Dylan Thomas
Dylan Thomas. 20 Gedigte. (Vertaal en geillustreer deur Ben Dekker). Bitkop Publikasies, 2000. ISBN: 0 620 23510 1.
Resensent: Joan Hambidge
Ons is in Afrikaans verwen met Uys Krige se voortreflike
vertalings van Spaanse en Portuguese gedigte. Vertalers is verraaiers, lui die
afgesaagde gesegde. Maar sonder vertalings sou ons nooit Mandelstam kon lees
nie; of Yevtushenko; of Neruda.
Het dit enigsins sin om 'n bekende taal soos Vlaams of
Engels te vertaal na Afrikaans? Is Herman de Coninck nie toeganklik genoeg nie?
Behoef ons Dylan Thomas in Afrikaans?
Toe hierdie leser weer gaan kyk het na Dylan Thomas se
kragtig, bykans aggressiewe gedigte, het die oog ook geval op die Amerikaanse
digter, Theodore Roethke se werk. Hierdie Amerikaner had onder meer 'n invloed
op Ernst van Heerden. Hoe sal 'n mens so 'n brose stem vertaal?
Dit sit nie in algar se broek om 'n vers te vertaal nie.
Johann de Lange is 'n voortreflike
poësie-vertaler en in vertalings gebeur die onvermydelike: die gedigte word
iets anders. Dis soos 'n telefoontjie wat ons as kinders gespeel het. Die
boodskap word met elke oordrag verander of gewoon verkeerd gehoor.
As 'n mens Ben Dekker se gedigte vergelyk met die
oorspronklike het daar baie verdraaiings plaasgevind. (Terloops, 'n mens moet
jou leser se taak vergemaklik deur die oorspronklike titels te verskaf.)
As 'n mens die gedigte beoordeel net as Afrikaanse
tekste is beslis iets bekoorliks in hierdie versameling van Bitkop publikasies.
Dis die soort boek wat jou amper dwing om al jou akdemiese vooroordele oor
vertalings te laat vaar en dit net as
gedigte te geniet. Dan is 'n mens nogal verras deur die energie van die
gedigte.
Dylan Thomas se gedigte het veral op die klankeffekte
gefunksioneer. Hy het die gereis en die verse voorgedra. Ook hierdie gedigte
ontgin hierdie effekte. So klink 'n gedeelte van Onder die dooies van die rooidag inval was 'n man van 'n honderd:
Die hemelse ambulans getrek deur 'n wond
Groeiend wag vir die graaf se klank op die kas.
O hou sy beendere uit die gewone wa,
Die oggend vlieg op die vleuels van sy jare
En 'n honderd ooievaars sit op die son se regterhand.
(p. 37).
Insgelyks skitterend is Die hand wat geteken het:
Die hand wat geteken het, verslaan 'n stad;
Vyf vorstelike vingers belas die asem,
Verdubbel die bol dooies, het 'n land halveer;
Die vyf vorste het 'n koning doodgemaak...
(p. 20).
Kom, bestel onverwyld hierdie boek van Bitkop publikasies,
Postnet X 5311 Exec Suite Umtata 5100.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]