Saturday, March 9, 2013

Wêreldreis: Stad 2. Beijing, stad van erbarming of (karuna)



Die groot muur van Sjina wat volgens 'n volkslegende die enigste struktuur is wat van die maan af sigbaar is. Neil Armstrong het hierdie dwaling die nek in geslaan. Om te glo jy kan dit van die maan af sien met die blote oog, is dieselfde as om sê jy kan ‘n haar op ‘n afstand van twee kilometer uitmaak. Beijing se tempels en groot muur is ‘n verpligtige stop, en met elke besoek sien ‘n mens iets meer. ‘n Mens kan wel die muur uit die ruimte (space) sien soos ruimtevaarders al bely het.

Die lughawe is oop en modern met treine wat jou van verskillende afdelings vervoer. Pas op die lughawe aangekom met my tas op ‘n karretjie en ‘n polisieman kom nadergestap met sy snuffelende spanjoel. Die hond snuif driftig aan my tas.

“Het jy kos in jou tas?”, vra die polisieman nurks. Ek wil eers antwoord, ja, Nando’s om julle Peking-eend te troef, maar toe dag ek liefs nie grappies maak nie.

Hy maak my tas oop. Na ‘n tydsame deursoekery blyk dit die spanjoel is deur my sonbrandolie om die bos gelei, en ek word toegelaat om deur te stap.

Aangesien daar geen hotelbussies van die lughawe na die hotel is nie, kry ek ‘n gawe huurmotorbestuurder wat Engels magtig is en my na die hotel neem (gebaretaal is meermale die enigste uitweg). Die rit van die lughawe na die lieflike ouwêreldse hotel Quianmen Jianguo hotel waar ek tuisgaan duur ongeveer 50 minute.

Beijing, © Travelnix.com 

Onderweg gee my huurmotorbestuurder my ‘n imprompto oorsig van die stadsgeskiedenis. Langs die pad hang daar ‘n groot plakkaat van Mao TseTung. Hy vertel my van die studente-opstande op Tiananmen-plein. Dankbaar dink ek terug aan ‘n geskiedenis-module oor Sjina en die Ming-dinastieë. Dit is makliker om die ouer Sjina te verstaan as die moderne een. Dit is meer vertroud.

Taalprobleme sorg vir onthoubare oomblikke. Die aand in die hotelkroeg is die wyn gekurk en na ‘n lang gesukkel met gebaretaal bestel ek maar bier. Die twee kroegmannetjies is bitterjonk.

Toe ek die rekening vra met my vinger wat skryf in die palm van die hand, lag hulle. Die een kom nader met sy selfoon, hou dit na aan my oor: ”Invoice, invoice”, sketter dit op Engels. Hulle lag uitbundig oor hul eie grappie.

Op dag twee is die Groot Muur my teiken. Eers die gewone tempelbesoeke wat die enorme geskiedenis voorstel. En verdomp, ‘n vliegende mier steek my op my arm. Binne ‘n ommesientjie is my arm geswel. Vir my is dit egter ‘n teken van geluk.

In elke stad tel ek ‘n blaar op en pars dit saans in ‘n moleskin-boekie. Ek het reeds soveel klippe van verskillende stede. Nou is dit blare. Een blaar per stad (en een vir my vriend Johann de Lange).

Bygelowe is aan die orde van die dag. By ‘n tempel mag ons nie foto’s neem nie. Ek steur my nie hieraan nie en lê dit vas op my Fuji.

Alvorens die Groot Muur sélf besoek word, is daar die gewone toeristiese verleidings van winkels wat edelgesteentes verkoop. In een van hulle sit 'n man wat met verbysterende geduld uit 'n beeldjie kerf uit agaat met net ‘n lemmetjie aan ‘n boorpunt wat piepklein skaafsels laat neersif.


In ‘n kabelkarretjie op pad na die Groot Muur. Dit suis in my hart, want die deurtjie is nie heeltemal toe nie. Daar is ‘n skrefie waardeur ek my hand kan steek en die plantegroei bewonder. Die Groot Muur: asemsnakkend, uitdagend, ‘n monument wat eers vyande moes afweer, nou vele toeriste opneem in groen kabelkarretjies soos by die Pretoriase dieretuin. In moderne tye word geskiedenis ‘n toeristiese geldmaakbedryf. Kyk maar na Machu Picchu wat sy ongeskondenheid verloor het. Deesdae is daar meer busse berg op as in Pretoriase middestad. ‘n Jongman het ses maande geneem om die muur se 6 000 km te stap, en is padlangs deur weldoeners van voedsel voorsien.

Om my is daar toeriste van alle soorte wat stamp en stoot. Die Sjinese verál het geen sin vir private ruimte nie. Daar word gedurig aan jou geraak hulle dink niks daarvan om jou private borrel te betree wanneer jy met iets besig is nie of terwyl jy nog besig is met iets. Hamba, raas ek toe ‘n man aan my stamp binne die reeds prekêre kabelkarretjie toe ons inklim. Diep in sy wiek geskiet, vra hy om verskoning. Dit is om hierdie rede dat ek my reis in besigheidsklas aangepak het sodat ek nie die ekonomiese voorreg het van ‘n mede-passasier se snorke en reuke nie. En nie kos met ‘n plastiekvoorwerp hoef te benader nie. Of te hoef luister na lewensverhale en ander dergelikhede nie. ‘n Stad stel immers altyd iets van ‘n mens se persoonlikheid voor en dit moet jy diepgaande ervaar. Vir my is Beijing – en meer spesifiek die Groot Muur – gekoppel aan uitdagings, weliswaar moeilik, wat ‘n mens die hoof moet bied en tog oorwin.

