Sunday, March 31, 2013

Reisjoernaal: Kuba & Mexiko (2004)

Ernest Hemingway
I.

So vertrek ek na Mexiko en Kuba met ‘n volgepakte SAL-vlug na Atlanta. Niks kon my egter op hierdie nagmerrierit voorberei nie.  In my geestesoog het ek gesien hoe ons op oujaarsaand gaan drink en vrolik wees. Van vrolikheid was daar geen sprake nie. Trouens, dit was asof daar vooraf besluit is dat die suurste mense op hierdie vlug sou wees.

My versoek om ‘n plek met baie beenspasie het toe ‘n plek geword vir baie speenspasie, want so by my kool, ek land op ‘n ry sitplekke langs ‘n moeder en vader met twee telge van sowat ses maande oud. ‘n Oujaarsaand met sjampanje en rooi wyn en bottels melk?

Nee wat, dag ek en raak roep die lugwaardin nader. Beleef, dog effe driftig, beduie ek vir haar dat ek nie kans sien vir hierdie vlug nie. Boonop het ek lank en fyn beplan aan hierdie duur reis na Mexiko en Kuba, navorsing gedoen en ja, hoekom moet dit my lot wees om hier te sit?

Die karma van ander se bagasie, aanhangsels en kinders is nie my karma nie, dankie.

Na ‘n lang onderhandeling word ek verskuif. Dit blyk toe dat die sitplek nie leeg is nie; toe weer op. ‘n Vriendelike jong waardin kom nader en sit my langs ‘n egpaar met een baba. Ewe fraai deel sy my mee:”Hierdie enetjie is baie soet.” Toe haar vader haar windjies beginne uitklop, is ek weer op die been.

“Kyk, ek weier om hier te sit. Maak ‘n plan.” ‘n Paar minute later word ek in ‘n hoekie ingeskuif, met goddank, ‘n sitplek leeg tussen my en ‘n bot tiener. Maar toe was die vreugde van die vlug al goed bederf. Min beenspasie, humorlose mede-passasiers, snorkers en daar gaan ons. Boonop skeur ek ‘n nael en verloor ‘n sleuteltjie vir my een tas se slot. Gelukkig word die slot op Atlanta oopgebreek.

Toe die kaptein middernag ‘n goeie nuwejaar aankondig en vra dat almal ‘n glasie moet lig, kon hy liewers maar met die Nasionale Lykvereniging in Boksburg gepraat het.

Ek luister na die Beatles, kyk Matchstick Men, The little mermaid en lees Anais Nin se prag-kortverhale The model. En vier my nuwejaar, solo para, terwyl ek smul aan heerlike rooiwyn.

Ons land na 18 ure en veertig minute in Atlanta met die gewone roetine van doeane en paspoorte en visas. Die strenge ondersoekbeampte gelas my om my skoene uit te trek, omdat die silwer op my Bronx skoene die elektroniese ligte laat flits. My draagbare rekenaar word oopgemaak en ek koop teen $120 vir my al die muurprop-aanhangsels benodig vir Mexiko en Kuba. En goddank dit werk! Op die lughawe in Atlanta skryf ek aan my storie “Peyote drome” en maak my gereed vir die vier ure trip na Mexiko Stad op die eerste Januarie van 3 ure, 43 minute. Op die lughawe trek ek skoon klere aan.

Teenoor die suur lugwaardinne van my lang vlug, is die mense op Delta Airlines adret, vriendelik, behulpsaam en professioneel. Under the Tuscan Sun (2003), so ‘n tranetrekker oor verlore liefde en die soeke na ‘n nuwe lewensmaat, is die vlug-film. Dis lig en lekker; goed vir die nuwejaar en ‘n monsteragtige “jet lag” wat op my wag, Essentiale en baie water ten spyt.

Toe ek uiteindelik in Mexiko-stad aanland, is SA agt ure voor ons in die tyd en ek bykans al vir ‘n hele dag aan die rondvlieg.

Mexiko-stad is dood op nuwejaarsdag. Ek huur by die hotel Casa Blanca, ‘n privaattaxi om my deur die stad te neem. My gids my wys al die landmerke en ons gesels oor Diego Rivera se muurskilderye, die Asteke en Majas. In die stad is daar ‘n groot feraria, oftewel pretpark. Gillende kinders ry op die Groot Wiel en ek dink hoe ek en Johann de Lange altyd met die Paasfees heerlike pret ervaar het op al die stampkarretjies en die Figure 8 daar naby die Skilpadsaal in Pretoria.

Teen ses uur die middag wys ek: hokaai. Ek kan nie meer nie. Ek klim in die bed, vra hulle moet my wakker bel om sewe, maar slaap weer verder. Die volgende oggend is ek wel gereed vir ‘n stad wat toe lewe kry na ‘n nuwejaarsfees.

Ek bespreek ‘n reis om die Diego Rivera (1886 – 1957) muurskilderye en fresko’s te gaan bekyk.  My bewondering vir hierdie kunstenaar word net groter: die ervaring van die fresko’s en die metikuleuse detail daarvan is werklik aanskoulik. Die muurskilderye vertel die geskiedenis van Mexiko en vergestalt die soeke na identiteit. Dikwels gebruik hy waarskynlik speels sy vrou, Frida Kahlo as ‘n aweregse model vir ‘n Asteekse vrou! Die vermenging van sy gepolitiseerde siening van die lewe – naamlik dat alle mense gelyk moet wees – en sy naïewe, primitiewe skildertegnieke mag waarskynlik vir sommige mense as te pedanties oorkom.

Een van my toermetgeselle vind sy kunswerke irriterend, omdat die boodskap so op die voorgrond staan. Ofskoon die boodskap vooropgestel word waarin die geskiedenis en sorge van sy land beeldend vertel word, kan ‘n mens nie die enorme drif van hierdie kunstenaar miskyk nie. Inderdaad staan Marx op die een muurskildery waarin die kerk se bedrog en die mense se grypsug uitgebeeld word. Dit word alles so vernuftig en kleurryk gedoen dat ‘n mens dit nie kan verminder nie.

Hierdie muurskildery heet “La Lucha de Clases” en wys op die verskillende klasse in die gemeenskap. Ek noem hom steeds die Michelangelo van Mexiko, hoewel iemand hom glo verminderend die Tretchikof van Mexiko genoem het (op wie is daardie grap?).  In die “Secuencia de la historia de Mexiko” word die oorsig van die geskiedenis gegee.

Hierdie kunswerke is te siene in die Nasionale Paleis wat in 1523 opgerig is.

Ons besoek die Antropologiese museum wat waarskynlik een van die mees skouspelagtige in sy soort is met sy versameling van Asteekse kuns. Ook die vertrek met Maja kuns is die moeite werd om te beskou.  Die eerste dag se besoeke aan kunsmuseums is opwindend en die Katedraal in Mexiko Stad is werklik pragtig. Terwyl ons die katedraal besoek, is daar ‘n diens aan die gang en ek vind dit nogal ontoepaslik dat ons ander mense se gelowige oomblik steur. Ek voel wel beter toe ek besef dat daar in die agterste gedeelte van die katedraal werkers besig is met ‘n massiewe restourasie van die katedraal.

Hoewel daar ‘n pragtige antieke orrel staan , is dit duidelik dat die musiek vooraf opgeneem is. En hier in die onbekende speel daar “Kom herwaarts getroues” wat die reisiger effens nostalgies maak

Maar die opwinding van Tenochtitlan, vandag Mexiko Stad, maak hiervoor op.


II. Mexiko

Die aartsengel van vryheid in die middestad

Mexiko Stad word as een van die mees besoedelde stede op aarde beskou. En gewis is dit so. ‘n Mens nies en proes weens die ongelooflike vuil lug. ‘n Bruin wolk hang oor die stad en ‘n mens kan niks sien nie. Op ‘n bustoer vra ek die gids om vir ons die beroemde berge te wys wat weens hierdie toestand absoluut onmoontlik is.

Maar desnieteenstaande hierdie vuil lug, is dit ‘n uiters bekoorlike en oorrompelende stad. ‘n Mens kan die antieke geskiedenis voel bruis. Onder draai die duiwels rond en die besoek na die Piramides van die Son en Maan net buite Mexiko Stad is iets om te beleef.

Ons vertrek 9.15 en ‘n mens raak gewoond aan Mexikaanse tyd wat beteken dat tyd niks beteken nie. Jy moet wag en wag en wag. Ek neem my draaagbare rekenaar saam en terwyl ons wag vir ‘n laat toerleier of ‘n fotonemer uit Madrid, hou ek verslag van die daaglikse gebeure.

Taxis in Mexiko Stad bestaan uit ou groen Volkswagen kewers (teenoor New York se geel cabs). Almal ry nes hulle wil en ‘n hele paar keer dink ‘n mens nou gaan daar ‘n ongeluk gebeur. Maar watwo! Die bestuurder glip deur die versperrings, mis ‘n ander motor met twee punt vyf sekondes. ‘n Bietjie getoeter, maar niemand word kwaad in die proses nie. Almal ry op hulle toeters, wat wonderlik is vir iemand soos die uwe wat self ‘n toeter-bestuurder van formaat is.

Die armoede is ook opvallend. Geweldige rykdom teenoor armoede. Mense wat op straat kos maak, tortillas verkoop en allerlei ware. Ek koop vir my pragtige Asteekse kunswerkies van rooi klei en bly op soek na sandale vir ‘n vriendin.

Ten spyte van my intensiewe studie vooraf, bly ‘n mens bewus van die feit dat daar veel is wat jy nooit sal kan begryp nie. Die mistieke element van die Asteekse en Maja kulture bly uiteindelik te groots om werklik te verstaan. Die Maja wêreld kan besigtig word in die suide van Mexiko, Belize, Gautemala, Honduras en El Salvador.

Ons gids wys ons daarop in welke mate Mexiko Stad al etlike meters gesak het, omdat dit op water gebou is. Van die mooiste katedrale staan hier en die piramides is eweneens pragtig.

Ek begaan egter ‘n ordeelsfout om vir die toergids attent te maak op die besoedeling. Soos ‘n gids in Tokio, vererg hy hom diep. “Nee, dis net die winterlug. Dis nie besoedeling nie.”  Nou ja, wat sal ‘n mens hierop antwoord?

By die twee piramides gekom, klim ek dit met groot ywer uit, dankbaar vir my besoeke aan die Virgin gimnasium in Kaapstad. Dit is egter nie so hoog of uitputtend as Macchu Picchu nie, maar nogtans ‘n tog met dwarswinde wat sand waai en ‘n warm son wat my piets. Die aand sit ek rooi gebak in die Hotel Casa Blanca en smeer salfies oor die sonbrand-merke.

Vir ‘n hele dag, teen ongeveer R300, kan jy die ou beskawing meemaak. Jy word geteister deur bedelaars en verkopers van allerlei wat wissel van fluitjies in die vorm van Asteekse simbole. ‘n Paar kinders fluit jou ore van jou kop af.

Ons middagete is heel plesierig met El Mariachi wat musiekmaak. Verbeel ek my of klink die een liedjie amper nes “Suikerbossie”?

Die gidse in Mexiko Stad is baie goed ingelig. Hulle ken die geskiedenis en is minder grypsugtig as byvoorbeeld Egiptiese gidse wat halwe waarhede verkoop en dan teen die aand bakhand staan vir ‘wyshede’.

Daar is vele internet-kafees wat ek soos die pes vermy; anders kan ‘n mens se reis besoedel word deur nuus tuis of allerlei werkseise. Ek ervaar hierdie reis dus volledig op my eentjie, behalwe vir ‘n gawe Nieu-Seelandse egpaar wat tweekeer saam met my reis en insigryke opmerkings maak oor die Mexikane.

Mañana, mañana. Moenie jou haas nie. More is nog ‘n dag.

En more vertrek ek Acapulco toe. Hoewel dit die begin van die winter is, hoef ‘n mens net saans ‘n baadjie aan te trek. Bedags skyn die son en die temperatuur is draaglik. ‘n Mens sal selfs kan  swem in Acapulco as jy sou wou. In my hotel in Mexiko Stad swem daar kinders in die piscine, oftewel swembad, in ‘n retro-sestigerjare hotel. Dit lyk soos iets uit ‘n James Bond-film en die kelner weer te vertel hy het vir die filmmaker Broccoli gewerk in vele James Bond-films as ‘n ekstra.

Ek glo hom en bestel ‘n Martini met ‘n olyf, terwyl ek die hotel se interieur intens bewonder.

In ‘n reisgids oor die Majas, The Maya World (The Rough Guide: Londen, 1999) word die toeris na Suid-Mexiko, Belize, Gautemala, Honduras en El Salvador geneem. Vir ‘n volgende besoek dan, want ‘n mens kan met een reis net soveel inneem en verteer. Dis beter om stadig te reis, as om deur alles te flits soos in daardie wonderbaarlike film If it’s Tuesday, this must be Belgium (1969).

Tog vind ek byvoorbaat die Maja’s se obsessie met tyd inspirerend. Hulle het ‘n 260 dae kalender gehad waarin 20 dae saam gegroepeer is. Die dag (kin) lê aan die basis van alles en elke dag word met ‘n god geassosieer sodat jou geboorte hierdeur bepaal word. Ook was die astronomie vir hulle uiters belangrik en sekere patrone in die hemelruim is deur hulle getrek.

Die sofistikasie van sowel die Asteke as Majas is verbysterend en ‘n mens durf nie na hulle as ‘primitief’ verwys nie, omdat hulle op sekere vlakke die moderne mens kon troef met insigte en interpretasies van die heelal.

Trouens, vele “New Age”-filosofieë keer na hierdie wyshede terug.


III. Mexiko

“Drink ‘n tequila op my!”, is die versoek van vele vriende voor my vertrek na Mexiko.

Watter een? Don Julio, Franchas, El Jimador, 100 Anos, Hornitos, Commerativo, Reposado, Blanco, Tradicional, Cazadores, Viuda de Romero…

Enige voorste drinker sal kan bely: ‘n mens kry nie sommer ‘n ‘hang-over’ van ‘n tequila nie, al het jy hoe goed fles gevat, want dit is suiwer alkohol.

As ‘n rooi wyn drinker, is ek mateloos geïmponeer met die soorte Cabernet Sauvignon in hierdie kwartiere en as jy rooi wyn bestel, vra jy vir “rogga” of “tinta” dan begryp hulle.

In die hotelle word baie goeie rooi wyn bedien teen ongeveer 30 pesos per glas en danksy my vriendskap met die bar man, Martin in die Casa Blanca, het ek dikwels ‘n glas “on de houze” gekry, soos hy dit uitgespreek het.

Daar word ook ‘n soort tequila van die maguey-plant gemaak, van die Agave genus (5 % alkohol) en by ‘n besoek aan ‘n plaas, wys hulle hoe dit gebrou word: ‘n gat word in die middel van die vetplant uitgesny, en dan gis die drank letterlik in die middel van die plant.

Douvoordag vertrek ek na Acapulco, stad van bruising. Dis presies ‘n vlug van een uur. Na die matige weer is die stad Acapulco ‘n kruis tussen Durban en Maputo tydens ‘n hittegolf. Die stad lyk boonop nes hierdie stede met ‘n iets van Amanzimtoti ingegooi in die cocktail, jy weet. Vergeet van die Peter Stuyvesant-advertensie, mymer ek by myself toe die hotel waarin ek land, Hotel El Tropicana, ‘n iets oor die muur is. Ongelukkig is alles vooraf betaal so ek kan nie kop uittrek nie. Die mense is aan’t vakansie hou soos jillende Margate-gangers. My moed sak in my spreekwoordelike skoene.

