Friday, March 15, 2013

Wessel Pretorius - Jy kan skoenlappers sien aankom (2001)



Wessel Pretorius. Jy kan skoenlappers sien aankom. Bent Uitgewers, 2001. ISBN: 0 9584283 1 X.

Resensent: Joan Hambidge

'n Digter moet op die regte tyd publiseer en die digkuns van Wessel Pretorius het baie goed gewerk in die sewentigerjare. Dit was die tydperk van die amorfe vers en van die digter se beste werk het behoue gebly in Poskaarte (Foster & Viljoen).

Die digter het in 1970 gedebuteer met Maat van die onbekende; hierop volg Woorde vir 'n windharp (1974); Nuwe wêreld (1974); Laatnagvrese en ander verse (1979); Ruimte-ark-kolonie (1980); Katarak (1989) en nou onlangs, Die seep kraak in die gastekamer
 (1999).

Die sogenaamde praatvers is eie aan Wessel Pretorius se digkuns. Dis 'n loslittige vers wat dikwels met assosiasies, los verbintenisse en aweregse beelde werk. Die innerlike samehang van die meer konvensionele vers werk dus op 'n sekondêre vlak eerder as op die primêre vlak soos by die streng vormbeheerde gedig. Pretorius het pragtige verse gelewer en op sy beste is hy die skepper van onthoubare verse soos "want elke digter" en interessante spotverse oor die rol van die aangesprokene("vir die waarskynlike leser, en mag jy 'n meisie wees:") in sy gedigte. Hy was dus 'n postmodernis lank voordat dit mode was!

Soos met die vorige bundel, is die jongste ook uitgegee by 'n alternatiewe uitgewer, naamlik Bent uitgewers. 'n Mens is dankbaar vir die harde werk van hierdie uitgewers en bewus van die opoffering en finansiële waagstuk wat aangegaan is. Dit verskoon egter nie die slordige en oorhaastige redigeringswerk wat 'n mens nie net voor die deur van die digter kan plaas nie.

En wanneer 'n resensent haar hieroor uitlaat, is die vloedgolf van reaksie dat die opoffering en lyding van die digter ook verreken moet word. Of 'n digter boervrou, tango-danseres of selfuitgewer speel: uiteindelik is dit net die gedig-op-papier wat tel en ander buite-verskonings mag nie die oordeel versag nie.

Dit is nie 'n uitstaande bundel nie en Pretorius herhaal hier sy ou tegnieke. Daar het geen vernuwing of iets nuuts bygekom nie.

Die gedigte oor die vader bly vassteek in die anekdotiese en word nooit pakkend nie.  Ook die vers oor ontslape mede-digters word niks meer as 'n "onthou jy" nie. Dikwels is die idee daar, maar dit het nog nie 'n gedig geword nie.

'n Werklike goeie vers is "Verbode plesier".  

Waarskynlik bewys die bundel dat 'n stylaanslag maar 'n rakleeftyd het. Net 'n klein uitgewer sou kans sien vir hierdie bundel.

Bent Uitgewers Posbus 11112 Queenswood 0121.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]