Thursday, March 21, 2013

Iris Murdoch - Something special (2000)



Iris Murdoch. Something special. Random House, 2000. ISBN 0 701 16918 4.

Resensent: Joan Hambidge

Vra my wie is my mees geliefde skryfsters in Engeland en ek sal sonder skroom die naam Iris Murdoch noem. En A.S. Byatt. Hulle intellektuele hantering van menslike temas spreek my aan en Murdoch se The sea, the sea (waarvoor sy die gesogte Booker prys ontvang het)bly een van die romans waarna die uwe bly terugkeer.

Something special is haar enigste kortverhaal wat slegs  vantevore, in 1950, in 'n bloemlesing en in Japan gepubliseer is. Murdoch was romanskrywer, filosoof, digter en librettis. Sy is dood aan Alzheimers en haar man, die bekende akademikus, John Bayley het 'n biografie Iris oor dié uitstaande vrou gepubliseer.

Something special is soos Byatt se The djinn in the nigtingale's eye 'n klein boekie. Klein in formaat en gegewe, maar dikwels soos met fantasie- of kinderverhale gesteld is, gelaai met sub-teks.

Die gegewe is vintage Murdoch: die verhaal speel in Dublin af (Murdoch se geboortestad, terloops) en vertel die verhaal van 'n jong vrou, Yvonne wat meer uit die lewe vra as 'n huwelik van die man, Sam. Soos The sea, the sea het Murdoch die vermoë om die kragtige emosie van die liefde en die uitwerking hiervan op die menslike psige te karteer. Die onverwagse einde is goed uitgewerk.

En die taalgebruik maak op sigself die lees hiervan die moeite werd. Vir Murdoch-versamelaars teen R105!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]