Thursday, March 28, 2013

Patrick Cullinan - Transformations (1999)



Patrick Cullinan. Transformations. Carapace poets, 1999. ISBN 1 874923 47 7.

Resensent: Joan Hambidge

Met onverdrote ywer verskyn daar Engelse digbundels by die Snailpress. Carapace, 'n afdeling van die uitgewery, het sopas Patrick Cullinan se Transformations uitgegee. Vir my gevoel word daar dikwels te veel digters gepubliseer en 'n mens voel dat daar meer van 'n kritiese siftingsproses behoort te wees.

Maar tussen die vele eendagsvliegies van die Engels Suid-Afrikaanse poësie is daar Douglas Livingstone, Stephen Watson, Douglas Reid Skinner, Ingrid de Kock en Patrick Cullinan, om 'n paar sterre uit te sonder. As 'n mens egter na Leon de Kock en Ian Tromp se Penguin-uitgawe van ons Ingelse digters hier te lande kyk, dan lyk die span maar bloedloos. En dat daardie uitgawe as 'n represenstasie van ons digkuns voorgehou word, moet beslis nog aangespreek word. Te veel is gemaak van sosiale tematiek en te min van tegniek.

(As u mooi luister, kan u die wenkbroue hoor lig by Faber & Faber. Goddank Eliot is dít gespaar.)

Transformations is geen groot bundel nie, maar dit bevat 'n handvol gevoelig en ontroerend mooi verse.  Ook begin die bundel met 'n lykdig en spreek die grootste proses van transformasie aan, te wete die dood. Met min woorde word die dood van 'n geliefde persoon opgesom.

By Cullinan is daar 'n lewenswysheid wat in 'n gedig soos “Love and war” wat 'n mens om die wysheid sal onthou:

And to my friends I send
a blessing:
The shock of second sight.

But to enemies I reserve
truth absolute,
implacable light.

In love and war
you have to be fair:
serve both right.

'n Gedig soos “The construct” is 'n fraaie ars poetica. Die digter ken sy beperkinge, maar tog moet hy steeds sy gevoelens verwoord.

Soos dit 'n digter betaam wat krities met sy bedryf omgaan, is daar dikwels verse wat die cliché ontmasker of die ooreiste beeld weer nuut maak, soos in “One night”.

Die bundel bevat ook vertalings en verwerkings van Eugenio Montale wat in Afrikaans pragtig deur Rosa Nepgen vertaal is as Die geel van suurlemoene skyn(Tafelberg Uitgewers, 1979). “Memory” is onder meer 'n vers wat 'n mens tussen die oë tref.

Die digter is al dikwels vir sy poësie bekroon. Dit is poësie wat bly krap, 'n mens steur en weer laat terugblaai.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]