Saturday, March 9, 2013

Ann Patchett - Bel Canto (2001)



Ann Patchett. Bel Canto. Jonathan Ball, 2001. ISBN 1 84115 583 7.

Resensent: Joan Hambidge

Bel Canto van Ann Patchett het die 2002 Pen/Faulkner-prys verower. Die skrywer is bekend in die VSA waar sy alreeds die gesogte Guggenheim Fellowship ingepalm het en die Nashville Banner Tennessee Skrywer van die Jaar Toekenning ontvang het. Sy is ook bekend as joernalis (haar naam het al opgeduik in GQ, Vogue, Elle, Boston Globe…).

Die gegewe van Bel Canto herinner nogal aan Werner Herzog se Fitzcarraldo in die belewenis van ‘n fantasie wat skeefloop.

‘n Party word aangelê vir ‘n ryk Japannees, ene  meneer Hosokawa, wat ‘n elektroniese besigheid besit. Dit word natuurlik alles gedoen besigheid ontwille. Om alles vir hom aanloklik gemaak, word sy obsessie met Amerikaanse opera diva, ene Roxanne Coss, aangespreek. Sy word genooi na hierdie party sodat hy haar van naderby kan betrag. Die gegewe speel sig af in Suid-Amerika en ja, terroriste wil die president ontvoer.

Die president bly egter die aand tuis om na sy gunsteling soap opera op TV te kyk. Dit het tot gevolg dat ‘n vreemde skare eerder ontvoer word. Natuurlik ook die pragtige Amerikaanse opera diva, die ryk Japannees wat besete is met haar talent (en elke liggaamsuiting van haar registreer) en ‘n vertaler. Liefde tussen onmoontlikes (binne ‘n vreemde ruimte) vind dus plaas. Natuurlik is dit ‘n foutiewe ontvoering en vele intriges spruit uit hierdie samekoms tussen mense. Vladimir Propp se Morphology of the folktale en die verskillende rolle wat karakters vertolk, is dus tersprake.

Vir die leser is dit duidelik dat die skrywer die gegewe wou laai met opposisies: Ooste en Weste; kuns en geldmag; terrorisme en regeringsbeheer; intellektualisme en vervlietende vermaak. Die gegewe speel ook  in op die Peru-krisis in 1996 toe mense vir vier maandelank gevange gehou is. Op Powells.com (“Ann Patchett hits the right notes”) word ‘n onderhoud gevoer met Dave Weich waarin dit ook duidelik is dat die skrywer geen gebrek aan selfvertroue het nie. Inteendeel.  Sy wou glo ook ‘n alwetende verteller inspan soos in Anna Karenina.

“Let’s hope the next book takes on something else”,  bely sy. Ons hoop ook so. En ja, Thomas Mann se The Magic Mountain het haar ook bekoor! Meer in die kol is die opmerking dat The Poseidon Adventure ‘n interteks is. En dat sy ‘n Eudora Welty-tipe lewe lei…

Vir die kenner en liefhebber van opera en sang is hier vele juwele. Verwysings na Tosca en La Wally, onder andere. Daar is mooi momente – soos wanneer die sangeres se sang beskryf word – maar dit is asof die skrywer se idees nooit werklik die leser oorrompel nie. Die dialoog is soms ook so niksseggend.

“So you live in Milan,” Thibault said.
“It’s a beautiful city.” (p. 316)

Karakters praat dan te dikwels asof hulle optree in ‘n strokiesverhaal.

“I’ve located the boy,”Gen said.
“The boy?” Mr. Hosokawa said.
“The singer.”
“Oh, yes, the boy, of course.” (p. 282).

Die hele roman misbruik die sub-tekste van opera soos “ek het gelewe vir die kuns” en die dood sal oorwin word op ‘n té resepmatige wyse.

Dis ‘n “lekkerlees” roman. Iewers tussen ‘n badlees-episode en ernstige, talmende prosa. Goed aanmekaar gesit, vermaaklik, vergeetbaar. R119 vir hierdie sagteband is nogal ‘n duur uitgawe’tjie, sou die uwe meen.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]a