Vincent Oliphant. Die
sagte vlees. Tafelberg Uitgewers, 1998. ISBN 0 624 03725 8.
Resensent: Joan
Hambidge
Vincent Oliphant het in 1983 gedebuteer met 'n bundel Bloed vloei in stilte. Dit was 'n bundel
wat destyds op my 'n indruk gelaat het vanweë die vermoë om die melancholiese
toonaard vas te vang. En nou, vyftien jaar later in hierdie poëtiese droogte
met die uitgewershuise as 'n afwysende Landbank, verskyn 'n tweede bundel: Die sagte vlees.
'n Goeie gedig, so meen die uwe, werk met die proses van
gelyktydigheid. Dit het die vermoë om die idee waarmee die digter werk
beeldend/ikonies voor te stel. Ook het 'n vaardige digter daarby 'n kapasiteit
om of herhalend te werk; of die gedig vas te vang net voordat dit oor die rand
stort. Hierom is die poësie van Elizabeth Bishop (“The art of losing isn't hard
to master”) so oortuigend.
Die digter skryf oor 'n wye reeks onderwerpe: liefde,
dood, smart, geboorte, politieke ongeregtigheid, herinnering. Oliphant is dus
streng gesproke nie 'n “struggle”-digter nie. Daar is eerder 'n versugting dat
ons mens en mede-mens vir mekaar moet wees. Hierom dan telkens 'n blik van
begrip vir ander se leed; die wete dat jyself ook nie sonder skuld staan nie.
“die slag” (p. 15) werk met die traumatiese herinnering
van 'n man wat in 'n rystoel vasgevang is. Sy herinnering word gelyk gestel met
die nou en dit wat daardie oomblik – wat hy nooit sal vergeet nie – aktiveer.
In “koerantberigte” (p. 14) word die weerloosheid van die mens verbeeld, en,
dat ons net in deernis van ons eie pyn kan verlos word.
“by die geboorte van 'n dogter” (p. 10) beskryf die
vader se matelose vreugde by die geboorte van 'n kind wat hóm bestendig. In die bedrewe distigon “killing fields” (p.
28) word die waansin en paranoïa van hierdie land vasgevang. Trouens, bykans in
elke politieke of sosiale gedig word die weemoed van die enkeling beskryf.
In die hartverskeurende “'n polisieman bieg” - wat bid
om die amnestie van onthou - sien 'n mens werklik hoé diep hierdie digter se
erbarming is; selfs vir die wreedaard.
die tong wat ek uitgesny het
het die name van geliefdes laat sing
die knieë wat ek verbrysel het
was die sitplek van 'n opgewonde kind
Die gedigte getuig van geweldige wysheid en insig in die
menslike kondisie. Daar is werklik sprake van éénwording met die onderwerp -
soos byvoorbeeld in die gedig “'n klein beriggie” (p. 34). 'n Man verloor
alles: sy huis, sy status, sy vrou en in 'n koerantberiggie word die
selfmoordpoging vermeld. Die digter egter, wil die ware feite onthul. Dat daar
vir alles wat mense gebeur, 'n rede is. Dat die mens uiteindelik méér is as 'n
statistiek of kil joernalistieke beriggewing.
'n Mens is deurentyd bewus van 'n gevoelige blik op
alles. Die digter verhul homself snags tussen “gevoelige lakens” want hy weet
dat elke dag nog 'n waarneming sal opeis.
Aan die debietkant: hier en daar is 'n gedig miskien nie
onderwerp aan strenger vormtug nie en ek meen dat die digter se voorliefde vir
die ouer woorde (soos “droesem”) miskien nadelig opklink?
Die bundel het my weer teruggeneem na Elizabeth Bishop
se “One art” en die melancholiese toonaard van die bundel bly mens by.
Die bundeltitel aktiveer “wat sag is vergaan” (Goosen/De
Lange) en Lucebert se bekende reël “Alles van waarde is weerloos”.
verliefdes
kyk hoe leun hulle teen mekaar
hulle glo hulle is raar
en besef nie dis 'n eeue-oue verhaal
daar is 'n sekerheid wat hulle uitstraal
asof 'n magiese krag hulle omgewe
'n mag wat vir alles sorg
wat hierdie liefde sal waarborg
vir die res van hulle lewe ongeag
hulle glo dit is 'n onbreekbare band wat hulle bind
en weet nie dis iets wat fyner is
en verwikkelder
as rag
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]