Monday, March 25, 2013

Anne Landsman - The devil's chimney (1998)



Anne Landsman. The devil's chimney. Jonathan Ball, 1998. ISBN 1 864842 062 0.

Resensent: Joan Hambidge

Anne Landsman het Suid-Afrika in 1981 verlaat en haarself gevestig in New York as 'n gevestigde draaiboekskryfster. The devil's chimney is haar debuutroman en dit word bemark met die uitspraak van die gesiene skrywer en literator en J.M. Coetzee as wesende die eerste boek waarin daar met 'n magies-realistiese lens na die Suid-Afrikaanse landskap gekyk word.

Die alkoholiese Connie vertel die verhaal van twee vroue: een aan die begin en een aan die einde van die eeu. Die “back-drop”: die magiese, getoorde Kango-grotte. Die intrige: Twee vroue se verwerking van seksualiteit en politiek. Verlies van onskuld en 'n kind. Passie. Hartstog. Verydeling. Die effek: twee verhaallyne wat inmekaar loop en kommentaar lewer op die Suid-Afrikaanse landskap.

Dit is tans hoogmode om te verwys na “Writing South Africa” en die spesifieke aard van die Suid-Afrikaanse landskap met sy folkore, sy politiek, sy waansin en manier-van-doen word op 'n evokatiewe manier oorgedra in hierdie roman. Die afwisseling tussen fantasie en werklikheid, droom en realiteit word ook goed hanteer.

Magies-realisme is 'n term wat die versoening van die bo-natuurlike en die harde werklikheid benoem. Nou is dit egter interessant om daarop te let dat Suid-Amerikaanse skrywers nie hierdie term aanvaar nie. Vir hulle is die skeidslyne tussen werklikheid en fiksie arbitrêr en kontak met die bo-werklike dimensies 'n gegewe. Gabriel García Márquez se 100 years of solitude (1967) is so 'n soort roman.

In die mate waarin The devil's chimney dan die verskillende vlakke bymekaar uitbring, maak hiervan 'n magies-realistiese roman. Veral die beskrwying van 'n vrou se waansin na die geboorte en diefstal van haar kind, is werklik skitterend beskryf. Rondom die kind se identiteit word die hele intrige van politiek en bygeloof gekoppel.

Vir my is die moontlike verklaring vir die kind se identiteit later in die roman 'n swak punt in die roman: dit sou beter gewerk het as dit 'n oop plek in die roman gebly het; al is dit net 'n tentatiewe verklaring wat die verteller aanbied.

Soms kos dit kophou by die leser omdat daar vinnig van vlakke verwissel word. Maar die verskillende afdelings word met 'n soort veertjie uitmekaar gehou.

Landsman is werklik 'n gebore storieverteller en haar vermoë om die binnespraak van karakters getrou weer te gee, is werklik loflik. In welke mate kan 'n mens ooit iets namens iemand anders voorstel of vertel? word 'n basiese gegwe in hierdie roman wat ook die swart folklore van die tokkelossie en ander bygelowe aktiveer.

Die politieke onreg aan die vorige eeu word in jukstaposisie geplaas met die Waarheids- en Versoeningskommissie van die hede. Insgelyks word daar baie goeie beskrywings gegee van die rykdom van die volstruisboere aan einde van die vorige eeu en hul obsessie met die grond. Ook die ineenstoring van  die mark en die uitwerking hiervan op mense se psiges is goed vertel.

Ook so die aanval van volstruise (waarheid of fantasie?) op 'n man. Die beste momente in The devil's chimney is wanneer Landsman die werklike en die fantasmagoriese só ineenvleg dat dit die leser meesleur.

Aanvanklik was hierdie leser skepties oor die loftuitinge en akkolades, maar halfpad-deur die roman was die siening 'n akkoord. The devil's chimney het bepaald 'n kreatiewe energie wat 'n mens nie kan miskyk nie.

P.S.

Daar verskyn ook 'n woordverklaring agterin: “miggie” moet egter wees “muggie”! In 'n Afrikaanse sin mis ons die dubbele negatief.  Kan Engelse uitgewers nie om vadersnaam 'n Afrikaanse leser vra om hierdie soort foute uit te skakel nie? Ons weet Afrikaanse woorde verleen 'n soort outensiteit aan 'n Engesle roman waarin die Afrikaner uitgebeeld word, maar doen dit dan reg!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]