Tuesday, March 26, 2013

Gus Ferguson - The best of Gus Ferguson: Stressed-Unstressed (2000)



Gus Ferguson. The best of Gus Ferguson: Stressed-Unstressed. Selected poems & drawings. David Philip, 2000. ISBN: 0 86484 358 6.

Resensent: Joan Hambidge

Gus Ferguson is 'n onverdrote bemarker van Engels Suid-Afrikaanse poësie. Snailpress, Firfield Press en Carapace poets word alles deur hom behartig. Eiehandig presteer hy dit om die Engelse digkuns lewend(ig) te hou.

Sy cartoons(kursief) is ook wonderlik. Miskien nie so “af” soos Gary Larson s'n nie, maar soms ook onvergeetlik: soos die een mier wat vir die ander een sê:”My Oupa het vir Eugène Marais geken!”

Die digter word 'n “alert and inquiring poet” genoem in David Philip se publisiteitstuk. Miskien 'n bietjie hooggestem, sou ek reken. Plesierig is meer die woord wat by my opkom om hierdie aweregse digkuns te beskrywe waar die aantrekkende vrou se omgekeerder striptease gade geslaan word.

Sy speelse reeks oor slakke (“Go well, go shell!”) wys op 'n soort vernuftigheid met woorde en “Shellancolia” is 'n gawe distigon.

Dit is verse wat dikwels 'n glimlag ontlok soos die grappige “M.C. Koei” (p. 19) waar die polities korrekte dan “HippopotaMs.” is. Die digter weet ook presies waar hy staan in die digkuns soos ons aflei uit “Light verse at the end of the tunnel” (p. 40).

Sy aweregse humorsin blyk uit sy knap tankas en haikoes:

On the death of an old computer;
Ascii to Ascii,
Dos to Dos. (p. 59)


I believe that God
encrypted the universe
for fear of hackers. (p. 58)

Met sy slakverse en klein gedigte het Gus Ferguson 'n markante bydrae gelewer tot die speelse vers in die Engels Suid-Afrikaanse digkuns. Hy is Engels se A.G. Visser.

Dit is baie mooi deur David Philip uitgegee.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]