Terwyl die sweet my aftap.

Boonop is daar nou net ‘n tweepunt-muurprop en my elegante prop wat etlike dollars gekos het, kan nie hier inpas nie. Die gawe hoteleienaar, Caesar, leen sy prop vir my sodat ek ten minste iets kan uittimmer op my draagbare rekenaar.

Jare se reis het my geleer: moenie jou verset nie. Moenie onrustig raak nie. Go with the flow. Anders word dit alles net erger. Die kamer is onluuks, maar skoon. Dit was waarskynlik twintig jaar gelede ‘n smarterige hotel, dink ek, terwyl ek vaskyk teen die ronde borrels wat paradeer as ligte. Hef aan! Die hotel haal beslis my lys van die vyf ergste hotelle waarin ek ooit moes tuisgaan, met ‘n hotel in Kopenhagen as nommer 1. Maar daar kon ek darem weer wegstap, omdat ek nie vooraf betaal het nie.

Voor my deur lê ‘n bondel vuil wasgoed wat niemand sommer gou gaan verwyder nie.

Vergeet van al die James Bond-films en van al die ander lekkerder hotelle net voor jou. En vergeet veral van die Hotel Casa Blanca in Mexiko Stad.

Die droeër klimaat van Mexiko Stad word nou vervang deur ‘n humiede, sweetwarm een. Dit sal jou leer. Jy wou mos aaklig wees oor die besoedeling en die wind wat waai in Mexiko Stad!

Karma, karma!

Maar na ek oor my ergste weersin gekom het, begin ek die pragtige stad te bespied. Die mense lyk ook anders as in Mexiko Stad. Die mans loop sonder hemde rond en op almal se gesigte staan geskryf: ons hou vakansie met hoofletters. Ek daarenteen gaan deur ongeveer vier hemde per dag weens die versengende hitte wat al hoe meer soos Manaus in die Amasone beginne voel. Gelukkig is daar ‘n swembad wat ek in die skemeruur beplas. In die badkamer waai my hemde droog. Chris Barnard se ‘Op pad na Acapulco’ kry nou ‘n ander betekenis…

Gaan daar muskiete wees vannag? Sal ek my gunsteling-gedig “Muskietejag” vanaand hier moet voordra?

Reis is nie net ‘n aangename ervaring nie.Dis ook soms eensaam en ellendig, veral die hotel maar troosteloos is.

Maar nou jou, troos ek myself. Hotelle is soos liefdesverhoudings. Party is goed, ander ‘n helse ervaring. Maar dit maak alles van ‘n mens ‘n ruimer, volronder mens. Dis hoekom ek so ‘n vol-ronde mens is.

Ek sal maar ‘n tequila drink op hierdie hotel! En gelukkig vergoed die gawe personeel en die lekker restaurant net langs die El tropicana vir die onaangename intro.

Tussen gaan en bly

Tussen gaan en bly, weifel die dag
Verlief op sy eie deursigtigheid.

Die sirkulerende namiddag is nou ‘n hawe
Waar die wêreld in stilte beweeg.

Alles is kenbaar en ontwykend,
Alles is naby en onaanraakbaar.

Papier, boek, potlood, glas,
Rus in die skadu van hul name.

Tyd wat in my slape klop, herhaal
Dieselfde onveranderbare sillabe van bloed.

Die lig verander die ongeërgde muur
In ‘n spookagtige teater van afskynsel.

Ek bevind myself in die middel van ‘n oog,
Kykend na myself in ‘n ondeursigtige staar.

Die oomblik breek. Bewegingloos,
Ek bly en ek gaan: ek is ‘n ruspose.

Octavio Paz

(vertaling: Joan Hambidge)


IV. Mexiko

Daar is twee aspekte van reis wat nooit in reisgidse te berde gebring word nie, naamlik die hoeveelheid tyd wat jy moet wag op lughawens (die sogenaamde leë tyd van reis) en die verveling of ennui wat jou soms beetpak.

Reis behels nie net opwinding nie. Dit behels ook lang tye van wag – byvoorbeeld as ‘n mens inreken hoeveel ure voor die vlug se vertrek moet jy op die lugawe wees, die vertrek uit jou hotel, die wag voor jy vertrek, die aankoms, die wag by die doeanepunt… – en dan paradoksaal na al die opwinding wat jy meemaak, is daar ook tye wat ‘n mens net ennui ervaar.

Wag en verveling.

‘n Mens kan elke dag net soveel inneem en sekere stede of plekke bied net soveel te sien. En dikwels wil jy saans net rus na ‘n dag van piramides uitklim, museums besoek ensomeer. So word ‘n mens ‘n kenner van CNN. Jy ken elke aanbieder se haarstyl, maniërismes en persoonlike ideologie. Jy word ook ‘n verbete aanhanger van sokker. In hotelkamers kyk ek altyd na ‘n sokkerwedstryd. In Acapulco was ek saam met die Americano span teen Atlante. Ek het ook soos hulle afrigter vir die verdomde fluitjieblaser geskree: ”Maak oop jou oë, jou idioot!”. Toe dit ‘n gelykopstryd is met een elk, eweneens die skeidsregter die skuld gegee.

Maar daar is sokker kyk, en sokker kyk, sal Roland Barthes ons leer uit sy Mythologies. ‘n Mens kan na sokker kyk, soos wat hy na die stoeigeveg kyk as ‘n semiotiese spel.

Die vinnige bewegings van die sokkerspeler wat doellyn toe haas, die ontoelaatbare vuilspel wat soms kop uit steek, die enorme spanning wat op die doelwagter geplaas word. Dit is nie net sokker nie. Dis oorlog.

Hier word geveg om lewe en dood. Sokker word tereg as een van die gevaarlikste sportsoorte ter wêreld beskou, omdat die skare dit so ernstig opneem. Mense het mekaar al dood gemaak, omdat hulle span verloor het. Mense is vertrap omdat hulle onder die voete van hierdie woedende, verontregte verloorders beland het.

Daar word selfs ‘n kursus aan ‘n Britse Universiteit aangebied oor die mitologie rondom David Beckham. Hoe hy optree, wat hy dink en doen. Hy is nie net ‘n sokkerspeler nie; hy is ook ‘n mite. Al het hy nou gedros na Spanje, bly hy ‘n Britse ikoon.

‘n Mens sou indertyd ook ‘n kursus oor Naas Botha kon aanbied, omdat hy ook “larger than life” was. Beckham speel ook in sy persoonlike lewe iets meer uit met sy “Spice Girls”-vrou.

Bog? Nooit as te nimmer nie. Hierdie wyshede dink ek uit op my reis na Kuba. Ek sit in die IPS-restaurant wat 24-uur per dag oop is. Ek moet wag vir ‘n daguitstappie en het ‘n paar uur te verwyl. In Mexiko kan jy eg Mexikaans ook vroegoggend eet!  Die kos is voortreflik en ek eet ‘n omelet natuurlik met Tabasco – vernoem na die plek hier in Mexiko.

Die diens is puik, die koffie lekker en al is die Engels skraps, is die Mexikane hier baie gaaf en behulpsaam.

Jy laat ‘n footjie van 10 persent in kontant, asseblief, versoek al die kelners in restaurante, want op kredietkaarte verdwyn dit in die baas se sak. Maar as jy nie iets wil gee nie, laat hulle jou verstaan, is dit ook reg.

Nee, ek gee altyd die tien persent en  vir die gawe kelner Roberto in smullekker seekosrestaurant, gee ek 20 persent, omdat hy my langs ‘n muurpop sit, my attent maak op al die kodes van Acapulco en vertel van die armoede in Kuba wat my sal ontstel.

Jare gelede eet ek in ‘n restaurant in Kaapstad. Een van die tafelgangers het nie kleingeld nie en laat tien sent (ons had aparte rekeninge) vir die kelnerin. Sy hardloop by die deur uit, agter hom aan en roep: ”Jy het iets vergeet, meneer. Hier. Ek dink jy het dit nodiger as ek.”

Die teendeel gebeur egter ook. In Macchu Picchu se restaurant laat Amerikaners ‘n hele boel note in die middel van die tafel. En een van die reisigers vergeet sy kamera. Daar stap hulle af met die paadjie. Die kelner tel die groen note op en die kamera. Hy sien hulle wegkronkel.

Salida

In die vele hotelkamers
in vreemde bestemmings
my bagasie in- en uitgepak.

In die vele hotelkamers van die liefde
die hotelkaart noukeurig ingevul:
ontmoeting – ervaring – vertrek.

In hierdie hotelkamers
is alles eers klinies – later morsig,
vol beskuldigings, verwyt
oor die onaangename, pynlike afloop.

In die hotelkamers van die wanhoop
soms ‘n soewenier geneem – niks agtergelaat:
behalwe oortollighede, uitskot
of laaste indrukke soos “ek verkies
dat jy nou gaan en my nooit
weer kontak nie.”

In hierdie vele hotelkamers
nimmer lank vertoef. Maar lank onthou,
getreur. ‘n Gekneusde hart
is soos ‘n oorvol tas wat jy saamsleep
van doeanepunt tot doeanepunt.

Sommige hotelkamers was vyfster;
party minder goed. Maar elkeen was ‘n vertoefplek,
‘n hawe vir die hart: ‘n paspoort
met visas verval. Jou visa helaas
nog lank nie finaal gestempel:
‘n reis sonder finale bestemming, eindpunt.

Nou onthou ek net my geliefdes
soos die kamernommers in dié hotelle.
Met jou deur op slot.


Bron:

Roland Barthes. 1957/1972.  Mythologies. Londen: Paladin.

5 Januarie 2004


V. Mexiko

Op pad na Acapulco

My eerste indrukke van Acapulco was onplesierig. Humied, bedompig, beknop, kloustrofobies. Boonop is die hotel vol jillende, gillende kinders en ‘n Amerikaner – dronk – wat langs die swembad sit en Rum drink. Hier blaker hy sy lewenswyshede uit op daardie eg irriterende Yankee-uitspraak sodat hoor en sien vergaan. Hy is ‘n rasegte Boksburg-special.

Maar ek maan myself. Laat jou nie onder kry nie. Ek drink ‘n Corona of wat om die ergste hitte te trotseer en stap na die strand waar die helderste blou see roerloos lê.

‘n Pragtige hotelletjie in Japannese styl bied ‘n versnaperinge aan in ‘n koel kroegie met ‘n fonteintjie. Japan in Mexiko. Nou daar het jy dit. My twee onlangse reise sommer metafories hier saamgevoeg.

Ek verken die stad wat so warm word dat jy gedwing word om siesta te hou. Teen sesuur eet ek vis en toe dit donker word, stop ‘n wit en blou kewertjie langs my. ‘n Taxi van Acapulco.

“Taxi?”, vra hy.

Ek knik. Ek vra hom om my deur die stad te neem en Acapulco in die aand te wys. Ons kruip stadig deur die stad en deur 150 pesos sal hy my die belangrikste punte wys. Hy heet Roberto, ‘n gawe man, in sy dertigerjare.

“Is jy getroud?” Genugtig, dink ek. Ken hy dan nie my digkuns nie?

Acapulco is bonsend van lewe. More is ‘n Katolieke vakansiedag, die dag van die koningin, en almal is vir oulaas op pad winkels toe. Dis soos ‘n tweede Kersfees.
Danksy my gawe gids, sien ek dele van Acapulco wat my te voet verby sou gaan.

“Hoekom is ou kewers julle taxis?”

“Omdat die dienste so goedkoop is,”verduidelik hy.

Die stad bekoor my en op harde disko-musiek uit die ou Volksie ervaar ek die ambience van die stad vol drentelende vakansiegangers, slenteraars en inwoners.

Ons stop by die katedraal, ek koop ‘n geskenk vir ‘n vriendin en trek al my woorde terug oor Acapulco. Ekskuus stad, ek het jou beswadder.

Acapulco in die aand/nag is ‘n belewenis. Daar is ‘n gees van feesviering in die lug en “El Condor Pasa” speel by die feraria. Die mense weet hoe om hullelf te geniet. Ons ry verby ‘n disko wat volgens Roberto 5000 mense kan inpas.

En die musiek?

“Hip hop, samba, disko, alles wat jy begeer,” verduidelik hy.

Buite sit die nie-dansers en tequila drink. Mense stap sommer net vir die lekker. Niemand is gedruk vir tyd nie.

Die huisies aan die boonste gedeelte is eenvoudig, maar netjies. Dis ‘n baie skoon stad. Die speelplek vir die rykes is natuurlik reg langs die kus.

Toe hy my uieindelik aflaai, gee ek hom ‘n enorme footjie vir sy gidswerk. Praat altyd met die gewone mense, het ek op my reise geleer. Hulle kan plekke vir jou oopmaak wat andersins heeltemal by jou mag verbygaan. In Casablanca het ek bevriend geraak met die concierge en ons het ‘n motor gehuur, die stad saam besoek en so ontdek jy al die geheime plekkies en karteltjies van ‘n stad wat buite die reikwydte van ‘n professionele toergids is (wat in elk geval dikwels verveeld is met dieselfde vertelling) en verswelg mag word deur ‘n groot toerbus se wiele.

Maar dan moet jy jou oopstel vir so ‘n ontmoeting. ‘n Mens voel altyd na so ‘n ervaring dat jy ‘n vriend verloor het en jy bly altyd wonder oor hulle: daardie gawe man in Casablanca, die taxibestuurder in Acapulco en die gids in Sõa Paulo. Mense wat net die regte ding op die regte oomblik sê.

Op daardie reis in Suid-Amerika was my hart gebreek en die liewe vrou het my vertroos, gesê dit sal verbygaan.

Dit was natuurlik toe ek nog ‘n hart gehad het. Nou leef ek op my plastiekhart, is boonop ‘n opperste wegkomkansvatter!


I am a man: little do I last
and the night is enormous.
But I look up:
the stars write.
Unknowing I understand:
I too am written,
and at this very moment
someone spells me out.

Octavio Paz

6 Januarie 2004


VI. Kuba


My vlug na Kuba vertrek om sewe. Vyfuur lui my wekker en ek begin my reis na Havana! Ek word by die hotel opgepik en 5.30 is ons op pad lughawe toe. Die sweet tap my reeds af en op die lughawe trek ek ‘n vars hemp aan. Hierdie dag gaan eise stel aan die senuweestelsel. Ek voel ‘n bietjie olik van die min slaap, die warm hitte en dan skielik weer die lugverkoeling.

Vyf onaangenaamhede wag egter op my soos ‘n luislang in die Amasone.

Toe ek deur sekureiteit stap, word ek gevra om my handbagasie oop te maak. My klein reissakkie met knope, garing en ‘n skertjie word uitgehaal.

“U moet die sker verwyder.”

Ek het vergeet van die nuwe paranaoia wat op lughawens heers post-September 11. Wie sal ek nou wil aanrand? Ek pleit selfs dat ek dit in my groot tas sal berg. Hy bly onversetlik. Ek lieg dat ek ‘n huishoudkunde-onderwyseres is wat moet lesse gee in naaiwerk in Kuba. Die man begin sy humeur met my verloor en ruk die skertjie uit my hand. Ek vloek hom woordeloos. Jou bronstige brulpadda. Jou misoes van ‘n Mexikaner. Jou rillende reptiel.

Nou ja, hierdie ou skertjie sal ek maar afstaan. Dis my geskenk aan Mexiko! Maar wat, die sker is mos ‘n simbool. Waarvan nou weer? Jy is ‘n sker, beteken mos iets lekkers. Lekkor (sic!) was nooit sleg nie, of wat praat ek alles. Of dalk is die sker, as ek Jung reg begryp, ‘n simbool van dit wat ek kan afsny. Die spinsels wat jy kan afsny.

