Saturday, March 9, 2013

Reisjoernaal | Wêreld - Stad 6. Chicago, stad van dhutanga oftewel harde praktyk


Marilyn Monroe trotseer die Stad van Wind

Chicago is een van die VSA se mooiste stede, die stad van Wind. Vernoem na wilde knoffel of shikaakwa, die ou Indiaanse woord daarvoor. Ook genoem Modderstad. Dit is koud in hier (14 grade) en dit reën aan en af. Dis die stad van Saul Bellow, die groot romanskrywer, en van Oprah Winfrey. Op elke bustoer duik haar naam op. Hier het sy tuis gegaan en omdat sy hier pizza geëet het, is die taverne oornag beroemd. (Diep sug). In 1871 was daar ‘n groot vuur wat die stad bykans verwoes het, maar deur harde praktyk is dit herbou. In 1885 is die eerste skyscraper gebou. Hier is selfs ‘n Mies van der Rohe-straat.

Ou geboue word bewaar en waar ‘n nuwe gebou opgerig word, word die ou fasade oor die nuwe gebou geplaas sodat die outensiteit van die stad nie verlore gaan nie.

Michigan-meer is 900 voet diep en daar is volgens die gids etlike oorlogvliegtuie geberg in die buik van die meer. En omdat dit nie soutwater bevat nie, bly die vliegtuie goed bewaar.

Op Michigan-laan pryk ‘n reusagtige beeld van Marilyn Monroe gemodelleer op die beroemde pose uit The seven year itch.

Die volgende dag is daar ‘n bootvaart deur die stad. Dis ysig koud en ons sien die verskillende aanskoulike geboue en hoe Mies van der Rohe gereageer het op hierdie stad.

Chicago, ‘n meditasie

Godin Ceres staan hier op ‘n gebou,
‘n Handelsgebou nogal,
en Lake Point Tower ‘n huldeblyk
van Mies van der Rohe se studente
aan die meester en op 333 N. Wabash
wys Onse Mies hoe mens dit nou eintlik doen.
This is the American saga writ large.
Vertrou geen stad sonder ‘n ferriswiel,
‘n wiel vir geluk, selfs te vinde in die tarot.
Chicago verwys so na Wenen en Tokio.
Maar geld praat deesdae harder as geluk:
Donald Trump troon met sy toring,
maak van alle wandel handel…
Less is more, meen onse Mies,
in ‘n stad van oorvloed, oordaad
in die Tweede Stad, stad van oorwinning
na verwoestende aanslae en vuur:
Godin Ceres vervang deur die feniks.



Bron:

John Snelling. 1990. The Elements of Buddhism. Massachusetts: Element.