Tuesday, March 26, 2013

Julian Barnes - Love, etc. (2000)



Julian Barnes. Love, etc. Random House, 2000. ISBN 0224 06109 7.

Resensent: Joan Hambidge

Daar staan 'n rak in my sitkamer met uitstaande romans: Lolita, Life a user's manual van Georges Perec; al Etienne Leroux se romans; Djuna Barnes se Nightwood; Perfume van Patrick Süsskind; Iris Murdoch se The sea, the sea, Kundera se The book of laughter and forgetting;  Byatt se Possession; Ondaatje se The English patient; The master of Petersburg van J.M. Coetzee en Julian Barnes se Flaubert's parrot.

In hierdie speelse roman word die lewe van Flaubert ondersoek en kwasi-biografies bespreek. Dit word egter nooit vervelig of pedanties gedoen nie. Flaubert se uitspraak dat 'n romanskrywer moet soos God in sy skepping aanwesig wees, maar nooit sigbaar nie, word hier op sy kop gekeer.

In Love, etc soos in England, England (1998) is Barnes weer besig met analise. In laasgenoemde roman het hy die Engelse psige uitemekaar gehaal (soos 'n kind doen met Lego-blokkies) en in sy jongste - wat ek in een aand nie kon neersit nie - beskou hy op sy aweregse, siniese manier die impak van die liefde op die mens se psige.

Drie karakters (Stuart, Oliver en Gillian) se verhoudinge word met mekaar weergegee. Ons word blootgestel aan hulle binnespraak en die leser kry 'n pynlike en snaakse en onderhoudende blik op die huwelik, die liefde en die skeiding. (Ook twee kinders, 'n skoonma, 'n psigiater en eks-vrou lewer kommentaar.)

Regdeur word 'n mens herinner aan die feit dat Barnes 'n frankofiel is en  al menige Engelse romanskrywer op sy plek gesit het (soos Mister Amis). Die roman het daardie ondefinieerbare ding genaamd “wit”. En die lag met die traan soos die skoolonnie geleer het, oftewel ironie.

Verder is dit onderhoudend geskryf. Dit sleur jou mee. Dit sit vol wysheid (soos dis bloed onder die brug; elke verhouding vertel ons uiteindelik van al die moontlikhede wat ons verspeel het met ander mense), sonder om te preek.

Dit is 'n roman wat tintel van wysheid. Wat kennis neem van al die tegnieke. Immers is ons binne karakters se koppe wat as't ware vrae van die (afwesige?) outeur beantwoord. Op bladsy 157 maak hy sy verskyning:”Post-modernism: I, the author, made up this story. It's a mere construct”.

Vir my is die grootste bydrae van hierdie roman dat dit uitvoerig skryf oor die liefde. Snaaks. Banaal. En al die uitsprake rondom La Rochefoucauld se dictum analiseer: Dat in die liefde daar altyd een is wat meer voel. Stuart se terugkeer na Gillian het wrede gevolge, vir sowel hulle as vir Oliver en die leser.

Is die sessie op die sofa vir albei ewe aanvaarbaar? Wie het gelyk? Dit onstig die leser wat in die grys area van hierdie hoogs private gebied toegelaat word.

Skielik is die leser ook gekonfronteer met die wete dat ou liefde se vuur waarskynlik altyd bly brand en dat selfs pogings om dit te ontken, net die hartstog versterk. Julian Barnes kan skryf, allamagtag. Hy neem jou gereeld na die woordeboek en vele van sy uitsprake is analises van ander skrywers se uitsprake oor die liefde. Hy is ook, terloops, besig om sy vorige roman Talking it over as't ware te herbesoek. Skrywers doen dit dikwels. 'n Tema uit die jeug word as ouer, volwasse skrywer weer bekyk. Is Fear of fifty (1994) nie Erica Jong se antwoord op Fear of flying nie?

En die skoene op die voorblad? Dit speel in op 'n uitspraak dat ons elkeen eiesoortig ons skoene uittrap en dat elke persoon s'n daar anders uitsien. Die simboliese hantering van varke en krewe word eweneens goed hanteer.

So moet 'n mens skryf. En so moet jy lees: in een asemteug. En ja, hierdie roman gaan ook sitkamer toe.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]