Saturday, March 9, 2013

Wêreldreis: Stad 1. Hong Kong, stad van voortdurende verandering of (anitya)

© Barcroft Media/Pharand


Reis-om-die-aarde
Joan Hambidge

maar Tyd en die stede ontkrag ons formules,
nou bly die weemoedwalse, die walse van óu plekname, oor.

Jannie Coetzee, ”Weemoedwalse van ou plekname”


As jong kind het Jules Verne se Around the world in 80 days my bekoor. Ek wou nog altyd daardie reis-om-die-aarde onderneem en toe stel ‘n vriend dit een aan aand voor. Van Johannesburg tot in Hong Kong, Beijing, Tokio, San Francisco, Los Angelos, Chicago, Washington DC, New York, Istanboel.

Op die negende van die negende vertrek ek. Om nege stede te besoek op verskillende kontinente… Twee dae voor 9.11, my geboortedag, ook met die doel voor oë om in New York te wees tydens die herdenking van die terreuraanval. Maar liefs nie op daardie dag nie. Eerder ‘n bietjie later sodat ‘n mens met afstand na die herdenkings kan kyk. ‘n Terugkeer na my geliefde stad, New York, ‘n stad wat ek sedert die aanval nog nie weer kon besoek nie, omdat dit vir my emosioneel te oorrompelend sou wees.

Maar dit word ook ‘n herbesoek aan ánder stede wat ek al in die verlede besoek het,  weliswaar in ‘n jonger gedaante, met meer drif, meer onskuld. Hoe sou San Francisco nou lyk? My eerste bundel Hartskrif bevat immers ‘n gedig oor hierdie stad, soos oor New York, wat in vele bundels my bly agtervolg het.

‘n Re-unie dus. Maar terselfdertyd ‘n meditasie. ‘n Teruggaan-in-die-tyd met die opgaaf om as ouer persoon weer te probeer kyk na ‘n stad soos jy dit die eerste keer ervaar het. San Francisco en LA in 1980, Tokio in 2002, Istanboel in 2008. New York in 1980, 1984, 1990, 2000. Chicago in 1994. Van die Ooste na die Weste tot in die oer-stad: Istanboel. Een kaart per Star Alliance. Reis is dhutanga, oftewel harde praktyk, omdat ‘n mens dikwels soos die Boeddhisme ons leer, goed afweer of uitskud.

 © LocalEats® 2012 | All Rights Reserved

Hong Kong het ek deur die jare goed leer ken. Op die voorblad van Vuurwiel (2009) is daar ‘n foto van ‘n hotelkamer in hierdie stad van deurgang, poort tot ander stede. Ek het eweneens die transformasie van die stad sélf deur die jare beleef: van ‘n stinkende, agterlike stad wat ruik na kos tot ‘n gesofistikeerde, bruisende wêreldstad.

Daar is min geweld en diefstal. Kenmerkend van die stad is die rooi taxis wat vinnig deur die strate vleg. Hong Kong spog met meer skyscrapers as New York en word vandag saam met Tokio as ‘n finansiële hoofstad beskou.

Met my aankoms is Hong Kong besonder warm en swoel. Die Sondagaand beleef ons ‘n monsoon. Maar die reën bring min verligting.

Die Hong Kongers is ‘n uiters gedissiplineerde, gehoorsame gemeenskap wat net stap wanneer die voetganger-mannetjie groen flits met klik-klik geluide wat die stad se hartklop word. Op ‘n nuwejaarsaand, jare gelede, het ek gesien hoe die polisie met behulp van toue skares mense oor die strate help. Wanneer die tou oopmaak, stap almal vorentoe in gelid. Op die oopbus-toere vind ‘n mens oorfoontjies waarmee in die taal van jou keuse (helaas geen T-opsie) die geskiedenis van die stad verhaal word, onder meer hoe Hong Kong in 1997 teruggegee is aan Sjina.

Hong Kong staan in die teken van welvaart. Dis embleme en handelsname net waar jy kyk en geboue word gereeld afgebreek en herbou om nuwe werkgeleenthede te skep. ‘n Voortdurende  facelift dus.

Wanneer ‘n mens reis, agtervolg dele van ‘n ander land jou dikwels. Hier vind mens byvoorbeeld plakkate van Chicago, ‘n stad wat ek later in hierdie reis gaan besoek.

Hong Kong is ‘n stad van transformasie, van ‘n voortdurende wisseling van lywe om met die digter saam te praat.
     
Meditasie:
                                                                                      
‘n Stad is soos ‘n mens,
word oud, steier onder aanslae,
dra letsels, plooie van jare se swaarkry,
uitdagings misverstand.
‘n Stad is ook ‘n spieël,
kaats terug wat voor sig staan.


Bron:

John Snelling. 1990. The Elements of Buddhism. Massachusetts: Element.