Tom Dreyer. Stinkafrikaners.
Tafelberg Uitgewers, 2000. ISBN 0624038556.
Resensent: Joan
Hambidge
Dis nie 'n boek vir sissies nie. So waarsku die
mediaverklaring wat ook weet te vertel dat hierdie boek herinner aan Raymond
Chandler en Quentin Tarantino. 'n “Oop” teks dus in Umberto Eco (The role of the reader) se terme, omdat
die leser kan oorinterpreteer.
En die mees uitdagende aspek van die postmodernisme is
dat dit juis die verhewe letterkunde wil gelyk stel aan die populistiese. Tom
Dreyer gebruik die thriller om sy storie te vertel.
Die genre van die thriller is alreeds deur Jerry Palmer (Thrillers - Genesis and structure of a popular genre, 1978) deeglik onder die
loep geneem en Stinkafrikaners doen
presies wat hierdie soort boek doen: elke aksie, beweging, gebaar van Joe
Pereira is 'n vinjet. Net soos in James Bond-verhale. Ian Fleming se karakter
(en nou praat ek van die romans en nie die films nie) se gedagtegang en
maniërismes is 'n kortpad vir die latere gebeure.
Dis duidelik dat Tom Dreyer al hierdie skrywers ken. Sy
boek lees lekker, dis goed geskryf. Dis net: na Erdvarkfontein en Stinkafrikaners
is dit waarskynlik tyd om nou 'n nuwe rigting in te slaan. 'n Teks met meer
diepte. Miskien is ek dan 'n sissie.
'n Sissie vir sub-teks en interteks. Vir iets meer as
die gegewe van dwelmbase in die agterstrate van Parow. Dobbellisensies. Bendes.
Koelbloedige moorde.
Wat is die punt van die roman?, vra ek myself. Miskien
wil dit 'n anti-roman wees. Maar waarom dan die hoofstukindelings wat duidelik
inspeel op die ouktoriële roman van die negentiende eeu. Die hoofstuk kondig
as't ware die gebeure aan.
Miskien het ek net te veel Raymond Chandler gelees. En
miskien het Jeanne Goosen met Ons is nie
almal so nie die kultusboek oor Parow geskryf.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]