Friday, March 15, 2013

Breyten Breytenbach - Die Toneelstuk (2001)



Breyten Breytenbach. Die ToneelstukHuman & Rousseau, 2001. ISBN 07981 4174 3.

Resensent: Joan Hambidge

"Nie alles bly behoue nie. Die kop is te vol verdriet."

Die figuur Breyten Breytenbach is as digter, romanskrywer en dramaturg 'n bestendige en vernuwende stem. As skryf die uitlê van skaduwees is, soos hy self bely, dan kan 'n mens ook beweer dat Breyten Breytenbach daardie boom is wat 'n groot skadu gooi oor 'n primitiewe en parogiale (letter)gemeenskap.

Sy jongste drama is hoofsaaklik gestriem en soos gewoonlik met onkunde begroet. Enkele reaksies was intelligent, maar onkundige, lewensmoeë, en veral lúi resensies was aan die orde van die dag.

Ook in Woordwerk, 'n roman, het Breytenbach die konvensies van die romankuns op sy kop gekeer en in Die Toneelstuk doen hy dit weer. Hierdie resensie benader die gepubliseerde teks en nie die opvoering nie, ofskoon die semiosis tussen die twee tekste ook tersaaklik is weens die belangrike en innoverende werk van Marthinus Basson, voorste regisseur, wat waarskynlik die verbintenis tussen werklikheid en fiksie, tussen binne en buite ten beste begryp soos ons ook weet uit sy imposante opvoering van Ek, Anna van Wyk.

Die titel, Die toneelstuk, wil kennelik die ou Afrikaanse aanslag van die reisende Hanekoms, et al. debunk. Die leser kan dus nie daardie ou ATKV-wenner Kom ons speel toneel mislees of ignoreer nie, behalwe dat die gegewe nou gelaai word met 'n verdoemende analise van ons land, (skuld)belydenis en behorende tot 'n troebel geskiedenis.

Die dramatitel dra die sub-titel: 'n Belydenis in twee bedrywe. Onmiddellik word die leser geplaas binne die gegewe van die onlangse WVK-debat en die algemene verwyt dat die meeste Afrikaners, hul Calvinisme ten spyt, ongeneë was om aandadigheid te erken. Die leser roep ook in die herinnering Antjie Krog se Country of my skull en reaksies op haar interpretasie van ons geskiedenis en skuld.

Ook is die Calvinistiese belydenis waarskynlik vir die meer Boeddhistiese BB 'n onding; jy aanvaar jou karmatiese lot en die effek van jou (wan)dade of (nie)dade.

My bespreking moet dus gewoon as kanttekeninge gelees word by 'n verwikkelde dramateks en soos sy roman Woordwerk is daar 'n verbluffende spel met moderne literatuurteorie aanwesig.Die skrywer voorsien die leser met 'n bywoord: dus nog 'n aanhangsel wat die spel tussen toneelopvoering-reaksie-gedrukte teks-die lewe-BB se geskienis-SA politiek problematiseer.

Soos in Bertolt Brecht se Mutter Courage word daar heen en weer beweeg tussen teks(werkliklikheid) en teks(fiksie). Insgelyks word die leser van meet af aan bewus gemaak van die "vervreemding" wat hier op die spel is in Die toneelstuk. Ons ken die histeriese reaksie, die geskiedenisse en hierdie leser het eerste die bywoord gelees wat 'n "skoon lesing" onmoontlik maak. Nog nooit was Derrida se "daar is geen buiteteks nie" so nommerpas nie!

Die meesterteks is hier die SA geskiedenis en die sub-teks is dat Breytenbach in die tronk was weens sy opstand teen die vorige regering. Die intertekste is onder meer die WVK, Dostojefski se lewe en romans, en ook,  die tekste van Bertolt Brecht. ("Eers kom die kos en dan die moraal", p. 63)

Martiens ('n regisseur); Dawid (die Inkwisteur wat Dawid Minnaar moes wees, volgens die agternawoord en 'n speler wat gesien kan word as BB se "double", net soos Marcello Mastroianni 'n besliste fisiese trek had op Federico Fellini en hierom in sy semi-outobiografiese films Fellini vertolk); Anna/Mamma Jesus die argetipiese aardmoeder; Baba Halfjan ('n Menspop en ook BB); die Bewaarder/Ivan; die Hond/Aljosja en les bes Dostoejefski, 'n swart man.

Ek, Anna van Wyk is eweneens 'n spieëlteks, daardie ondersoekende drama van Pieter Fourie oor die psige van die Afrikaner, eweneens deur Basson geregisseer en met Dawid Minnaar en Antoinette Kellerman in die rolverdeling.

Breytenbach se kennis van die teater en teaterkonvensies word op sy kop gekeer en die belangrike verwysing na Dostoejefski aktiveer die skrywer se eie tronkhel. Die skietbevel het by beide uitgebly, maar die psigiese letsels kan nie misgekyk word nie. By Breytenbach is daar die wete dat die nuwe bestel die waansin van die ou dupliseer; by Dostoejefski dat die mensdom nooit van sy sotterny verlos kan word nie. Hierom word daar na die letsels om die enkels gewys: hierdie merke gee aan jou die reg om kritiek uit te spreek. BB se opoffering en kerkering maak ook van hom 'n relevante kritikus.

Die teks is egter skryf-in-aksie soos vele van Fellini se films filmmaak-in-aksie (Otto e mezzo) is. ons word herinner dat die tonneelstuk nooit geskryf is nie en in die bwyoord vertel (bely!) BB dat die teks verlore geraak het. Ons is dus binne-in die skrywer se werkswinkel en sy kop vol drome. Miskien beleef ons iets van 'n hallusinasie of 'n "besoeking" van Dostoejefski?

Hier is dus sprake 'n reïnkarnasie van tekste of 'n wederopstanding van die woord. Die teks wil ook kommentaar lewer op die mea culpa, mea maxima culpa proses waaraan ons so lank uitgelewer was.

Dobbel is eweneens 'n sentrale metafoor in hierdie teks. Nie net was Dostoejefski 'n dobbelslaaf nie, maar om 'n teks te skryf wat die huidige SA vierkant in die oog kyk, is ook 'n proses van Russiese Roulette. Immers is die sogenaamde "wheel of fortune" in die Tarot ook 'n wiel wat vorentoe of agtertoe kan draai; positief of negatief kan  wees...

Hierom ook die verwysing na die Le Pendu oftewel die Opgehangde Man (p. 63). Dit is 'n komplekse kaart en indien  onderstebo, dui dit op 'n toestand van gevangenskap binne 'n psigiese of fisiese toestand. Breytenbach wil hiermee via Dostoejefski sy eie psigiese gevangenskap binne ons siek bestel artikuleer.

Die drama eindig met 'n orgasme. Die klein dood heet dit op Frans en dood en hergeboorte is die sentrale metafore in hierdie opwindende en innoverende skrywer se werk.

Inderdaad: die mond is te geheim om die pyn te kan wegsteek.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]