Die boek maak 'n ryk skat oop vir die leser; veral ten opsigte van die Moeslim-kultuur.

Jacobs gebruik egter die historiese en kulturele verwysings sonder dat dit ooit verhaalgang belemmer. Dit is nog altyd een van my besware gewees teen byvoorbeeld die romans van Salman Rushdie: die leser moet eers soveel agtergrondskennis opdoen, alvorens die narrasie kan begin. En dan verloor 'n mens dan ook die draad.

The slave book is van 'n handige glossarium voorsien. Die slawegeskiedenis in Suid-Afrika is 'n baie interessante èn hoogs tersaaklike deel van ons belewenis. Die roman lewer kommentaar op waarom dit ons so lank geneem het om ons te bevry van slawerny. Ook wys dit op die belangrikste problematiek van hierdie land: dat verskillende kulture/gelowe langs mekaar bestaan sonder dat daar respek òf wedersydse kennis is van mekaar se manier-van-doen.

Dit is dan menslike drama geplaas teen die “back-drop” van die geskiedenis. Rayda Jacobs is 'n skrywer om dop te hou en dit is nog 'n roman waarmee Kwela uitgewers 'n belangrike bydrae maak.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]