Waarskynlik as straf vir my vervloeking van die ou brulpadda, tref onaangenaamheid nommer twee my op die vliegtuig van Acapulco na Mexiko Stad. Die kind voor my (reg in visier) word oorval deur lugsiekte. Ag, die geluide, die reuk, die verskrikking! Goddank daardie sker is nie meer by my nie.

Ek is nie gebou vir hierdie soort teistering nie.                  

Ek wag geduldig op my Habana-vlug en drink ‘n koppie koffie. Hier maak ek die mislikste kelner ter aarde mee. Bot, ongeskik.  Of soos ons in ons kinderdae gesê het: dom, dik en difficult.

“Wat is jou probleem?,” vra ek toe hy die koffie voor my neerplak. Waarskynlik moes hy óf daardie lugsiektesakkie skoongemaak het óf ontdek hoe lelik hy regtig is. Toe ek ‘n tweede koppie koffie bestel, en hy bly stug, besluit ek: jy sal beslis nie ‘n footjie van my kry nie.

Ek neem my geld, kyk hom reg in sy reptiel-oog, en laat nada.

Toe is dit die vlug na Habana met die Lugdiens Mexicana wat voortreflik en professioneel is. Ons ry deur wolke en wat ‘n heerlike ervaring om so deur die digte wolkekrabbers te vlieg.

Meteens toe ons daal, slaan my ore bot toe. My hele somerverkoue is in my ore en ek kan nie ‘n woord hoor nie. Die vierde ellende van die dag dus. Ek spuit Vicks neussproei, maar dit help nie. Ek is stokdoof. Wanneer ek praat, klink dit soos Hallo blikstem. Ek nies en proes en hoes.

Kuba-lughawe is pragtig met vlae en baie modern. Die buitenste gedeeltes van die stad herinner aan die buitewyke van Maputo: ou huisies uit die vyftigerjare, maar hoe nader ‘n mens beweeg aan die kern van die stad, des te meer kom jy onder die indruk van ‘n geweldige historiese verlede, ou geboue en kultuur. Die huisies aan die buitewyke is daardie soort wat ‘n mens in Afrika vind: sement en platdakkies.

My eerste indrukke is, ag vader, wat het my besiel om hierna toe te kom. Maar dis maar gewoonlik net die moegheid wat praat en ‘n mens se gevoel van ont-heemding. Jy word verplaas van een land na ‘n ander en omdat die nuwe stad nog nie onder jou vel ingekruip het, ervaar jy weersin en wens jy het nooit die reis aangepak nie. ‘n Paar dae later, wanneer jy iets van die kultuur ervaar en ingedrink het, voel jy totaal anders. Dan bly ook altyd verlang na iets van daardie stad wat jy nie onder woorde kan bring nie. Jy assosieer dan so ‘n stad met gestolde tyd, toe jy weg was van almal en al die daaglikse gesleur. En dit bly jy vir altyd met jou saamdra. Soos ‘n entmerk.

Die middag wil ek in die hotel Inglaterra, uiters luuks, ‘n aanhangsel via die internet stuur. Maar hulle internet-diens kan nie stiffies neem nie. Nou is dit soek na ‘n internet-diens wat wel oor so ‘n diens beskik. Na ‘n lang gesukkel, vind ek dit, maar ek vir ‘n driekwartuur moet wag en ‘n komputer uit die ark meemaak: stadig, vuil, outyds. Hoe bederf is ons nie met vinnige in internetdienste nie!

Daar gaan die aanhangsel. Dis my rubriek “Wegkomkans”.  Ek moes die internet gebruik, om my rubriek te versend. Besluit liewers nie weer nie, want die internet hou jou soos ‘n naelstring gekoppel aan jou mense tuis.

En die hotel? ‘n Pragtige, statige kolonistiese hotel so reg uit ‘n Merchant/Ivory film. Buite staan ou Chevs en vele modelle uit die vyftigerjare gee aan die stad die allure van ‘n retro-wêreld.   

Voor die hotel staan ‘n weergawe van hul riksja. Vir $5 neem hy my deur die agterbuurtes van die stad. Niks beweeg hier vinnig nie. Almal slenter rond. Die mense lyk gelukkig ten spyte van hul armoede. ‘n Jong meisie staan met krullers in haar hare. Dit is gemaak van die bruin rol van ‘n toiletrol.

My fiets-taxi is wonderlik. ‘n Mens maak die stad rustig mee en omdat hy om in klein stegies kan inbeweeg, sien jy gedeeltes van die stad wat jou andersins onbeskore sou bly.

‘n Aaklige ondervinding was daar wel. Ek neem foto’s en soek ‘n plek om die spoel te laat ontwikkel. ‘n jong Kubaan neem my na die foto-plek. Toe ons wegstap, vra hy: ”Koop vir my poeiermelk, asseblief. Dis vir my boetie.” 
Openbare consensus ten spyt, is my hartjie klein en kan ek swaarkry en armoede nie verduur nie.

Ek gee geld. Nee, verduidelik hy: dis net vir toeriste. Ek stap saam na die winkel. Ondertussen het ‘n jong lat, sy vriend, hom by ons aangesluit.

Toe ek sien die winkeleienaar pak drie pakke melkpoeier in, strip ek heeltemal.

“Kyk,” seg ek vir hom,” ek het het een pak in gedagte gehad.”

“Maar wat van my vriend?,” vra hy so ewe.

“In daardie geval kry jy niks nie.” Toe ek wegstap, hoor ek hoe my vloek op syn Spaans. “Madre @#*, madre @#*,” gil hy.

Bleek van woede draai ek om. My Spaans na weke se bandjies is heeltemal knap genoeg om hierdie frase te vertolk. Bykans iets soos “Jou ma wat hoes.”

Ek vloek hom terug. In my moedertaal: ”Jou stuk slymsnot uit die sypelende sloep van die proesende oseaan. Fokof.”

Hulle moet iets begryp het, want hulle hardloop weg.

Ek koop maar ‘n blikkie Cerveza Cristal, die lekkerste bier uit Kuba, ter troos.


7 Januarie 2004


VII. Kuba

Rumi Tiene Sabor is ‘n orkes wat elke dag regvoor my hotel musiek maak. Guantanamera, Rico Vacailon daardie klassieke cha-cha-liedjie…

Vir $10 koop ek hulle CD waarna ek saans luister op my laptop. Hoe wonderlik lewenslustig is die musiek nie?

Die groep se voorsanger is ‘n man uit die Karibbiese eilande, geklee in ‘n groen pak met ‘n Grace Jones-haarstyl, ‘n wit sonbril. Hy kwinkeleer met die gaste en sing oor die soet en suur van die liefde.

‘n Pensketser maak vir $1 van die gaste ‘n sketsie. Ek koop myne; dis die soort geskenk wat jy vir ‘n eks-geliefde kan stuur, omdat dit jou gelaatstrekke grotesk voorstel. By voorbaat sien ek al hoe dit land op ‘n veerpyltjie-bord.

Stadsekskursies is daar vele van. Teen $15 kan jy die stad per bus meemaak. Ek gaan op hierdie trip, maar wil ook graag die Toer Hemingway meemaak. Jammer, verneem ek, daar is geen belangstelling nie. As u alleen wil gaan na die museum en huis, die kroeg waarin hy gedrink het, kan ons dit vir u bespreek teen $100.

Nou luister ek na “Quizas, Quizas, Quizas” oftewel “Perhaps, Perhaps, Perhaps…”

Die oerverdriet, melancholie maak van hierdie lied ‘n treffer. Dit was so ‘n jaar terug die temalied van ‘n Britse sitkom oor die liefde.

Havana begin onder my vel in te kruip. Die aand eet ek in die Hotel Inglaterra se restaurant en drink Chileense wyn Vina Maipo, ‘n eersteklas Cabernet Sauvignon. Soos ek nou sukkel om by Hemingway se huis uit te kom, het ek ook in Santiago gesukkel om Neruda se huis te sien; totdat ek my eie toer georganiseer het.

Nou is dit my lewensfilosofie: maak die lewe lekker vir jouself & as jy iets nie kan kry, omdat ander nie wil meedoen nie, gaan alleen!

So Hemingway se huis sal ek besoek. Kom wat wil.

Die son skyn steeds oor Kuba.

So begin die Lonely Planet se inleiding oor die land wat geteister is deur die jare van invalle deur die Amerikaners (ons dink aan die Bay of Pigs onder andere). Dit word ook as die laaste bastion van die Kommunisme gesien en dit is ‘n geromantiseerde land wat onder meer deur die Britse teoretikus, Robert Young, besoek en beskryf is.

Dit is die grootste land in die Karibbiese eilande en in Wim Wenders se Buena Vista Social Club sien ons die armoede, maar ook die lewensvreugde van die mense. ‘n Plek om ‘n sigaar te rook!

Daar woon ongeveer elf miljoen mense op 110 860 sq m en in die hoofstad, Havana, vertoef 2 200 000 mense. Die inwoners is 60 persent Spaans, 22 is van gemengde afkoms, 11 persent is van Afrika en 1 persent is Sjinees. Die taal is Spaans.

47 persent van die inwoners is Katoliek, 4 persent Protestant en ongeveer 2 persent is Santería. Die kommunistiese land se hoof is Fidel Castro.

Suiker, minerale, tabak,landbou en toerisme is die belangrikste inkomste. Handel word gedryf met Wes-Europa, Latyns-Amerika, Rusland, Sjina, Iran en Noord-Korea.

Ernest Hemingway, het ‘n lang verbintenis met Kuba gehad. Sy uiteindelike selfmoord is voorafgegaan met hewige drinkbuie en flirtasies met die dood. In 1954 was hy onder meer in twee vliegtuigongelukke, waarvan die tweede so ernstig was dat sy dood in die pers aangekondig is.

Sy verbintenis met Kuba het tot in 1960 geduur.  Sy ondersteuning vir die rewolusionêre magte het hy openlik bely. Hy het ‘n onrustige lewe gevoer. Hy het dikwels gereis: na Spanje, na Kuba, na Frankryk. Moveable Feast, 1960 lewer verslag van sy bestaan in Parys waar hy onder andere bevriend was met Getrude Stein en ander lede van die bekende kunskoterie. Death in the Afternoon en The Old Man and the Sea is waarskynlik sy belangrikste werke volgens my, ofskoon sy hele oeuvre belangrik is. Sy gestroopte styl en gelade sinne, op die oog af kil, maar onderlangs vol sub-teks, is sy kenteken.

Hy het vele liefdesverhoudings, huwelike en flirtasies gehad. Dit was glo John Dos Passos wat op ‘n keer gesê het dat Hemingway met elke nuwe boek ‘n nuwe vrou moes hê.

Ten spyte van sy macho-beeld was hy in wese ‘n onseker, onrustige mens wat nooit op een plek kon wees nie. Of in een verhouding nie. Hy was altyd ‘on the road’, aan die wegvlug. Hierom waarskynlik sy drankverslawing wat gelei tot opnames in klinieke. Hemingway se wond was in alle waarskynlikheid die selfmoord van sy vader. En sy oorbeskermde moeder na wie hy uiters onvleiend as ‘n teef verwys het. Die konflik van sowel macho-man wees as sensitiewe, gevoelige kunstenaar was waarskynlik die duidelikste rede vir sy selfmoord.

Hy sou net op ‘n visvanguitstappie gegaan het vir ‘n paar dae in 1932, maar het uiteindelik ‘n verblyf van vier maande geword en soos Kelley Dupuis meen, het die koms van ‘n nuwe baba en ‘n moeilike verhouding met sy vrou, Pauline, vir hierdie wegvlug na Kuba gesorg.

Jean Patchett & Ernest Hemingway (c) Clifford Coffin, Vogue,1950

Hier het hy in die Hotel Ambos Mundos gebly en ‘n verhouding begin met ‘n jong vrou, Jane Mason tot die chagrin van sy vrou Pauline. In Havana het hy bulgevegte en haangevegte ontdek en verwoed dacquiris gedrink by die Floridita kroeg. Jane Mason was ‘n kortstondige flirtasie, want hy begin ‘n verhouding met Martha Gellhorn met wie hy later trou en na Spanje reis. Martha sou hy na Finca Vigia (die “Uitkyk-plaas”) terugbring.

In die digkuns van Wallace Stevens is hierdie dae in Havana ‘n tydperk van dekadensie en Dupuis verwys daarna as Amerika se bordeel.  Tydens die oorlog het hy sy eie vistreiler van masjiengewere voorsien om die Duitsers wat in die Golf van Mexiko was te probeer fnuik. Skryf was beslis sy groter talent.

Castro het Hemingway se huis ná sy dood tot ‘n museum verklaar en die skrywer se naïewe bewondering vir Fidel het die Amerikaanse regering van die tyd die harnas ingejaag, gegee die vrees vir Kommunisme.

Sy macho-bestaan en sy voorliefde vir marlyn-vangs is waarskynlik die allergrootste rede vir sy liefde vir hierdie land soos dit tot uiting kom in The old Man and the Sea en Islands in the StreamDaar is waarskynlik min skrywers wat so ‘n hartstogtelike verhouding met die see gehad as hierdie skrywer. The old Man and the Sea bly steeds ‘n enorme letterkundige prestasie. Die oënskynlike ekwilibrium wat ‘n mens in hierdie teks sien, was egter van korte duur vir die outeur daarvan. For whom the Bell tolls (1940) is die ander tydlose prestasie van ‘n skrywer wat die pols van ‘n stad, land of seestroom in woorde kon stulp: Parys, Spanje en die Golf van Mexiko, o.a. Death in the Afternoon is ‘n persoonlike gunsteling.

Alle biograwe wys daarop dat skryf die enigste manier was waarop hy sy demone kon besweer en waarskynlik toe hy nie meer kon skryf nie, was die dood die enigste uitweg.


In 1954 is hy bekroon met die Nobelprys vir Letterkunde.

Op Sondag 2 Julie, 1961 het hy homself doodgeskiet in ‘n klein houthuis in Ketcham, Idaho.  Time/Life het jare gelede ‘n foto van Hemingway gepubliseer ‘n paar dae voor sy dood. Hy staan voor die houthuis en skop argeloos na ‘n blik…


Bibliografie:

Ernest Hemingway in Cuba. © Ernest Hemingway, 2013


The Ernest Hemingway Home & Museum. © 2013 Hemingway Home

Ernest Hemingway. 1923. Three Stories and Ten Poems (Kortverhale)
Ernest Hemingway. 1925. In Our Time (Kortverhale)
Ernest Hemingway. 1926. The Torrents of Spring (Roman)
Ernest Hemingway. 1926. The Sun Also Rises (Roman)
Ernest Hemingway. 1927. Men Without Women (Kortverhale)
Ernest Hemingway. 1929. A Farewell to Arms (Roman)
Ernest Hemingway. 1930. The Fifth Column and the First Forty-Nine Stories
                                          (Kortverhale)
Ernest Hemingway. 1932. Death in the Afternoon (Roman)
Ernest Hemingway. 1933. Winner take Nothing (Kortverhale)
Ernest Hemingway. 1935. Green Hills of Africa (Roman)
Ernest Hemingway. 1937. To Have and Have Not (Roman)
Ernest Hemingway. 1940. For Whom the Bell Tolls (Roman))
Ernest Hemingway. 1942. Men at War (Bloemlesing)
Ernest Hemingway. 1950. Across the River and into the Trees (Roman)
Ernest Hemingway. 1952. The Old Man and the Sea (Roman)

En Postuum:
                                                     
Ernest Hemingway. 1962. The Wild Years (Versameling)
Ernest Hemingway. 1964. A Moveable Feast (Roman)
Ernest Hemingway. 1967. By-Lines (Joernalistieke verslae)
Ernest Hemingway. 1970. Islands in the Stream (Roman)
Ernest Hemingway. 1972. The Nick Adams Stories
Ernest Hemingway. 1979. 88 Poems
Ernest Hemingway. 1981. Selected Letters


VIII. Kuba

Wallace Stevens

By geleentheid skryf Wallace Stevens: ”Life is an affair of people not of places. But for me life is an affair of places and that is the trouble”.

