Tuesday, March 26, 2013

Patricia Cornwell - The last precinct (2000)



Patricia Cornwell. The last precinct. Little, Brown and Co., 2000. ISBN: 0 316 64624 5.

Resensent: Joan Hambidge

Patricia Cornwell het in die oorwegend manlike domein van die speurverhaal al goed naam gemaak. Behalwe vir Agatha Christie, is hierdie soort verhaal nog altyd met manlike name geassosieer, soos die vader van die moderne speurverhaal, E. A. Poe se beroemde The purloined letter; Sherlock Holmes & dr Watson; Georges Simenon se Maigret-reekse...

Tog kom daar al hoe meer belangrike vroulike skrywers na vore: Elizabeth George, Minette Walters, Faye Kellerman, Ruth Rendell en natuurlik, die wonderbaarlike P.D. James.

Simenon se lewe was kenneliik troebel en suggesties van bloedskande aldus sy dogter, het hierdie werksdrif bepaal, terwyl Cornwell ook al in  die nuus was oor 'n grensoorskrydende obsessie met 'n vrou. Haar speurder genaamd Kay Scarpetta is al 'n persona soos Hercules Poirot en Maigret. Die struktuur van die speurverhaal - die soeke na 'n skuldige - word ook by haar omskep in genderpolitiek en vrae oor vrouwees.

Haar niggie Lucy is gay en sodoende word daar kommentaar gelewer op die ander lewe. In hierdie roman word gaywees (en die vooroordele daaromheen) aangespreek. Soos in 'n Patricia Cornwell-roman te wagte, word daar weer 'n lykskouing in kliniese besonderheid beskryf.

Dit is hierdie bate waaroor die voorste patoloog in die VSA beskik, wat die raaisel help oplos rakende 'n reeksmoordenaar. Daar word ook wetenswaardighede verskaf oor presies wat met mense gebeur na 'n geliefde persoon vermoor word. Dit is hierdie soort sielkundige analises wat Cornwell se boeke verhef bo die populistiese vlak.

'n Mens sou hierdie verhaal se weerwolf-aspek diepsinnig kon ontleed en die fenomeen van die reeksmoordenaar verwys duidelik na Jeffrey Dahmer en ander Amerikaanse voorgangers.

Plek-plek dik vir 'n daalder, maar nou ja: dis lekker geskryf.  As dit jou tweede ervaring van hierdie skryfster is, gaan jy miskien minder opgewonde wees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

No comments:

Post a Comment