Thursday, March 28, 2013

Kelwyn Sole - Mirror and water gazing (2001)



Kelwyn Sole. Mirror and water gazing. Gecko Poetry, 2001. ISBN 0 86980 996 2.

Resensent: Joan Hambidge

Kelwyn Sole se bundel Mirror and water gazing gebruik die bekende motto van Archibald MacLeish:

The gull's image and the gull
Meet upon the water.

Dieselfde spanning loop dwarsdeur hierdie bundel waarin die digter stelling inneem teen die ooglopend alledaagse ervaring waaronder 'n pynlike of opstandige gevoel bruis. Die vrou wat deur die supermark stap, se eggenoot volg haar met 'n “basketfull of umbrages”(p. 22).

'n Mens sou Kelwyn Sole tereg as 'struggle' digter kon tipeer, omndat hy standpunt inneem teen middelmatigheid. Daar is politiek-bewuste gedigte in hierdie bundel, maar vir my persoonlik is die digter op sy oortuigendste wanneer hy oor die algemeen-menslike of universele tematiek dig.

“Three weary portraits” - veral “Shopping for love” - is voorbeelde van 'n skerpsinnige blik. In die slotvers, 'n treffende lykdig, “An index of her days”, word een van die mees skreiende portrette van 'n jong meisie se weerloosheid en uiteindelike dood gegee. Die gedig word 'n hartverskeurende analise van 'n gewelddadige samelewing en haar onvermoë om dit die hoof te bied:

Susan, forgive me
this intrusion into
your considered surrender -

trying to sketch the thin
contours of a life;
trying to keep
your small grave clean (p. 27).

Ook 'n vers soos “The betrayal of narrative” (p. 122) gee 'n beeld van Sole op sy beste: hy gebruik min woorde, maar agter die woorde skuil 'n pyn en onnoembare verdriet wat die leser aan die keel gryp. Ook is die digter voortdurend bewus van die beperktheid van die digterskap: dat dit niks kan regstel nie:

Here my poem trips on stone.
My poem must stop short.
It has a swollen ankle. (p. 122)

In “The land” (p. 79) kry 'n mens 'n wrang blik op die nuwe-Suid-Afrika: 'n alleenspraak van 'n mens wat 'n niks is nie, omdat hy werklos is. Die beloftes van die nuwe regering het nie gematerialiseer nie:

“that thing that they call unemployed”.

Die digter klim dikwels onder iemand se vel in hy gee 'n blik op daardie mens se bestaan wat jou skok. Die woorde is min, maar trefseker en selfs in die langer gedigte met hul praatstyl, word die leser getref deur die skerp beelding.

“Africa my postmodernist beginning” (p. 49) is miskien minder suksesvol vir my smaak. Daar is altyd iets fasiels aan hierdie soort eksperimentele gedig of in die langer aanvallende verse.

'n Digter wat 'n vers soos “The dream of the blind child” (p. 13) of die reeds genoemde bestes kon skep, begryp MacLeish se dictum terdeë.

Ek het al die voorreg gehad om hierdie digter te hoor voorlees. Hy lees sy gedigte met wrangheid en by die lees was dit 'n bonus om sy stem te hoor deurslaan.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]