Hy is ‘n  belangrike digter wat dikwels vergelyk word met T.S. Eliot. Sy gedigte beskryf dikwels ‘n winterlandskap en by geleentheid het hy in ‘n brief geskryf aan sy uitgewer dat ‘n digter net in die winter werklik kan dig. Maar dit is ook so dat daar verskeie verse te vind is in sy oeuvre wat handel oor die son en die eksotika van veral Kuba en Mexiko.

Die kritikus Peter L. McNamara verwys na die “shrewd insight into sensuous reality” in hierdie digterskap. Stevens was nie ‘n groot reisiger nie en as ‘n mens sy briewe lees, dan is dit duidelik dat hy vir kort periodes na Florida, Havana en na Kalifornië gereis het via die Panama Kanaal. Maar hy geweldig baie gelees oor vreemde lande en in ‘n brief aan ‘n vriendin in Frankryk skryf hy dan ook dat hy oorleef op poskaarte uit Europa! (aldus George S. Lensing).

José Rodríguez Feo, ‘n Kubaan het aan Harvard studeer waar Stevens ook ‘n student was en in 1944 versoek hy Stevens om sy beroemde vers “Esthétique du Mal” te vertaal vir die tydskrif Origenes.  So is Stevens dan bekend gestel aan die Kubane en uit hierdie vriendskap met Feo het die digter ook heelwat te wete gekom oor die kuns en letterkunde van Kuba. Stevens het geweldig belang gestel in kuns en vele van sy gedigte handel dan oor beroemde skilders se werke.

Veral die sketse van Mariano word aan die digter bekend gestel en die daaglikse bestaan vorm ook deel van hul korrespondensie, soveel so dat Stevens ook groete stuur vir Feo se moeder en haar burro, Pompilio! Trouens, een van die briewe van Feo aan Stevens word later ‘n gedig: dit handel oor die moeder wat die seun waarsku om nie in die koue Parys te bly nie, maar terug te keer. Die gedig heet “The novel”.

Call the roller of big cigars,
the muscular one, and bid him whip
in kitchen cups concupiscent curds.
Let the wenches dawdle in such dress
as they are used to wear, and let the boys
bring flowers in last month’s newspapers.

(“The Emperor of Ice-Cream”).

Nie alleen het Wallace Stevens letterlik na Kuba gereis nie, maar ook sy gedigte het na hierdie land gereis. Wim Wenders het in sy lieflike film, The Buena Vista Social Club die musiek van hierdie land opgevang en ‘n gelyknamige restaurant in Groenpunt is ‘n plek waar ‘n mens iets van ‘n tweedehandse Kuba kan ervaar: sigaar in die hand. Hier het ek al met Daniel Hugo gesels asof ons in Kuba is.

Maar wat behels Kuba?

“Is daar ‘n werklike Kuba of is dit alles voorstellings wat ons iewers gelees het en wat net lewend gehou word vir toeriste?”, vra ‘n siniese Duitser my op die stoep van die Inglaterra hotel terwyl ons saam instrumente bespeel met die Jamaikaanse band.

Nee, Kuba bestaan, verduidelik ek vir hom. Dis wat ek oor hierdie land gelees het en die bruisende energie het skrywers soos Wallace Stevens en Hemingway aangetrek. Toe Hemingway die Nobelprys gewen het, het hy immers opgemerk dat die prys eintlik Kuba toekom, nie hom nie.

Ek besoek die Hotel waar hy tuis gegaan het, die kroeg waar hy gedrink het en neem foto’s van o.a. Bodeguita del Medeo waar hy ook was.

Die Duitser voel steeds Havana is dood.

Jy weet nie waarvan jy praat nie, dink ek. Die bruisende energie is tasbaar. Dit is soos ‘n aansteeklike siekte.

Kamer 511, Hemingway se suite in die Ambos Mundos © Clive Baugh

Die Ambos Mundos Hotel is ‘n museum in die kleine vir Hemingway. Sy bed, sy tikmasjien, sy lessenaar en ander memorabilia is alles daar te vinde. Teen ‘n skamele $2 sien jy sy kamer met die asembenemende uitsig oor oor die see.

Die gids weet te vertelle dat sy handskrif skeef en afwaarts geloop het weens sy depressie.

En so dig Pablo Neruda oor Kuba:

Nou is dit Kuba

Toe was daar bloed en as.

Binekort sal die palms alleen wees.

Kuba, my geliefde, hulle het jou op die rak geplaas.
jou gesig gesny,
jou bene van vaalgoud oopgedruk,
jou rooi granaatkont saamgepers,
jou met messe gesteek,
jou aan stukke geruk, jou verbrand.

Deur die valleie van soetheid
het die moordenaars beweeg.
Op hoë berge was die kroon
van jou kinders verlore in die mis,
maar hulle is oorval,
deur die dood,
een vir een,
stukkend geruk in ellende,
weggeruk uit die oorvloedige land van blomme,
onder die sole van hul voortvlugtende voete.

Kuba, my geliefde, wat ‘n oorweldigende vrees
het jou geruk van  skuim tot skuim,
totdat jy gesuiwer word,
in alleenheid, stilte, dig groei,
terwyl die krappe veg
om die klein gebeentes van jou kinders.


Ek moet Stevens gelyk gee: die grootste verhoudings is met stede…


Bibliografie:

McNamara, Peter, L. 1972. Critics on Wallace Stevens. Florida: University of Miami Press. (Hierin opgeneem: George S. Lensing:”Stevens’ Letters of Rock and Water”.)

Neruda, Pablo (vertaal: Jack Schmitt). 1991. Canto General. Berkeley: University of California Press.

Stevens, Holly (red.). 1954. Letters of Wallace Stevens. New York: Alfred A. Knopf.

Stevens, Wallace. 1954/1990. Collected Poems. Londen: Faber & Faber.


IX. Kuba

So beleef ek die twee aand na my aankoms in  Havana een van hul beroemde storms oftewel “hurricanes”. Dit reën verwoed en net so skielik as wat dit begin het, net so gou is hierdie storm oor.

Hierdie somer- of winterstorms kan huise platvee en dakke verwoes. Ek kyk deur die hortjies van my Merchant/Ivory-hotel na die storm. Aanskoulik soos enige natuurverskynsel wat ‘n bietjie kan hande uitruk.

Kuba lyk glo soos ‘n krokodil, aldus die digter Nicolás Guillén en die ou Cadillacs en Chevs wat deur die strate kruie, lyk soos haaie.

Hoekom hierdie ou motors wat ‘n mens nie meer elders te sien kry nie? Tydens die petrolskaarste mog gewone mense nie motors besit nie. So as jy reeds ‘n kar gehad het, moes jy dit mooi oppas. Dus ‘n boer maak ‘n plan. Met allerlei blink planne is ander motors se onderdele gebruik om die motors aan die gang te hou. Fietse is ook ‘n gewilde manier van beweging. Soos ook die riksja-fietse waarmee jy deur die agterbuurtes kan kronkel. Party mense meen hulle ry ook in Chevvies om Ché te huldig.

Ek het egter my een oggend vasgeloop met ‘n jong outjie wat telkens van die fiets afklim, en fluister: ”Policia!”. Dan ry hy weer in die teenoorgestelde rigting, en fluister: ”Policia.”

Maar ons bly in sirkels beweeg in die labirint van Havana se agterbuurtes. A, besef ek. Hy wil my laat koers verloor en dan gaan hy my beroof. Maar Ariadne Hambidge verloor nie sommer haar draad nie. Ek is ‘n deurwinterde reisiger, ek ken al die ou trieks in die boek (het ‘paar selfs uitgedink), en hy sal moet vroeg opstaan om my uit te vang.
Toe hy dus vir die vierde keer van koers verander, spring ek adret af  soos wat Hestrie Cloete my nie sou kon nadoen nie.

Ek gee hom sy $5 en beweeg vinnig weg. Ek dra nie verniet ‘n krokodilkenteken op my bors nie, Ouboet.

Toe is ek gelukkig naby Hemingway se beroemde bar. El Floridita. In die hoek staan ‘n lewensgrote beeld van Ernest waar hy hang oor die kroeg. Voor hom ‘n glas – altyd gevul -, ‘n boek en sy bril. Ek vra ‘n toeris om ‘n foto van my en die groot skrywer te neem. Ek en Hemingway gesels alte lekker oor Graham Greene se Our Man in Havana, die digkuns van Wallace Stevens en waarom skrywers deur die jare graag hierheen gekom het. Dat daar iets hier onderlangs aan die beweeg is waarop ‘n mens nie die vinger kan lê nie.

“Ernest,” seg ek, “het jy geweet Italo Calvino is hier gebore?”

“Kyk, ek is ‘n ‘man’s man’. Daardie tipe van boeke wat hy skryf, staan my nie aan nie. If on a winter’s night a traveller. Klomp bogtery. Hy kan nie skryf nie. Skryf moet woeker met die primordiale. Met die mens teen die natuur. The old man and the sea is my beste poging in hierdie verband. Dit gaan oor die mens se dieper drifte. Die see. Dink jy Calvino met sy fyn handjies sal ooit ‘n marlyn kan uitpluk?”

“Maar daar is tog verskillende maniere van skryf, Ernst?”

“Nee wat. Party skrywers mors hulle tyd. As jy nie skryf met alles binne-in jou nie, moet jy dit eerder los. Moby Dick is ‘n groot boek. Kyk, ek staan elke oggend vroeg op. Skryf. Smiddae drink ek met my vriende tot laataand. Daar kry ek idees vir my stories en die volgende oggend is ek weer op die been. Jy moet lewe om te kan skryf. Ek dink skrywers wat net in hulle studeerkamers bly, moet liewers skryf los. Ek sit alles in my boeke. My hele lewe. Dis hoekom my vrouens ook nie lank kan uithou nie. Hulle kan nie my onrus en obsessie verduur nie.”

“Nog ‘n dop, Ernest?”

“Dankie. My dop bly altyd vol. Ek het ‘n rekening-in-die-ewigheid hier.”

Toe ek buite kom, staan daar ‘n bedelaar. Saggies en lief vra hy vir geld. Ek knik nee en die voorspelbare gebeur. Hy beswadder my. Tipiese van die Kubane.

“Gaan vra vir Ernest Hemingway geld,”snou ek hom toe.

“Ernest, he dead.”

Ek weet jou swaap.


19 Januarie 2004


X. Kuba

Dis my sesde dag in krokodilland en ek begin die stad soos die palm van hand te ken. Daar is drie gedeeltes, te wete die sentrale gedeelte waar die pragtige Capitolio te siene is, ‘n replika van Washington DC se Capitol. Die twee bronsbeelde is gemaak deur die Italiaanse beeldhouer, Angelo Zanelli.

Die bekoorlike Habana Vieja, oftewel, die ou gedeelte van Havana is waar jy die gewone mense sien leef. Dis hier waar ‘n mens die werklike polsslag van die stad kan voel: dit wat buite die gewone toeris se oog lê. Ofskoon die mense baie arm is, die leefwyse oer-eenvoudig lyk, blyk hulle gelukkig te wees. Hulle praat net ontsettend hard. Gereeld moet ‘n mens in die hotel, of waarookal, jou ore toedruk oor ‘n gesprek wat verby toelaatbare desibels dreun. Ek neem wel die mooiste foto’s van die onbekende Havana, dit wat nie in glansboeke geregistreer word nie. Daar is baie jong kinders: hulle is goed versorg en dit is duidelik dat die ouers omgee vir hulle.

Skole en universiteite is gratis en omdat dit die 45 jaar na die rewolusie is, is alle kinders vandag op straat. In hulle netjiese skooluniforms wag hulle om die generaal in te wag. Dis ‘n dag van feesvieringe. Die laerskoolkinders in hul rooi uniforms en die hoërskoolkinders in geel geklee.

Gaan Fidel Castro opdaag?, vra ek die reisgids. Dit blyk dat hy ‘n afgevaardigde stuur, omdat hy nie gesond is nie. Maar dit woel op die strate. Ook die ikoon Ché Guevara word orals opgemerk: op T-hemde en sy gesig is ook op ‘n rewolusie-gebou afgeëts. In eetplekke is daar vele foto’s van Fidel Castro met ‘n sigaar.

En ook vele foto’s van Hemingway en selfs ‘n handtekening van Pablo Neruda teen die muur van La Bodeguita del Medio.

Die westerse gedeelte van die stad heet Vedado en Plaza.

Die Castilli del Morro, oftewel die stad se vuurtoring, kan veral van verskillende gedeeltes van die stad gesien word. Die see slaan dikwels oor die muurtjies, terwyl mense wandel, eintlik rondslenter.

Wees gewaarsku: moenie kos op straat koop of van die water uit die krane drink nie. Dit is egter waar van elke stad op aarde: oppas vir die water as jy ‘n vreemdeling is. Die kos by die mark lyk nogal vars. Ek waag dit selfs om seekos te eet in die hotel se dakrestaurant en hoewel ek nog nooit hoog opgegee het oor kreef nie, is hierdie seekos-bord heerlik! Die vis, garnale en kreef is vars. Ek is gelukkig so geneus, dat ek ‘n bord kos wat ‘af’ is kan raak ruik soos ‘n narwal ‘n skool vissies.

Die argitektuur van Havana is om van te swymel. In hierdie verband is die Palacio de los Capitanes Generales ‘n voorbeeld van agtiende eeuse Barokkuns en beeldhouers soos Gaggini en Tagliafichi het hier ‘n hand bygesit. Dis waarskynlik wat ‘n mens die meeste tref, net soos ‘n besoek aan Maputo: iewers, lank lank gelede, was hier ‘n ander lewe, ‘n ou koloniale bestaan waarvan ‘n mens nou net die vingerafdrukke en oorblyfsels sien.

Daar is wel duidelike tekens van restourasie. Geboue word gesloop, mure word geverf. Dit is juis die kreoolse invloede: die ontmoeting van verskillende kulture en gelowe wat van Havana so ‘n bruisende stad maak.

Necropolis Colón in Havana © 2012 Jason van Bruggen

Necropolis Colón heet die stadsbegraafplaas waar vele beroemdes begrawe is.

Boonop is ek bevoorreg om in een van die bakens van die stad tuis te gaan: Die Hotel Inglaterra, ‘n ou statige vierster-hotel ($100 per nag). Die invloed is Moors en in die foyer vind ‘n mens Andalusiese mosaïek en hulle weet te vertel dat daar op een van die pilare in die restaurant geskryf staan: “Alleenlik Allah is die oorwinnaar”. Die hotel is in 1875 opgerig. Bekende intellektuele soos Martí het hier sy toesprake teen Spanje gehou en die aktrise Sarah Bernhardt en die Russiese ballerina Anna Pavlova het ook hier tuisgegaan.

Dis ‘n spoggerige hotel met ‘n mudéjar of Moorse gevoel. My kamer (nommer 205) kyk uit op die besige stadsplein en as jy ‘n nappie vang in die middae, word jy laatmiddag wakker gemaak deur ‘n oempa-band of  een van die Afro-Kubaanse musiekmakers wat daagliks op die stoep speel, hulle CD’s verkwansel en ‘n wonderlike ambience skep.

