Monday, March 25, 2013

Wessel Pretorius - die seep kraak in die gastekamer (1999)



Wessel Pretorius. die seep kraak in die gastekamer. Bent Uitgewers, 1999. ISBN 0 95841

Resensent: Joan Hambidge

die seep kraak in die gastekamer is 'n welkome bundel van Wessel Pretorius. Orals op die internet is daar digters te lese (soos onder meer op Praag se webblad of op Litnet) wat waarskynlik nie in boekvorm gepubliseer sal kan word nie weens die besuinigings van ons uitgewershuise.

Wessel Pretorius wat 'n handvol gawe verse geskryf het en veral met Laatnagvrese en ander verse (1979) 'n merk gemaak het se jongste bundel is uitgegee deur die onbekende Bent uitgewers.

Nou is dit nodig om miskien iets te skryf oor die probleme rondom self-publikasie. In die sewentiger- en tagtigerjare het daar waarskynlik te veel bundels verskyn, maar daar was ten minste “hekwagters”. Die self-publikasie skep die opsigtelike probleem – minste vir hierdie kritikus – van 'n gebrek aan kritiek en oordeel. Net soos 'n webblad van 'n onbekende gedigte plaas wat nie op peil is nie; soos die geval is met met die jongste tydskrif op die internet.

Miskien is dit omdat Wessel Pretorius al reeds gepubliseer het dat vele van die klitsgrassies van die huishoudelike publikasie ontglip word. (Behalwe vir die sketse). die seep kraak in die gastekamer ('n ironiese titel wat daarop dui dat die digter hom bevind in die gastekamer van die huis der poësie?) bevat sogenaamde praatverse. Dit is gedigte wat eenvoudig in aanbod is en op 'n aweregse manier aanmekaar gesit is. Loslittig dus met die eerste oogopslag.

Die gevaar van die soort digkuns is dat dikwels vassteek in die gewone segging (soos in die openingsvers “'n Droombestaan”), maar as dit slaag, word die leser getref tussen die oë. Pretorius het nog altyd hom uitgelaat oor die funksie van die digkuns en in hierdie bundel vind ons ook blyke hiervan.

Daar is die vrees vir die bedreigende wêreld en digterlik gesproke, is hierdie praatvers in opstand teen die Opperman-voorskrifte (“Vir Phil”, p. 9). In 'n lykdig “Vir Louis (tel nr. 012 -34-1111) word die antwoordsmasjien ingespan om 'n nuwe metaforiese gegewe te skep vir die soeke na oorblyfsels van 'n geliefde vriend. Want dikwels na die dood, is die stem nog iewers op 'n band beskikbaar. Nou kan die vriend nie terugbel nie en die digter wil weet: kort jy nog 'n konneksie?

Ten spyte dus van die vele ekstensies van die self, is die dood steeds die groot stilmaker.

Ook uitstaande is “Die Brakpanman” (p. 27) waar Pretorius sy vernuf wys:

Country & Western dreun oor die panne
want Danny is dood. hy het sy fighting clothes eenkeer
te veel aangetrek. Hy is steeds in die atmosfeer.
Steeds loop sy meisies met hulle voete in die dou.

(....)

“2000 sterre vir 'n techno-junkie” (p. 36) gee 'n siniese blik op die digter se ervaring van homself. Hierdie skerp blik op die self is waarin Pretorius uitmunt.

En die titel? Die seep kraak in die gastekamer (soos die titel gedig lui) omdat die gaste nie meer opdaag nie. Hulle is dood en die digter wag tevergeefs op hul besoek. Net soos sy tydgenootlike digters (Wilhelm Knobel, Freda Plekker, Barnard Gilliland, Casper Schmidt, Pieter Claassens) vergete is vir 'n nuwe geslag lesers en hierom besing word deur die lewende digter, Wessel Pretorius.

Ook lekker is die beat-send ups (“In 1964 het jy uit die bloute”) waarin die Kerouac-generasie se manier van skryf nageboots word. En sterk die pynlike “Ma, die soet reuk van jou komende dood” (p. 83).

Mooi gedigte is hier te vinde, ja, maar 'n mens tog die ferm redakteurshand wat klein foutjies kon uitstryk. Soos Pessoa i.p.v. Pesso.

Wat vir hierdie leser opvallend was, is hoe “ongekontamineer” die digter steeds sy soort gedig bly skryf het ten spte van  die 80er en 90er jare se meer intertekstuele verse. Tog is hier ook 'n bewuswees van die belang van die skryfdaad wat dikwels ironies betrag word. Louter plesier vir diegene wat hou van die “oop” soort gedig.

Bestel die bundel direk van Bent uitgewers Posbus 11112 Queenswood 0121.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]