Saturday, March 9, 2013

Wêreldreis: Stad. 5 Los Angeles, stad van begeerte (trishna)


Los Angelos Operahuis © 2013 | Paradise in the World 

En hier in die stad van engele (ook genoem die Vallei van Rook) word ek oorval deur ‘n begeerte na rooivleis. Na ‘n steak. Oorkant  die Wilshire Grand waar ek tuisgaan, is daar die beroemde restaurant Morton’s. Sidderend duur. Maar die begeerte, die trishna, het my oorval. Jy word vooraf presies die snitte gewys. Ek bestel ‘n New York strip ($48), mediumgaar en ‘n glas Rutherford Hill Merlot ($13,75 per glas). Die steak kom aan, swart geskroei buite en rou binne sodat ek na die eerste hap daardie aaklige brandsmaak kry. Ek is alleen, dus geen gas wat my gedrag as onbehoorlik sal ervaar nie. Die bestuurder is begrypend, en die  nuwe steak is presiés reg. Begeerte is natuurlik ‘n bliksem, want in die geestesoog proe jy dikwels hoe dit eintlik behoort te wees.

Die volgende dag is Hollywood en Downtown L.A. op die spyskaart. Met ‘n oopbus-toer besoek ek die bakens in die stad, ‘n stad deur films gedefinieer. Elke baken was al in van die  groot films! So word Los Angeles ‘n stad wat ek sekondêr beleef: eers die film, en dan die baken.

Hollywood en Beverley Hills is besig. Daar is ‘n film-première. Die hele stad is ‘n miernes met mense wat oor rooi tapyte beweeg soos ons op televisie sien. Die name van groot sterre is inderdaad op die plaveisel uitgedruk. ‘n Jong man met ‘n luislang om sy nek vra geld as jy hom afneem met die slang en sy flitsende tongetjie. Ek gril my morsdood en wens die man wil verdwyn in die malende skares.

Hier, so word vertel, is daar glo ‘n GPS in ‘n restaurant om te bepaal waar ‘n toeris ‘n beroemde kan raakloop. Hulle is oral om ons: Brad Pitt se skewe glimlag sit op elke uithangbord. Is dit nie George Clooney daar nie?

Ek kon sweer daardie man lyk nes Tarantino…

L.A. is vol Latino’s en naby my hotel, die Wilshire Grand, leef hulle in ‘n soort Meksikaanse ghetto. Geen Engels nie, geen begrip nie. Teenoor Hollywood se foelieblink-lewe, is bestaan hier een van swaarkry en wroet. Hulle is die skoonmakers in hotelle, die deurwagte, die subaltern. Die VSA se klassestruktuur is oorbekend. As jy nie geld het nie, slaan die deure blitsig toe.

Dit is skokkend om te sien hoeveel haweloses daar in die V.S.A. is. Wit, swart en van gemengde afkoms beweeg deur die strate.

‘n Man met ‘n bandana om sy kop doen Tai chi-oefeninge, en hy leef in ‘n wêreld van sy eie. Laatnag rook ek ‘n sigaret buite en gee vir ‘n hawelose ‘n sigaret, tot irritasie van die deurwag.

Met gemak vooropgestel en wifi gratis beskikbaar in elke hotelkamer, word rook nietemin nie toegelaat nie. Dus is dit vroegoggend uitgaan na die voorportaal van die hotel om te rook. Hier maak ek vriende met die nagportier, Ed, en hy vertel my baie oor die stad se gewoontes en oor hoekom daar soveel verskoppelinge is. Vir hom, as swart Amerikaner, kom dit neer op die inhaligheid van die gemiddelde Amerikaner wat nie omgee oor ander mense se lewens nie. Terwyl ons praat, bedel ‘n man ‘n sigaret van my. 

”Moenie aan hom raak nie!”, beveel Ed. Toe die man wegstap, vertel Ed dat hy vrot is van die kieme.

Ek is nie ‘n tv-kyker nie, maar kyk wel soap operas om iets van die kodes hier te begryp. Orals is daar tans uitsendings oor die Amerikaanse football en ‘n sitcom verwys speels hierna: dat dit maar net is om Budweiser en styfopskoppille vir mans te adverteer.

Santa Monica strand

Vandag klim ek op ‘n bus na Santa Monica. Ek is onder die indruk van die busbestuurder se ongelooflike behulpsaamheid om my by die regte plek af te laai. Toe ek terugkeer, is hy weer die bestuurder en die liewe man laat my gratis terugry op die bus, meer as ‘n uur terug stad toe. Reis is om jou oop te maak vir toevallighede soos die kroeg in my hotel wat musiek uit die 80’s speel om my eerste besoek aan hierdie stad in die tagtigerjare te gedenk.

As jongmens het Hollywood se klatergoud my bekoor; helaas nie meer nie. 

Stad van Engele

In hierdie stad verskyn hulle aan my,
die engele afgestaan aan die dood.
Die een se gesig staan op ‘n uithangbord,
die ander een afgeflets op ‘n winkelvenster.
Maar dis jy, vader, wat my wakkermaak
op ‘n Sondagoggend so teen kerktoegaantyd.
Ek hoor jou woordeloos roep na my
in die Stad van Engele én Illusies.
Terwyl ek hierdie vers skryf, hoop ek dat jy
weer aan my sal raak, voor toemaaktyd.


Hotelbed: ‘n meditasie

      Alleenbed smeulende bed
slapelose bed bed van onthou en droom
lakens uitdeel jou bed opmaak en dit opdoek
hotelbed tydelike bed klip onder die kop
Jakob se leer op na die Engele wat afklim
en aan my raak stukkende bed helende bed
vryf heuning op die lyf van ‘n dooie geliefde
astrale bed meditasie bed nou Bethel
my siel opwaarts erbarming beweeg afwaarts
     onrustige bed troostende bed

Los Angeles



Bron:

John Snelling. 1990. The Elements of Buddhism. Massachusetts: Element. 
Los Angeles, Tourism and Celebrities