In jou kamer is ‘n TV, jy kan ook die hotel se internet gebruik en soggens ‘n wonderlike ontbyt nuttig met plaatkoekies. Ook vars vrugte is hier verkrygbaar:  altyd noodsaaklik vir die reisiger, glo my. My stad is ‘n bekende baken en laatmiddag verken ek die ouer gedeelte van die stad. ‘n Jong man, ook ‘n riksja-man, verduidelik vir my dat die polisie hulle vastrek as hulle toeriste vervoer. Vergewe my dus, vorige riksja-man, dat ek jou daarvan verdink het dat jy my wou beroof!

Later die dag sien ek hom en hy wuif vriendelik vir my. O vergewe my my nare gedagtes!

Elke dag wandel ek deur die stap en neem veral foto’s van jong kinders: omdat kinders tussen 3 en 5, wat my betref, die mooiste verteenwoordig van die menslike ras. Drie kleuters sit op ‘n stoep: een met ‘n drommetjie sit langs twee dogtertjies.

“Mag ek ‘n foto van julle neem?”, vra ek op fletserige Spaans.

“Ja, seker!” En hulle lag alte fraai in die kamera in, totaal onbewus van die armoede en swaarkry wat op hulle wag. En my hart is sommer baie seer. Maar wat, dink ek later. Hulle maak nie van armoede iets lelik nie, soos ‘n karakter in Antjie Krog se A change of tongue opmerk dat mense in Afrika armoede ver-lelik.

So daar is tog hoop.

“Gracias, nino, ninas!”, seg ek. Hulle wuif terug. Hulle is nog nie deur die gemeenskap aangetas nie. Hulle kyk nog onbevange na die lewe, die derdeoog nog oop.

10 Januarie 2004


XI. Kuba

“Hoe lyk dit met ‘n pub crawl deur Havana?”, vra ‘n nuwe vriend op die voorstoep van die Inglaterra.

Maar alte graag!

Ons begin by die El Floridite waar Hemingway die daquiri beroemd gemaak het. Rum, suiker, suurlemoen en ‘n paar druppels maraschino op ys.

In die dertigerjare het die kroegman, Constante, met die hulp van Hemingway, hierdie drankie beroemd gemaak. (Dit proe baie soos die caipirinhia wat op sy beurt ‘n mengsel van rum en suiker is en wat die alkohol weens die suiker daarin per spoedpos na jou bloed versend.) Constante, oftewel, Constantino Ribalaigua, het die mite van die ‘cradle van die daquiri’ geskep en vele besoekers tros vandag na die kroeg om Hemingway se beeld te sien, ontwerp deur Fernando Boada. Ek het nogal geskrik toe ek die beeld die eerste keer sien: sweer dit lyk nes vriend Jurie Wessels!

La Bodeguito del Medio is ook ‘n goeie roep vir ‘n drink, behalwe dat almal die plek wil besoek om die beroemdes se handtekeninge teen die muur te sien: Nat King Cole, George Benson, Jane Fonda…

“Waar is Neruda se handtekening?”, vra ek. Maar daar is soveel handtekeninge dat ‘n mens vir die eerste keer die woord “palimpses” reg vertolk. Ek weet ek dit die vorige keer gesien, maar waar is dit nou?

Palimpses, nee eerder impedimento.

Daar is verskillende soorte Kubaanse rum: Carta blanca (driejaar oud), Carta oro (vyfjaar oud), Ańejo (sewejaar oud).

Veral Havana Club is nogal uiters gewild en aan te bevole: veral as jy die rum met ys drink. Ek het in die Amasone kennis gemaak met die vreugde van die caipirinhia en die “chase” wat dit to gevolg het.

En die hotel waar ek tuisgaan, die Inglaterra, het van die beste Franse, Spaanse, Chileense en Kubaanse wyn. Dus beur ons terug soheentoe. Die Kubaanse huiswyn is wonderlik. Dis lig, sonder om suur of blikkerig te proe, soos wat dikwels die geval is met goedkoop wyn. Vra my, want ek is ‘n voorste wynsnob: my huiswyn is Beyerskloof Pinotage en daar is niks, maar niks wat by Zandvliet Shiraz kom nie, dankie.

So hier in die hotel stop die kroegkruip. Ons wikkel deur verskillende oesjare en die Chilene kry wat my betref die eerste, tweede en derde plek met ‘n Cabernet en Merlot.
Hoe dan anders met ‘n land wat Neruda opgelewer het!

Vir my nuutgevonde vriend, ‘n Duitser, maak ek bittergou bewus van die feit dat Suid-Afrikaanse wyne besonder goed is. En dit is nie ‘n soort nasionalisme wat nou na vore kom in die vreemde nie, maar die keiharde feite. Ons wyne is prima. Met so ‘n aand waar ‘n mens ruimskoots en gul en sonder brieke proe en bestel en smul, kan jy vergelyk en beoordeel.

My Duitse vriend, Dirk, is ‘n didactus educatus. Effens irriterend-beterweterig, maar groot pret as dit kom by die smul aan die wyn en teug aan die Havana-sigare. Boonop weet hy waarvan ek praat: hy het onse wyne al meegemaak op ‘n besigheidsbesoek aldaar en probeer verbete om homself in Kaapstad of Johannesburg te vestig.

Ons drink en proe aan die beste wyne en bepunt hulle, soos ‘n bekende literator graag gesê het.

Die lewe is volgens my te kort om slegte wyn of slegte koffie te drink. Of met lelike vrouens te lanterfanter. That’s me, baby.

In die hoek van die hotel is ‘n ou dame besig om klavier te speel, terwyl die gaste smul aan hul kos. Die kos is smaaklik en sonder fieterjasies. Die porsies is groot. My dis is gebraaide hoender (pollo) op sampioene. Aartappels en kool as bygeregte, met die ewige Kubaanse rys wat orals opduik. Dirk eet gestoomde vis wat bottersag is met groente wat nie doodgekook is nie. So word die vitamines en smaak behou, dankie. Ons elkeen se rekening is ‘n billike $20 vir lekker eet en drink. (Ons proewerasies, uitgesluit. Ek is bang my moeder lees hierdie rubriek.)

Ag, en daar in die hoek tokkel sy my hele liefdessmart uit: van “Over the rainbow” tot “Somewhere my love” tot uittreksels uit “The merry widow”.

Vir ‘n oomblik is ek Judy Garland, dan Julie Christie as Lara…en verbeel my ek is Onse Mimi wat saamneurie aan die Vilja-lied.

Og, in my teerder jeug sou ek ‘n vers oor hierdie toeval gemaak het. Nou dink ek net: mag dit goedgaan met almal wat eens deel was van my lewe! Ek is nou die ‘merry widow’ al het ‘n ou taxi-bestuurder gister vir my gevra of die oom nie dalk ‘n taxi wil hê nie.

Nee dankie, tannieoom stap sommer deur die strate, want dit is “a long, long way to Carol OK.”

Wat ‘n wonderlike eiland is dit nie!

Salut!


Bibliografie:

Eyewitness Travel Guide: Cuba. 2002. Londen: Penguin.

10 Januarie 2004


XII. Kuba

Waar ego is, sal id wees, het Sigmund Freud opgemerk. Jacques Lacan het weer gemeen dat die onbewuste daardie plek in jouself is waar jy dink jy nie is nie, maar juis is.

En dis so met reis. Reis is een van die mees verregaande beproewinge wat die menslike psige kan deurmaak. Dit ont-wortel jou, dit ontheem jou, maar vreemd genoeg bring dit jou juis die naaste terug aan dit wat jy sopas verlaat het. Jy kry perspektief. Jy kyk terug en skielik verstaan jy alles omtrent die lewe wat jy agter jou op slot geplaas het. Jy kyk met helderheid na jou vriende, jou verbintenisse, jou verhoudings.

Jy word gestroop van al jou illusies. Jy droom geweldig. Jou onbewuste maak oop en jy beleef etlike slipperasies van en uit die onbewuste.

Terselfdertyd is jy aan die beweeg in ‘n nuwe ruimte. Jy neem in, meer as wat jy besef. Dikwels kan dit jou op ‘n subliminale vlak steur. Jy kan siek word (fisies), maar die ergste siekte is die psige wat in stukke opbreek.

Aan die begin van jou reis is jou klere netjies. Soos wat jy verder beweeg – al laat was jy jou klere in die hotel  - begin jy uitrafel. Jy kan ‘n reisiger op ‘n afstand herken. Die klere is effe verkreukel.  Die skoene vuil(erig), die aura beklodder.

Jy sien meer as dit wat in die toeristiese gidse uitgestippel word. Jy tel die ‘vibes’ van ‘n stad op. Toe ek in Rusland was in 1991 – net voor die putsch – kon ek die naderende omwenteling aanvoel in die mense se optrede.

Es ist in der Luft, soos die Duitsers seg.

In Kuba voel ‘n mens die gelatenheid van gewone mense.

“As hierdie mense in opstand kom en die sisteem stort in duie, is ek bevrees die drug lords van Miami mag inbeweeg, sal die hele ambience van Kuba verander,” meen ‘n Britse toeris. “Vir nou is alles nog goed en aanvaarbaar. Maar dit kan en gaan nie vir ewig duur nie. Dan sal mense meer wil hê, meer wil beleef.”

Jy word ook bewus van hoe duur alles is. Die grypsug van restaurante en toeristiese attraksies is oorweldigend. Almal staan bakhand. Met dollartekens oor die oë soos in ‘n komiekstrip. Sit jy op ‘n stoep en luister na musiek, staan daar skielik ‘n bedelaar neffens jou. Bakhandjie. Gee jy niks, word jy uitgeskel.

Sondagmiddag – twee weke op reis – en ek is poegaai. Vanmiddag gaan ek inslaap soos die ou mense sê en ‘n bietjie uitrus. My stukke optel. Die Sondag-melancholie, waar jy  ookal op aarde is, trap in jou spoor soos daardie hond in Van Wyk Louw se gedig.

Half-vyf skrik ek wakker en stap na die Floridita. Die spyskaart van die kroeg-cum-restaurant is rondom Hemingway gekonstrueer.

“Papa and Mary” is kreef en kalfsvleis (gemeng) en die sogenaamde “Giant Hemingway Plate” is duur seekosse op een bord. Vleis en vis, soos Hemingway dit opgesmul het, is al die disse hier. Maar teen uitspattige duur pryse, terwyl jy weet nie een kelner het waarskynlik eens ‘n boek van Ernest gelees nie.

Jy word vir die spreekwoordelike rit hier geneem. Twee bier en een daicguiri (daardie rum-drankie) jaag jou $15 uit die sak. Alles is presies tweekeer duurder hier, omdat dit rondom die mite van Ernest Hemingway gebou is. Jy kan byvoorbaat sien hoe skrams die paella (teen $15) sal wees. In  die Inglaterra kan jy presies vir die helfte van hierdie prys eet en drink.

‘n Vegetariese J.M. Coetzee-restaurant in Kaapstad?  Of ‘n steakhouse vernoem na Alexander Strachan?

Nee wat, uiteet en smulpapery is wonderlik, maar nie teen buitensporige pryse nie. Ek het my al vantevore in my lewe so laat inloop met ‘n naam ( “o name, o versugtinge”). Maar net langs die Hemingway-kroeg is ‘n Italiaanse restaurant. Ek drink ‘n Spaanse wyn (René Barbier van 1997, Penedès) teen $12. Die kos is wonderlik. Die ambience hartlik, sonder om opdringerig te wees.

Teen die muur hang daar afdrukke van Rome. Rome in Kuba?

My genotvolle ete word bruusk onderbreek deur die eens galante eienaar.
“Jy het nog tien minute, dan moet jy vertrek.”  Dit terwyl ek nog smul aan my Barbier van Seville? En dis nie asof daar ‘n tou mense buite wag nie. Daar is twee tafels leeg.
“Mag ek my wyn klaardrink?”, vra ek sarkasties. Ek reken af, betaal die duur rekening, maar laat geen fooi. Oh hell has no fury as a traveller scorned..

“Meneer,” roep ek,”jou footjie.”

Hy stap gulsig nader, neem die bruin rekening-boekie.

Binne-in staan ‘n nota. Net vir hom gekomponeer.

“Jy het sopas my ete bederf. Ek sal beslis nie weer kom nie. Jy bewys net wat ek reeds weet van Kuba: julle is geldhonger.”

Hy bloos wynrooi.

“U het my verkeerd verstaan. Ek het net bedoel u sit al twee ure hier.”

Ek verlaat sy restaurant. Spoeg ‘n heksewens op hom en sy restaurant uit.

En onthou: jare gelede sit ek en Henning Pieterse in Pretoria in ‘n restaurant met ‘n vriend. Die bestuurderes maak ons stil: julle steur die ander gaste. Daar is een ander tafel. Steur?, vra ons.

“Dis ‘n grand plek hierdie,” teef sy. “Jy lag te hard, mevrou,”mor sy.

Nou as jy my teen ‘n dak wil laat uitklim, noem my mevrou. Of erger nog, vrou. (Wat my ook laat onthou: jare gelede spreek ‘n kelner my as ‘sir’ aan omdat hy my van agter aanskou. Die hele aand, tot groot hilariteit het ek plegstatig elke versoek met “sir” begin.)

“Ag nou ja, dan gaan ons maar na ‘n ander plek,” retorteer my vriend,” Ek kan sien hoe besig julle is.” Ons verlaat die plek, ietwat in die wiek geskiet. ‘n Paar maande later verneem ons die plek moes toemaak.

Nou ja, Tropicana (wat ‘n naam!): mag die Tiber deur jou sakke vloei. 

Nee Oom Siggie, waar reisigers beweeg, daar is geld.

12 Januarie 2004


XIII. Kuba

Hoe lyk die landskap rondom Havana?

Ek bespreek ‘n dagreis om sowat vir drie ure buite Havana te beweeg. Dis ‘n aanskoulike reis. Waar die stad Havana, neffens die see, ‘n ou kolonistiese wêreld verraai, is die leefwyse op die platteland eenvoudiger. Daar was indertyd swier in Havana, die weet ‘n mens. Jy kan dit op die geboue sien.

Buite Havana lyk soos Magoebaskloof en Mosambiek: welig, geil, tropies. Piesangbome, mango’s, tabak en geil plantasies groei ongebreideld. Ons sien die mees aanskoulike berg vol stalagtiete. Gedagtig aan my jeug in die Kango-grotte, wys ek die grot-uitstappie van die hand. Julle kan my later optel, verduidelik ek. My keel trek sommer by voorbaat toe.

Voor die grot is daar teater: twee Indiane (uit Venezuela) speel vir ons hul lewe voor ‘n tentjie uit. Die jong man met ‘n voorskootjie blaas ‘n lied uit sodat hoor en sien vergaan.

Habana is ‘n Indiaanse woord, verduidelik ons gids. Hulle stap die grot binne, ek draai om. Goddank vir Hewlett Packard se OmniBook Xe3 waarop ek kan skryf. Sê nou net hulle vergeet van my en ek moet hier agterbly? In my geestesoog sien ek hoe ek deel word van die teater, ‘n latter-day Pocahontas!

My reisgenote is Spaans en Italiaans. Die gids verduidelik ter wille van my alles op Duits. Ek raak bevriend met twee Taljaners uit Milaan en ons gooi die tale rond. Bietjie Duits, bietjie Italiaans, ‘n skeutjie Spaans en geniet die dag saam. By Vinales kan jy teen $1 op ‘n torro of bul ry. Nicoletta uit Milaan laat nie op haar wag nie, sy is dadelik op die bul se rug. Iewers weet sosiologie-teoretici te vertel dat mense wat saamhoort mekaar in sulke situasies opsoek en dan as’t ware saam groepeer. Ek dink daar is ‘n studie o.a. oor die metro in Parys gedoen en hoe mense nie-toevallig later begin gesels, verbintenisse skep, ensomeer. Dus, is die Taljaners my reisgenote vir die dag. Die ander suur Spanjaarde groepeer weer saam en ons reisgids vir die dag vreet baie van ons op.

