Thursday, March 28, 2013

Jackie Kay - Trumpet (1999)



Jackie Kay. Trumpet. Picador, 1999. ISBN: 0 330 33146 9.

Resensent: Joan Hambidge

Jackie Kay het al bekendheid verwerf vir haar digkuns soos The adoption papers en Other lovers. Met haar debuutroman Trumpet verower sy die gesogte Guardian Fiction Prize in 1989 en hierom dan die sagteband Picador publikasie na die MacMillan hardeband uitgawe.

Trumpet handel oor die modieuse konsep van gender-bending iets waaroor onder andere Foucault insiggewend geskryf het in die inleiding tot die dokument Herculin Barbin, oftewel die relaas van 'n hermafrodiet. Transvestisme, geslagsverandering of -verduistering is aan die orde van die dag en Marjorie Garber se insiggewende studie oor hierdie onderwerp Vested interests ondersoek die verskynsel vanaf Shakespeare tot moderne verskynsels. Ook Camille Paglia het belangrike werk gelewer op die gebied van geslagsdiskoers.

Ook films ondersoek dit met groot gusto: vanaf Some like it hot tot en met The crying game het hierdie tema enersyds humor en andersyds spanning by die kyker ontlok.

Trumpet vertel die verhaal van Joss Moody, 'n jazz trompetspeler wat voorgegee het om 'n man te wees. S/hy het selfs 'n vrou en aangenome kind gehad wat gedupe is deur die geslagsrol wat vertolk is. Die verhaal begin by die dood en onthulling van die ware feite. Verlede jaar was daar 'n storie in die Britse pers oor 'n pianis wat eweneens haar/sy vrou om die bos gelei het.

Hoe is dit moontlik? Speel die familie saam? Is die taboe oor homoseksualiteit steeds so groot dat 'n spel die enigste uitweg is? Of is daar werklike vergissing in die spel?

Jackie Kay hanteer al hierdie leservrae met geweldige deernis. Die sjarme van die roman is juis hierin opgesluit: dat die liefde uiteindelik tog alles kan oorwin. Ook die pynlike belydenis van die kind ontroer. En die lykbesorger se meditasies rondom die dood moes waarskynlik geweldige navorsing geverg het.

Dit is dan ook pseudo-historiografie en verskillende perspektiewe word op die verhaal gegee, selfs met 'n cv. Dit het egter 'n bietjie herhaling tot gevolg - 'n klein punt van kritiek.

Die roman het 'n poëtiese kwaliteit wat imponeer. Dis een van daardie romans wat 'n mens jy het self geskryf. Dit sit vol wysheid, onder meer die stelling van Oscar Wilde dat jou biografie nie deur dissipels geskryf word nie, maar deur die verraaier. En dat herinnering sekere insidente helderder maak.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]