Ons eet eg Kubaans by ‘n rotskildery buite Vinales – glo met ‘n luidspreker het ‘n kunstenaar hier vir sy handlangers opdragte geskreeu! – en die kos is wonderlik. Rou kool en tamatie as die voorgereg (met olyfolie en asyn); dan bone met die heerlikste beesvleis en patats. Daarna ‘n sjokolade-poeding en espresso. Dis eenvoudige kos, waarvoor Nicoletta haar neus optrek.

“Die kos is te swaar hier,” meen sy.

Ek, self ‘n neusoptrekker, vind dit egter belangrik om ‘n egte Kubaanse maaltyd op die platteland te eet.

Dis weer sulke tyd: “Guantanamera” word getokkel op die snare en ek moet bely: ek het nou al soveel weergawes van hierdie lied gehoor, dat dit bykans my Kubaanse volkslied geword het. Al hierdie liedjies neem my terug na my jeug. My ouers moet een aand gaan dans in ‘n hotel. Dis ‘n werksfunksie. My moeder het ‘n mooi aandrok aan en my vader boek ons in die hotel in. Ons vier kinders mag gebruik maak van “room service” met die streng opdrag: niemand mag die kamer verlaat nie. My ouer suster en die een jonger speel kaart. Die babasus slaap in haar dra-bedjie. En ek? Nadat ek die kelners hot en haar rondgejaag het en lekkers en coke bestel het, hoor ek die wonderlike musiek. Nee, besluit ek. Ek wil sien hoe hulle dans. Onder in die lounge dans die grootmense. Op “Gauntanamera” en ‘n cha-cha. Ek druk my handjie – ek is in standerd twee – deur die half-oop deur. Betower is ek deur die dansende mense. Skielik vat ‘n hand aan myne. Dis my moeder.

Sy neem my terug kamer toe.

“Hoe het mamma geweet dit was ek?”

Sy lag. “Nee ek het geweet dit was jy. ‘n Ma weet sulke dinge.” Sy is gelukkig nie kwaad nie.

En dis waar alles begin: die avonturier, die soeker na iets buite die gewone… 

Ons doen ook aan by Pinar del Rio om ‘n sigaarfabriek te besoek en rum te koop.

Die grootste illusie wat reis verpletter, is dat ons in die oomblik leef. Nee, ons leef in die verlede of toekoms, of word deur herinneringe oorval van ander tye, genadig en ongenadig. Hierdie dagreis neem my terug na Mosambiek en my reise aldaar. Dis ook ‘n retro-leefwyse, met ou geboue wat bykans in die tyd gestol is. Die Portugese/Spaanse leefwyse word gesinkopeer met ‘n Afrika/Kubaanse uitkyk en die eindresultaat is boeiend en opwindend.

Sulke primordiale landskappe roer altyd iets primordiaals in my: ek het Lykdigte in Mocambique geskryf. En daar broei ook dinge uit hier in Kuba.

Iets het verlore gegaan; iets het behoue gebly in Kuba.

12 Januarie 2004


XIV.

Museo Nacional de Belles Artes

Die besoek aan kunsgalerye is altyd ‘n waardevolle representasie van die stad of land se gees. Behalwe dat ‘n mens in Kuba waarskynlik die hele stad tot ‘n museum sou kon verklaar. Van my hotel, die Inglaterra, ‘n ou Spaans-kolonistiese gebou tot en met die geboue in die strate, is ‘n mens bewus van die kulturele erfenis.

Die “Museo Nacional de Belles Artes” gee ‘n aanskoulike uitbeelding van ou koloniale kuns en moderne, selfs avant-garde uitinge. Teen ‘n skamele $5 kan jy hier vir ‘n hele dag stap en kyk na wat die Kubane bygedra het tot moderne en pre-moderne kuns.

Dis ‘n baie aktiewe en intelligente antwoord op die diskoerse in moderne kuns. In die moderne saal vind die kyker veral politieke reaksies – Ché is natuurlik ‘n groot ikoon – en selfs gesprekke met naiewe en pop-kuns. Warhol en sy navolgers is hier.

Vir my is een van die interessantste skilderye ‘n beeld van ‘n skoonmaker wat besig is om ‘n vloer te vee. In sy hand hou hy ‘n besem en dan ondertoe is daar ‘n regte mop! Asof die kunswerk ‘n inspraak op die lewe wil maak. Die Christus-figuur word dikwels gedekonstrueer: ‘n beeld van Christus met messe in en drugs om hom uitgestal, gee ‘n nuwe blik op hierdie vraagstuk. Dis nie ‘n siniese beeld nie; eerder metafisies in die soeke na ‘n werklike antwoord.

In hierdie museum vind die kyker werke vanaf die 17e tot en met die 21e eeu!  Groot name soos Wifredo Lam en Augustin Cárdenas is hier te siene. Ook Leopoldo Romanach is hier op uitstalling, nes die werk van die grensbrekende feminis Amelia Peláez met haar verstommende fusie van Kubisme en Afrika-kuns.

Die Hotel Nacional, ‘n art deco-gebou, is ook ‘n wonderlike kunsmuseum. Hier het Walt Disney, Winston Churchill, Fred Astaire en Buster Keaton kortstondig tuisgegaan. En natuurlik Mickey en Minnie Muis se wiitebrood is ook hier gehou.Die hotel is in 1930 geopen en vir die liefhebber van art deco is dit ‘n wonderlike ervaring.
  
Die Moorse invloed laat sig baie sterk geld in Kuba en vele monumente spog met die feit dat marmer ingevoer is van Carrara. ‘n Eens weelderige lewe was dus part en deel van die Kubane se leefwyse. Die ou-kolonistiese bestel het ook beteken dat Sjinese ingevoer is om te kom help skoffel op die suikerplantasies in die 1800’s en hierom vind ons vandag ‘n Sjinese area wat die heerlikste kos berei. Dit heet Barrio Chino.

Ook die museum van Dans (Museo de la Danza) is die moeite werd om te besoek: hier vind jy die enigste dansmuseum in Latyns-Amerika met vele memento’s van beroemde dansers, soos die legendariese Alicia Alonso.

En die hele Trinidad kan natuurlik as ‘n museum verklaar word met die aanskoulike kerkies en deure. Hier beweeg jy terug in die tyd, in die vervloeë wêreld wat buite enige Westerling se begripsvlak bestaan.

Die grootste monumente, meen ek, is hulle musiekmakers wat saans aanmeld by die hotel se patio. Hier bespeel hulle klassieke soos “I did it my way” op ‘n Karibbiese maat. “Volare” en al die ander ou gunstelinge is ook hier te hore. So halfpad deur die sessie loop die voorsanger om met ‘n mandjie: jy kan ‘n CD koop teen ‘n skamele $10 en ‘n footjie laat.

Hulle representeer Kuba. Hulle is Kuba. Hulle is die beste vertoonvenster en bewys dat hierdie kultuur lewe en altyd sal bly lewe. Geen wonder Wim Wenders, daardie ongelooflike Duitse filmmaker, so begeester  was om die Buena Vista Social Club te maak nie. Terwyl ‘n mens na hierdie musiekmakers luister, begryp jy iets van hulle kultuur: ‘n herinterpretasie van bekende Westerse liedere wat her-interpreteer word en met soveel vuur en drif gelaai word dat dit mooier is as die oer-lied.

“Rumbantela”, “Sabor a mi”, “No te digo nada”, oftewel, “Jy hoef niks te sê” is hier te hore. In die eetsaal van  die Inglaterra, tokkel ‘n vrou, tipies kolonisties, ou klassieke uit vir die verveelde gaste wat hulle nie op die stoep aan die waansin wil oorgee nie.

Así Son, die groep van die aand speel. Agter hulle staan ‘n ou gebou uit die negentiende eeu. So word die verskillende wêreld bymekaar uitgebring.

Kamaraco en Rumi Tienesabor se musiek is ook uitmuntend.

Die Kubane is inderdaad begeester met monumente.


Bibliografie:

Cuba: Eyewitness Travel Guide. 2002. Londen: Penguin.


XV. Kuba

Om per skip te reis, het wyle W.E.G. Louw gemeen, is goed vir die siel. Jy beweeg stadig van een plek na ‘n volgende en jou siel gaan jy nie vooruit of agtergelaat nie. Moderne reis, en in die besonder om te vlieg, beteken jy is baie 14-18 uur binne ‘n nuwe landskap. Dikwels neem dit ‘n paar dae vir jou siel om aan te pas by die nuwe omgewing. Ook met jou terugkeer, sukkel jy: jou psige is nog in die vreemde land, al het jy al fisies tuisgekom.

Natuurlik om baie leë ure te vul, is die wagwoord van reis.

Met vlieg is jy in ‘n beknopte ruimte en jy mag dalk ‘n film kyk of ‘n boek beginne lees. Maar nes jy ‘n ent weg is, word jy gesteur deur ‘n mede-passasier of deur die lugwaardin wat iets aandra. Iets soos hulle antwoord op geskrambeerde eiers.

Maar hoe kry jy jou liggaam en gees gesinchroniseer in ‘n nuwe ruimte? Want jet lag is meer as ontwatering en moegheid. Dis ook die siel wat nie heeltemal in ‘n liggaam tuis is nie.

Slaap, eet, drink en stap.

Eers as die nuwe ruimte regdeur jou sisteem gewerk het (u weet wat ek bedoel), begin die plek in jou inskop.  Jy moet jou klere daar laat was het, jou skoene laat skoonmaak deur ‘n straatpoetser en ten minste een keer jou humeur verloor het.

Ek verlang nooit terug huis toe nie. Die oomblik van aankoms beteken ‘n volledige aanpassing by die nuwe ruimte en met die kodes van die plek. Hierom probeer ek altyd vooraf iets van die land se taal bemeester en lees ek oor die gewoontes van die land.

Kubane vat aan jou arm as ‘n teken van toegeneentheid. In New York sou dit as teistering deurgaan. Hulle hou daarvan as jy hulle land en kultuur komplimente toeswaai. Kubane bedoel dit as hulle vir jou sê ek sien jou weer; in New York beteken “let’s do lunch”, tot siens. In  Kuba sal iemand jou help om ‘n plek te kry (teen ‘n footjie natuurlik); in New York vra jy nie om hulp nie, want jy mag dalk met ‘n versteurde te doene kry. Hier kyk jy in mense se oë en jy mag met hulle praat. In New York is dit nie aanbevole gedrag nie, want oogkontak word as ‘n seksuele uitnodiging gelees.

In ‘n museum mag ek nie my sak (met my my drarekenaar) inneem nie. Dis teen die wet, sê die sekuriteitsbeampte. Ek verduidelik vir hom dis my brein en ek kan dit nie agterlaat by iemand wat dit dalk kan laat val nie.

“Ek begryp,” murmel hy,”maar dit kan nie.”

“Mag ek dalk die rekenaar uithaal en die sak agterlaat?”

Nou het ek onkant betrap, want in sy regulasies staan daar niks van ‘n rekenaar wat onder die arm vasgeknyp word nie.  Hy laat my deur, maar as ek sou baklei, was dit neusie verby.

En die kode? Wys ontsag en respek vir ‘n man in ‘n uniform. Gelukkig het ek films soos Boetie gaan border toe goed bestudeer en ‘n man met ‘n pet kry ‘n salueerteken van my.

Op die stoep van die Inglaterra gaan luister ek weer vanaand musiek. Die voorsanger wys vir my hoe ek moet saamspeel. Daar bespeel ek die guita met ‘n stokkie waarop jy so op en af woerts. Later kry ek twee rattles waarmee jy sjiek-sjiek op die maat van die musiek. Ek word deel van die orkes. Jy dans twee treë vorentoe, drie na die kant en twee agtertoe. Op die maat van die salsa, die rumba en die chachacha. Jy kan maar naam weggoi, grensoorskrydend wees: niemand ken jou hier nie! En nee vir die “back tracks”-debat op Sênet: hoera vir lewendige musiek!

Die voorsanger probeer ‘n Brit betrek, maar wat, dit deug nie. Hy is Margaret Thatcher se broer.

Ek kon vir my geen groter getuigskrif gekry het. Die kelners het dit wonderlik gevind. Geen footjie sou hulle so behaag het. Wanneer ek op ‘n plek aankom, kry ek eerste aandag. Stap jy deur die voordeur, dan hoor jy sjiesjie soos iemand my speels koggel. Dus word deel van die mense se manier-van-doen.                                                     

Hoekom is daar so min dansgedigte in Afrikaans? Is dit omdat ons so Calvinisties geknyp is? Of omdat dans dalk onbewustelik aan sonde gekoppel word?

Wanneer ‘n mens kyk na die onbevange manier wat die Kubane dans en die natuurlike ritmes van hulle lywe, verstaan jy Hemingway en ander skrywers se verslaafdheid aan hierdie land. Hier het hy die daiquiri ontwerp en glo my, as jy een van hulle in het, soek jy na daai kierie.

Dis ‘n land van lyflikheid en sinnelike oorgawe. Met ‘n geloof in “real women have curves” en kry nog ‘n dop en dans asseblief saam!

Om te dans of nie te dans nie, dis die vraag in Kuba.

Ek ontdek die Kubaanse digter Fernanda Padura se gedig “Om te lewe”:

Tussen gister en more
lê vandag. Gister se verdriet
sal ek vandag wegdans,
sodat more se pyn
- in die hier en nou -
mag wegklink. Op die maat
van ‘n Karibbiese lied
sal ek die lewe elke dag vier
asof vir die laaste en eerste keer.
Tussen gister en more
klink die lied van die hart.
O, Tussen gister en more,
tussen gister more, vier ek die dag.


14 Januarie 2004


XVI. Kuba

Hemingway se huis in Havana © Brent Winebrenner/Rizzoli New York

Na Hemingway se dood het Castro sy huis buite Havana tot ‘n museum verklaar. Elke dag hoor ek by die toeristiese buro in die hotel: is daar vandag ‘n toer na sy huis?

Elke dag stap ek sleepstert weg. Ek kan, deel sy mee, vir $100 die toer alleen per bus meemaak. Ek ken egter die stad al ‘n bietjie beter en gesels met ‘n taxi-bestuurder. Daar is ‘n amptelike tarief en ‘n persoonlike een.

“Sal jy my neem na Finca La Vigía? Dis in San Francisco de Paula.” (Ons beklink die transaksie teen $25 en die toertjie om en rond die huis is nog ‘n $7, ver van honderd, dus!)

Die huis is sowat twintig minute se ry buite Havana. Dit moes op sy dag deurgegaan het as ‘n grand huis, maar vandag is dit oud en verwaarloos. Jy mag ook nie die huis binnegaan nie, verduidelik die gids, omdat mense deur die jare memento’s gesteel het.

So jy loer by die deur en vensters in. Binne sit daar gidse op Papa se stoele en gesels land en sand, terwyl die reisigers deur die vensters koekeloer. Jy sien die baie boeke (ongeveer 8 000), die bokkoppe teen die muur en ‘n bottel met ‘n reuse brulpadda in. Daar is ook ‘n bottel versterkwater met ‘n geitjie in en leeu- en koedoevelle bedek die vloere. En jy kan beslis nie die kroeg neffens Papa se stoel miskyk nie. Daar is ook onsettend baie skoene en stewels in sy huis en die mokkasins wat hy so graag gedra het staan teen die muur.

Deur die badkamermuur sien jy hoe hy sy gewig teen die muur geskryf het. Hy was ‘n groot man en in sy latere jare met sy gewig geobsedeer weens diabetes.

Die spaarkamer was die blyplek vir sy 60 katte.

In hierdie huis het hy vir twintig jaar geleef en beroemdes soos Ava Gardner en Ingrid Bergman het hier kom kuier. Daar word vertel dat hy ook vir Ava afgeloer het toe sy eenkeer kaal geswem het in sy swembad. Daarna het hy altyd sy gaste na sy swembad geneem met die woorde: Hier het Ava Gardner kaal geswem.”

Wat die museum wel interessant maak, is dat dit gelaat is soos wat Hemingway geleef het. Jy sien die borde op die tafels, ‘n glas op die tafeltjie in die sitkamer, skilderye teen die muur.  Hemingway mag enige oomblik weer sy opwagting maak, vertel hierdie museum.

In die tuin is daar ‘n katbegraafplaas en natuurlik die beroemde boot, die Pilar wat oorgebring is van Cojimar na die huis. Op hierdie boot het Hemingway gedrink, visgevang en ‘spioen-spioen’ gespeel vir die Kubane tydens die Tweede Wêreldoorlog.
Sy vriend, Gregorio Fuentes, het hom altyd vergesel op sy visvangekspedisies.

Ek sou graag sy boekery wou beloer. Black Narcissus is een van die titels wat my oog vang. Maar ek sou eerder ‘n dag lank wou kyk wat hy besit het en vermoedelik gelees het. ‘n Skrywer se boekery is altyd ‘n tersaaklike bibliografie tot sy werk.

D.J. Opperman het ‘n geweldige bewondering vir Hemingway gehad. Ek luister op my rekenaar na Verswêreld en hoe hy daardie prag-vers oor die ander beoefenaar van die machismo voordra, te wete Roy Campbell.

“Ek ken die brons krisante van die pyn”, kan ook op Hemingway van toepassing gemaak word: agter die groot man, die uitbundige lewe, die jagekspedisies, was daar ‘n brose, verwonde mens.

In 1962 toe die nuus van sy selfmoord Kuba bereik het, is die huis tot ‘n museum verklaar. En dit is presies toe wat die Hemingway-industrie begin is.

Lorca was hier, Neruda het hier besoek afgelê, Wallace Stevens was gek oor die landskap…

Maar Kuba behoort aan Hemingway. En Hemingway aan Kuba. Hy die leefwyse en kultuur volledig geassimileer en hierom ook dan die beroemde foto’s van hom Fidel Castro.

Hierom toe hy die Nobelprys ontvang het, was sy woorde: Hierdie prys behoort aan Kuba, aangesien my woorde geskep is in en verwek is deur Kuba, met die hulp van die inwoners van Cojímar, waar ek ook ‘n inwoner is.”

Die prys het hy glo by die Madonna del Cobre geplaas.

Volgens die legende het daar vistermanne in 1606 amper verdrink by die Baai van Nipe, was dit nie vir die Swart Madonna-beeld wat hulle gered het nie. Hulle is deur die beeld gered van die Madonna wat oor die waters na hulle aangekom het. In werklikheid, het die beeld van Illescas gekom, omdat die goewerneur ‘n Madonna vir sy stad wou hê.

Wat ookal die waarheid mag wees, vir die Kubane is sy beeld van die bo-natuurlike en magiese kragte. Sy verteenwoordig ook die aanwesigheid van die Afro-Kubaanse kultus en die geloof in santería.

Hoekom het Hemingway dit gedoen? Waarskynlik omdat hy geweet het dat Kuba vir die primordiale staan, vir dit wat nie deur logika of rede begryp kan word nie.


XVII. Kuba

My laaste dag in Havana.Gewoonlik raak ‘n mens so by die laaste vier, vyf dae op vir reis. Jou klere beginne vervaal en verkreukel, al laat jy dit getrou was by die hotel se wassery en die bestaan binne ‘n vreemde ruimte laat jou ook uitsien na die tuiskoms.

Na almal wat op jou wag. Jou vriende, jou eie ruimte met ‘n telefoon, e-pos, wasmasjien, stoof, yskas, boekery, musiek.

Met my Kubaanse reis is dit anders gesteld. Ek begin fantaseer oor ‘n bestaan hier. Gestel ek had genoeg geld soos die Getrude Steins van die kunswêreld of ek is soos Susan Sontag geborg deur die Guggenheims, sou ek hier kon agterbly?

Ja en nogmaals ja. Met my hotel, die Inglaterra, wat uitkyk op die plaza en die ou buurt van Habana, die luimige gaste wat teen sononder-tyd daiquiries en caipirinhas drink en luister na Afro-Kubaanse musiek, as die sentrum.

Op my dra-rekenaar het ek genoeg dokumente om te lees vir die res van my lewe. Ek skryf aan ‘n roman (“Dit was geskryf op Varkensblaar”) en my weeklikse reisrubrieke trek al maande vooruit. Opdragte gee en ontvangs ons via die internet, as dit by werksake kom en ‘n sabattasverlof in hierdie ruimte klink net na die plek vir kreatiewe navorsing.

Suid-Amerika, Mocambique, Kuba, Mexiko. Dit is die soort lande wat met my praat.
 
‘n Plek soos Habana waar jy ‘n “cocktel”-bar kan besoek! Cocktel! Die barbudos of bebaardes van hierdie stad is vriendelik en behulpsaam en vanaand gaan ek vir oulaas na die Marina Hemingway, ‘n hele seekos-buurt neffens die see.

Ek stap op my laaste aand deur die strate van Havana. Ek voel soos ‘n tiener met ‘n crush op ‘n onnie. Hoe gaan ek deur die dae kom sonder jou? Kan ‘n mens verlief raak op ‘n stad? Voel vir my so, want ek gaan met ‘n swaar, swaar hart hier weg.

‘n Middeljarige egpaar stop my: ”Soek u ‘n restaurant?”

“Ja, graag.” Alberto en Teresita. Hulle werk is om toeriste na hulle vriende se nuwe restaurant vir ‘n kommissie te neem. Dis hoe hulle aan die lewe bly.

Natuurlik gaan ek saam, ou weekhart wat ek is. Bestel vir haar Coke, vir hom rooi wyn. Hulle is baie intelligent en ingelig. Ons gesels baie lekker. Ek bestel die geroosterde vis wat uit die boonste rakke is.

Net jammer die kelnerin snuif so diep.

“Kan jy haar vra om op te hou? Ek gril.” Hy vra haar mooi. Sy stop. Julia Kristeva se The powers of horror kom by my op. Die mag van die abjekte; die weersin wat ‘n snuif, ‘n skifsel op koffie kan veroorsaak. Dis dan ook my lot om ‘n spoegende man op straat te sien, twee parende honde. My grilvlakke word bo hul kragte beproef.

Buite blaf ‘n hond. ‘n Kind terg hom. Ek neem afskeid van hierdie stad. Dis swaar.
Ek stap terug hotel toe. ‘n Man kom nader.

“Jy is pragtig,” hy vee grensoorskrydend oor my boud.

Ek weet wat kom. Ek lieg. “Ek moet my man in die El Floridita ontmoet. Nou. Hy is baie groot en baie jaloers. Sy naam is Ernest Hemingway.”

“Maar hy hoef nie van ons te weet nie.” Ek glip vinnig by die kroeg in. Wag ‘n rukkie. Stap toe na my hotel. Maar, nee. Hy is weer agter my.

“Jy het vir my gelieg,” kerm hy.”Daar was geen man nie.”

“Nee, hy is by die hotel. En ek beloof jou: hy gaan jou platslaan. Gaan nou, asseblief.”

Hy slink weg soos ‘n geslaande hond.

More vlieg ek na Cancun, dan na Atlanta, Georgia en dan begin die lang reis terug huis toe. Ek ontdek hierdie vers van Fernanda Padura:

Ode aan Havana

Wat is dit met jou stad
dat jy vele so begeester?
Ou verloopte stad
vol kronkels en draaie.
Stad van hartstog,
ou-hoerstad gevul met polsende ritmes.
Stad van salsa, rumba en bands:
“Guantanamera” en “Quizas, Quizas, Quizas”…
Leef vir die oomblik, die nou,
vergeet van gister, vergeet van more.
Dis die getelde oomblik. Die vreugde van in
jou lyf en hart wees. Nie toe nie. Ook nie dan
nie. Maar nou.  Soos ‘n hoer wat geld ontvang,
vir dienste gelewer, sonder skuld. Dis net hoe dit is.
Verloopte, verinneweerde stad, jy lyk slonsig;
jy ruik na ou sweet van ‘n lang nag. Dis juis
wat jy is: gefokte, verinneweerde, afgetakelde hoerstad.
Vir die oomblik, vir die nou.  Eens was jy ryk en statig.
Besing deur Lorca en Neruda in lang odes.
Bewoon deur Hemingway
en ryk bankiers wat gedigte maak oor die lewe se moontlikhede…
Miskien, miskien, miskien -
tot die onthou ons skei, stad van my verbeelding,
stad van my drome, ek min jou
in jou afgetakelde swier, jou huidige lewensdrif.
Onthou, onthou, onthou -

Joan Hambidge


Bibliografie:

Kristeva, Julia. 1984. Powers of Horror. An essay on Abjection. New York: Columbia University Press.


XVIII.  Kuba

Vir oulaas sit ek op die stoep van die Inglaterra en die orkes speel al my ou gunstelinge vir my. Ek beloof dat ek weer sal terugkeer en ek weet ek lieg nie. More moet ek half-vyf opstaan om Cancun toe te vlieg en dan na Atlanta. Die lang pad huis toe begin.

“Klap julle handjies, alle bobbejaantjies,” draai deur my gedagtes. En “Jy met jou mandolientjie, ek met my bandolientjie,” maar ons sing almal driftig saam met die orkes.
Aan hierdie polsende Kubaanse en Latyns-Amerikaanse liedere. En dan skielik, sonder waarskuwing stop die lied. Soos hartstog wat verkil.

Die ‘band’ pak op. Ek moet gaan rus. Ek kan egter nie geslaap kry nie. More vlieg ek om 7.20, so ek moet 4.30 begin roer. Muskiete draai om my soos helikopters.

Buite rumoer die stad. Die nagklub oorkant die Inglaterra spoel uit oor die straat. Blou polisieligte flits. Daar is gille. ‘n Vrou beskuldig haar minnaar van ontrouheid. Dank Vader, ek is klaar die dinge van die smart! Hierdie reis het net twee verse opgelewer, wat immer dui op ‘n gesonde hart.

Ek speel voyeur en sien hoe die twee minnaars verder stry. ‘n Ander vrou staan op ‘n afstand en toekyk. A, die ewige liefdesdriehoek. Vroeër sou ek hieroor ‘n vers kon maak; nou is ek net vermoei deur die intrige wat my uit die slaap hou. 

W.H. Auden

Ek dink aan W.H. Auden se grootse gebaar: as die liefde skeefloop, laat ek die een wees wat die meeste ly. En sy pragtige vers, “Gedig nommer XXXIV”:

Stop al die klokke, sny af die telefoon,
verhoed die hond om te blaf vir ‘n sappige been,
maak stil die klaviere en met ‘n gedempte drom
haal die kis uit en laat die roubeklaers kom.

Laat vliegtuie sirkelend kerm oorhoofs
skryf in die lug die boodskap Hy Is Dood,
sit papierstrikkies om die wit nekke van publieke duiwe,
en laat die verkeerspolisie swart katoenhandskoene kry.

Hy was my Noord, my Suid, my Oos en Wes,
my werksweek en  lang, stil Sondagreses.
My noen, middernag, my gesprek en lied;
Ek het gedink dat liefde vir ewig sal duur: nou net verdriet.

Die sterre word nie nou behoef; maak elke een dood,
bêre die maan en laat die son uitdoof,
giet uit die oseaan en vee die woud op;
want niks kan weer goed wees nie.

(vertaling van die gedig uit April, 1936).

In my toestand van frustrasie kyk ek na ‘n film op televisie. ‘n Jong man en sy geliefde se verhouding eindig. Hy is ‘n filmmaker, sy ‘n model. Sy verlaat hom, maar hulle kan mekaar nie vergeet nie, omdat hulle mekaar onbewustelik verwyt vir die aborsie wat sy moes ondergaan. Uiteindelik kry sy ‘n kind by ‘n ander man, maar hy vergeet haar nooit nie. Die film eindig met die wyse woorde: daar is net drie waarhede, te wete ons word gebore; ons sterf en dinge verander voortdurend.

My tasse is gepak. Die twee Cellini Microlites is reg vir die reis na Mexiko. My kamer behoort nie meer aan my. Nommer 205 het plotseling ‘n vreemde ruimte geword. 4.30 lui die wekker. Handdoeke lê op die badkamervloer, stompies sigarette in ‘n oorvol-asbak. Ek wil nou gaan. By ontvangs moet ek wag. Die kamerbediende moet eers gaan kyk of die kamer in orde is. Alles blyk reg te wees.

Ek het presies een uur geslaap weens die liefdesrumoer buite die hotel. Ek maak die asbak leeg. En ek dink aan die wyse woorde van die filmkarakter dat alles altyd verander. Indertyd sou ek so kon dig; nou nie meer nie:

Eat your heart out, Emily D.

Nog ‘n slapelose nag
in ‘n vreemde hotelkamer
digby ‘n lughawe.

Nog ‘n weerlose nag
in ‘n enkelkamer
weg van jou.

Nog ‘n rustelose nag
met verfrommelde lakens
sonder jou.

Nog ‘n uitputtende nag
van vreemde enkelkamers
met verfrommelde lakens

en uitgebrande hartstogte
in oorvol asbakke.

Nog ‘n nag van ver
-geefse vergeet.

New York

(Uit: Ewebeeld. 1997. Johannesburg: Perskor.)

In Havana vind ek totale vrede en rus vir die gemoed. Dit is ‘n landskap wat ‘n mens skoonbrand, het Jungiaan eenkeer verduidelik.  Binnekort vertrek ek met Vlug MX 7901 na Cancun. Daar is geen reis wat my nog ooit so vervuld en gelukkig gemaak het as hierdie reis nie.

Geen terugverlang, geen eensaamheid, geen ennui.

Net ‘n totale aanvaarding van die oomblik, die landskap, die mense, die kultuur, die stad. Wallace Stevens had gelyk: ‘n mens kán ‘n verhouding met ‘n stad begin.


XIX. Cancun – Atlanta

Cancun

Op die hiper-moderne lughawe in Cancun koop ek ‘n kaart vir $5 om die internet te gebruik by ‘n gesofistikeerde masjien waarop jy vinger swaai, en voila, daar gaan alles oop voor jou. Maar ongelukkig weier mweb om my password te aanvaar. Die vrou wat aan my die kaart verkoop het, is reeds terug na die kiosk en ek swets onderlangs.

Boonop is mweb ook baie hulpvaardig: bel hierdie nommer in Suid-Afrika as jy jou password wil verander.

Dus staan ek voor dooiemansdeur. Op ‘n lughawe waar die Engels skraps is en my humeur kort. Maar aanhouer wen. Ek probeer weer en weer en moes per ongeluk ‘n knoppie gedruk het want skielik werk die net! Aha, “you’re connected”.

Om te reis beteken dat jy dikwels voor dooiemansdeur staan, omdat jy die taal nie verstaan nie of ‘n kode mislees. So kan jy, soos ek, amper op ‘n verkeerde lughawe afklim (15 minure voor Cancun) omdat daar ‘n dwase regulasie bestaan nadat al die passasiers moet aflklim en hier deur doeane gaan.

Hoekom?

Niemand weet nie.

Net soos niemand ooit sal weet hoekom mweb by herhaling my toegang geweier het nie. Gul gee ek my kaart met oorblywende geld aan ‘n mede-reisiger.

“Ek herken jou,” bely hy. “Jy het eergister in dieselfde restaurant as ons geëet. Jy wou Tabasco hê, en dit was ongelukkig op.”

En ek herken jou, lieg ek. “Jy het begin met ‘n Chici, Sangra gedrink en daarna ‘n Tequila Sunrise…en ‘n Fresa Colada…”

Sy ogies blink. “Jy’s reg! Hemel jy het darem goed waargeneem daar in die Mexikaanse restaurant.”

En dan begin die gewone lughawe gesprekke wat Jacques Lacan as “miles and miles of empty speech” beskryf het. Daardie soorte gesprekke wat soos hysermusiek jou ore vul, maar eintlik bitterleeg is. Jy konnekteer met mense op lughawens op ‘n direkte, dikwels intense manier en tog weet beide partye: ons gaan mekaar nooit weer sien nie.

In die aankoms- en vertreksaal word jy deur bekendes ontvang of afgesien. Daarna beweeg jy deur doeanepunte en jy ontmoet mense: kortstondig, vlietend.

Op so ‘n reis, wie sal ‘n mens onthou?

Beslis die kroegman in die Casa Blanca Hotel in Mexiko Stad wat my elke keer ‘n gratis glas wyn op die huis gegee het.

Die hoteleienaar in die El Tropicana in Acapulco wat vir my ‘n muurprop geleen het vir my rekenaar.

Beslis die gawe taxibestuurder wat my deur Acapulco in die nag geneem het en my al die onbekende bakens gewys het van die prag-stad.

Macario Román wat in Rusland gestudeer het (as ingenieur) en in Havana my na die Hemingway-museum geneem het en na die lughawe.

En lughawens?

Beslis die aanskoulikste en mooiste is die een in Havana. Modern. Ook kan die een in Cancun nie misgekyk word. Eweneens hiper-modern. En dan Atlanta…

Om in Cancun in te boek vir ‘n vlug is ‘n belewenis. Jy wag en wag en wag, want hulle maak net die komputers oop presies twee ure voor die vertrek. Dit lyk soos Doop op Makwassie. Voetjie-vir-voetjie gaan jy vorentoe en soos die noodlot dit wil hê, skuifel almal voor my deur na ‘n ander ry. Jy wag weer. Gelukkig word my tas nie oopgemaak nie. Voor my staan ‘n egpaar uit Amerika. ‘n Pynlik-netjiese tas word omgedolwe. Geskenke word oopgemaak. En dan weer toegeplak. Weer moet hulle inpak. Die lang en netjiese beplanning binne twee minute omvergegooi.

Dan kom dit by die wag in die kafeteria waar ‘n stukkie pizza $3 kos en ‘n flou bier ‘n hele $5. Maar jy moet hier koop. As jy nie wil sterf van die dors nie. Jou voete begin pyn. Oor vyf minute gaan jy aan boord na Atlanta en dan is die lang reis agter jou: net om more die hellevaart van meer as veertien ure terug Kaapstad toe aan te pak.

Bly rustig. Swem saam met die stroom. Trap water. Bly vrolik al is jy in Kamp Staaldraad of Kamp Staalwol. ‘n Mens vergeet altyd gou van hierdie teistering. Wat skryf Arthur Haley in Airport nou weer?

Atlanta airport © cclontz

‘n Ervaring op Atlanta vat die spreekwoordelike koek. Ek reis met twee Microlites (een op rug, een op wieletjies) en ‘n laptop in my hand. Sekuriteit hier vereis dat jy die rekenaar in ‘n plastiekhouer moet plaas. Ek maak so en gedagtig aan my ervaring met my aankoms toe my skoene se buckles die sirenes laat gil het, trek ek die uit en plaas dit in ‘n ander houer.

Die sirenes gil weer.

‘n Ongeskikte vrou beveel my, links, jy moet ondersoek word. Ek sien egter hoe haar trawant my skoene bo-op my laptop plaas.

“Is jy van jou sinne beroof?,” gil ek.

Drama.

Ses beamptes is nou om my. Ek verduidelik waarom ek vies is. (Ondertussen is dit my leerbelt met die silwer buckle se skuld dat die sirenes afgegaan het.)

Toe ek al my besittings weer bymekaar het, stap ek na die hoofbeampte. Ek verduidelik my chagrin. Hy vra beleefd om verskoning. Ek kan sien uit die hoek van my oog hoe almal weet hulle is in die moeilikheid.

“Wil u ‘n amptelike klag lê?”

Nee, dink ek. Ek is buite myself van ontsteltenis. Ek huil van woede.

Toe ek wegstap, besluit ek. Hoekom nie? Wie gee hierdie mense die reg om so met ‘n mens se besittings te werk.

Ek stap terug, skryf my verslag. Aha, nou verander die eens sjarmante sekuriteitshoof in ‘n somber baas. ‘n Swart polisieman staan langs hom.

“As u ‘n klag indien, moet ons ook ‘n verslag skryf. Volgens my beampte het u obstruksie gepleeg. U kan nie nou terugtrek nie. Dis nou amptelik.” Die polisieman maak kwaai ogies.

Wat?, dink ek. Ek snap. Hy is aan hulle kant.

“Nee, kom ons los alles.”

“Dan moet u u verslag teruggee.” Ek frommel dit op, gee dit terug aan hom en stap weg.

‘n Indiese man sien my nood. Hy kom nader en neem my na die rotunda waar ek my bussie na die hotel, Wellesley Inn, moet kry. Ek vertel hom wat gebeur het.

“Vergeet dit. Jy het die regte ding gedoen om die klag te laat vaar. Hulle sou jou dalk in die tronk gegooi het. Hulle is magsbehep, ongeskik en het geen respek vir mense nie. Na 11 September is die paranoia-vlakke baie hoog.”

In Mexiko en Kuba het ek nie sulke ervarings gehad nie, maar ek is nou in cowboy-land, nee, in die land van “thugs” en “godfathers”. Hoe mislik word die reis nie afgesluit nie!

In die bussie na die hotel is ek steeds ontstig. ‘n Amerikaanse vlieënier meen ook dat dit beter is ek het alles laat vaar.

Wat se indruk gee hierdie mense nie van die VSA nie? Ek wat nog altyd die grootste Amerikanofiel was, sien op na ‘n verdere besoek aan die land van sterre en strepe.

“Toemaar, more is daar ander mense aan diens. Vergeet dit nou. Dis maar hoe dit is.
Hulle is ‘n wet op hul eie. En hulle dink waarskynlik dat jou besittings eintlik nie aan jou behoort nie.”

Ek sou die stap onder ander omstandighede gaan besoek het. Ek besluit om liewers te gaan rus. Met die wete dat ek nie sal toelaat dat dit my reis na Mexiko en Kuba sal bederf nie.

Oh Georgia on my mind…. Nou weet ons presies waarom Hemingway eerder in Kuba wou woon.

Afskeid

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens moeilik verlaat.
Deur hulle word mens geteister deur ‘n vlugvertraging
van herinnering of verlies aan jou enigste paspoort
tot nuwe ervarings, liefde of ‘n belangrike afspraak.

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens swaar verlaat.
Oor hulle draai die vliegtuig vir oulaas te lank
vir ‘n panoramiese blik of keer selfs terug weens die weer
van hul veranderende emosies – net om mens wéér in die steek te laat.

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens nooit verlaat
weens willoosheid, herinneringe of ‘n onverwagse coup d’etat.


XX.

Post mortem: Kuba en Mexiko

So verlaat ek Atlanta en Mexiko en Kuba lê ver agter my. Ek was nog altyd ‘n begenadigde reisiger wat kon slaap op ‘n vliegtuig. Hierdie keer helaas nie. Waarskynlik het die slegte ervaring op Atlanta my so omge-ellie, dat ek nie kan rus nie. Verder is ek knorrig, omdat die wonderlike reis – daardie seepbel waarin ek was – geprik is deur die ongeskikte Atlanta-beamptes.

Boonop het ek die nag waarskynlik te veel geslaap, omdat ek die vorige dag uit Havana al om 4.30 begin reis het en vroeg bed toe is. Langs my sit ‘n jong man van 18. Ek vertel hom van my aaklige ervaring en hoe die sekuriteitsbeamptes sonder respek my laptop hanteer het.

“Dis niks,” sê hy,” ek is in hegtenis geneem in Florida, omdat ek, ‘n minderjarige, ‘n bier gedrink het. Kyk, ek moet die 12e in die hof verskyn, maar my pa het gesê ek moet terug kom. Ek het my vlug verpas en moes die nag in die tronk met misdadigers slaap.”

“Jy besef jy sal nooit weer na die VSA kan gaan nie.”

”Ek gee nie om nie.”  Ek, hy en sy vriend gesels deur die nag oor hoe hulle Florida ervaar het in die rykmans-spa waar hulle vakansiewerk gedoen het.

“Daar is fout met hulle. Hulle oorreageer. Hulle kan nie meer die lewe na 9.11 geniet nie.”

Skielik weet ek hoekom Havana my so aangespreek het: daar is niks Amerikaans om hierdie stad nie. Behalwe vir die ou Chevs uit die vyftigerjare, het die Amerikaners nie die land gekoloniseer nie.

Die bruisende, outentieke energie kon hulle nie doodkry nie.

Toe ek land in Kaapstad beleef ek ‘n hittegolf. En jet lag. Vir die eerste keer in my lewe weet ek wat dit beteken om reismoeg te wees. Snags kan ek nie slaap en wandel deur my woning en verlang terug na Havana. Bedags is ek moeg, naar en ek hoor te laat van die pil wat ‘n mens se liggaamsklok glo herstel. Maar my dokter verseker my dit help nie regtig nie. Jy moet jou liggaam se natuurlike ritme herstel en onthou dat jy nege ure terug geleef het.

Ek probeer bepaal waarom die reis so wonderlik was. Die musiek, die Hemingway-museums, die ou pragtige geboue in Havana bly my by. In Vuelo, die reisgids van die Mexicana Lugdiens, word die bydraes en uitvindings van Mexiko vermeld:

Chiles; La Guadalupaaana, oftewel die maagdelike gelukbringer wat sokkerspelers en besigheidsmanne dra; 717 verskillende soorte reptiele; vanilla roomys; el nopal, oftewel die turksvy wat onder andere om medisinale redes gebruik word; stoei; koring; El Mariachi; funghi (waarvoor daar 300 resepte bestaan); die doodskultus (la muerte) wat tot gevolg het dat jy kopbene kan koop; kakao; die alebrije of dierfigurasies waaraan allerlei mitiese boodskappe gekoppel word…

Octavio Paz

En natuurlik die digkuns van Octavio Paz!

Tussen gaan en bly

Tussen gaan en bly, weifel die dag
Verlief op sy eie deursigtigheid.

Die sirkulerende namiddag is nou ‘n hawe
Waar die wêreld in stilte beweeg.

Alles is kenbaar en ontwykend,
Alles is naby en onaanraakbaar.

Papier, boek, potlood, glas,
Rus in die skadu van hul name.

Tyd wat in my slape klop, herhaal
Dieselfde onveranderbare sillabe van bloed.

Die lig verander die ongeërgde muur
In ‘n spookagtige teater van afskynsel.

Ek bevind myself in die middel van ‘n oog,
Kykend na myself in ‘n ondeursigtige staar.

Die oomblik breek. Bewegingloos,
Ek bly en ek gaan: ek is ‘n ruspose.

Octavio Paz

En oor Wallace Stevens, bestaan die volgende vers. Ek is immers Kuba toe om ‘n boek oor Stevens te skrywe, maar my vasgeloop in ander ervarings. So praat Bro met Stevens:


13 Ways Of Looking At Wallace Stevens
Seth Michael Bro

I.

Two dates nestled between
closed parentheses.
Before & after, words
not belonging to Wallace Stevens.

II.

The tower & its imprisoned bell,
trained to beautify the passing
of time. Within its echo,
the voice of Wallace Stevens.

III.

On the corner of ten o'clock
a young man clutches a saxophone
the way one might imagine Wallace Stevens
holding his pen.

IV.

Wallace Stevens is with us this season.
He was away for some time.

V.

In the space between the city
a child grows, believing
his father to be Wallace Stevens.

VI.

Beneath the dull gleam
of the classroom scalpel, the student
was consumed & repulsed
by the open corpse of Wallace Stevens.

VII.

Placing the hat upon the snowman,
he claimed it was Wallace Stevens.
We laughed, & for the span of our laughter
there was a wintry faith
that it would never melt.

VIII.

Beneath sight didactic ants
scurry in orderly panic
with pieces of earth. They are
patiently constructing Wallace Stevens
within their nest. Only instinct
knows of this intention.

IX.

Quit wringing out the days
with your talk of what is & what might be.
Who do you think you are,
Wallace Stevens?

X.

In daylight the statue
stood, pale & austere.
But passed later that night
if fell under the dappled shadow
of Wallace Stevens.

XI.

The wood had been spent & they were freezing.
Wallace Stevens was thrown upon the fire.
It burned the same.

Meteens snap ek my liggaamlike kondisie ten volle! My liggaam kan nie aanpas by my nuwe omstandighede nie, omdat my siel nog in Mexiko en Kuba is.  Maar solank as wat ek kan, gaan ek op die fantasie van hierdie reis leef. ‘n Wonderlike, vervullende, allesoorweldigende reis.

En Kuba? Die land van die salsa, die rumba, die mooiste art deco, Spaanse argitektuur, skuba-duik, ongeskonde strande, sigare, rum, daiquiries en musiekmakers.

Eddy Kohli se pratige fotoboek oor Kuba verwys na Lorca se bekende stelling: as ek wegraak, kom soek na my in Kuba en Graham Greene se siening oor die mense se skoonheid.

En die Chevvies? Natuurlik meen partye mense dis omdat Che een gery het, dat almal ‘n Chev wil ry….

Dis ook omdat mense nie kan nuwe motors invoer nie.

Lorca, Hemingway, Neruda en Wallace Stevens was gaande oor hierdie land. Hemingway was uitgesproke oor sy skatpligtigheid jeens hierdie land en sy mense.

In die Hemingway-huis staan ook trofees uit sy besoeke aan Afrika. Veral Kenia en Tanzanië het hom  bekoor. Hy het ook The snows of Kilimanjaro geskryf en ‘n mens sou ‘n Hemingway-reis kon onderneem … na die hotel Hemingways in Kenia.

En my volgende reis?

Ek soek ‘n verskoning om weer Kuba toe te gaan. En terloops, die digter Fernanda Pardua bestaan nie. Sy was sommer my alter ego…

Miskien het my versugting om in Kuba te bly die volgende tot gevolg gehad. Pas ‘n week gelede ontdek ek iemand gebruik my kredietkaart in Mexiko of Kuba. Die bedrogeenheid van die kredietkaartafdeling stop my kaart subiet, betaal die geld terug. Ja, sê my vriend Murray La Vita, daar is iemand wat nou reis as Joan Hambidge, omdat jy nie wou terugkom nie.

Hmmm, dink ek: miskien skryf sy verse onder die naam Fernanda Pardua en gebruim my kaart wederregtelik. ‘n Volledige alter-ego dus!


Bibliografie:

Kohli, Eddy. Cuba. New York: Rizzoli International.


© Joan Hambidge