Een aand op televisie is daar ‘n program van soldate wat hul honde oplei. Groot diere wat trappies moet ophardloop en dan oor twee sporte moet spring. Onder is daar ‘n vangnet. 'n Hond val af, spartel tussen die toue en word deur die mans gered. Hy het nie ‘n keuse nie. Hy word gedwing om weer en weer te spring totdat hy dit regkry. ‘n Vinjet van wreedheid.

Ek stap een oggend vroeg deur die ou buurt van Beijing. Ek haal my kamera uit om 'n klein slaghuis met sy netjies bereide vleis af te neem. Fout. Die vrou gil en haar man verbied my om ‘n foto te neem. Natuurlik vrees sy dat my foto haar siel sal steel en druipstert stap ek weg.

Vars groentestalletjies, oompies wat mahjong speel, kwispelstertbedelende honde, oumas met kleinkinders (elkeen natuurlik met net één, gedagtig aan Sjinese gesinsbeperkings) vorm die agtergrond van my wandeling. Die babaseuns het almal broekies aan wat sowel voor as agter oop is. Dis hoe hulle die seuntjies hier leer. Die klokkies hang uit en doer ver sit ‘n knapie op sy hurke, terwyl ouma toekyk dat alles vlot verloop. Natuurlik verhoed dit ook dat die kleertjies nat word. Dit gaan alles terug na vroeër tye toe gesinne meer as een kind had en kleintjies maar self moes sorg vir broeklosmaak.

‘n Beijing-riksja is my toergids deur die buurt. Almal wuif. Beijing het ‘n moderne en vinnige lewe teenoor hierdie ou wêreld, gestulp in die tyd. Dieselfde stadige leefwyse as Mosambiek en Kenia. Mense wat geselsies maak, ware verkoop, waarskynlik niks weet van die groter, dwingende wêreld daarbuite nie, dog ook uitgelewer is aan uitdagings, vrese, onsekerhede, geboortes en dood.

In die middag wandel ek deur ‘n buurt agter my hotel waar ‘n ou oom met ‘n loopraam sit. Hy is losweg 90 jaar oud te oordeel aan die plooie en letsels op sy gesig. Oosterlinge word baie oud, volgens navorsing, die oudste op aarde. Hier sit die ou man met sy sikkeneurige ou vrou wat hom die hele tyd die leviete voorlees, as ‘n mens die hoë frekwensie van haar stem in ag neem. Sy wuif haarself koel met ‘n pienk waaiertjie wat sommer ook as vlieëplak diens doen. Sy het ‘n blou pakkie aan en die knie is netjies gelap. Die mense woon in klein pondokke met buite die deur ‘n besempie, potplante, en skoene wat in die son staan.

‘n Kat met ‘n klokkie spring oor ‘n plant. ‘n Verbyganger maak keelskoon en spoeg op straat. Twee jong geliefdes bestel uitgebreid kos. Langs my sit ‘n ander ouma. Ons sit almal onder ‘n ou boom en voer 'n woordelose gesprek. Ek bied vir hulle van my bier aan. Nee dankie, beduie albei beleefd. Die oompie weet natuurlik die hel sal losbars as hy ‘n doppie vat.

‘n Pa stap met sy mongoolseuntjie verby en ‘n dogterjie spring uitgelate op en af. Skielik raak iemand aan my. Dis die ouma met haar kleinseun. ‘n Pragtige dingetjie wat buidel van geluk. Sy haartjies poenskop gesny. ‘n Volledige vinjet van vreugde, hierdie samesyn met die Sjinese op ‘n middag in September. Dié aand is die Peking-eend in die hotel se restourant voortreflik. Alles is perfek.

Tot ek die volgende oggend by die lughawe aankom en twee Zippo-aanstekers moet afstaan. Sjinese lugvaartregulasies. Dit help nie om te neul en te wys op die sentimentele waarde van die aanstekers nie. Wel, gee my dan ten minste die houers en neem net die binnegoedvra ek. Dan kan niemand dit gebruik nie, mor ek in my binneste. (Jou moeder van ‘n Pekinese hond, vloek ek liggies.) Skielik verander die deuntjie. “Ons sal dit aan u terugbesorg. Hier is ‘n kwitansie.”

Alles in Sjina is noodlot, weet hulle te vertelle. En in John Snelling se The elements of Buddhism (Element, 1990) lees ek van koans en waarhede.  

Tafereel

‘n Diepgroen boom
lowerryk, vol voëls wat sing,
staan in die agtertuin van ‘n huisie beskeie
in Beijing. Die oompies speel mahjong,
die tantes spoel al skinderend die wasgoed,
mense fiets verby, dis skoolkomuit-tyd.
Oor hierdie klein tafereel van menslike bestaan
staan daar ‘n voël opgesluit in ‘n hok. Sy kraalogies
draai soos ‘n arend s’n reg om dié gedoente.
Hy droom van ‘n ander bestaan, ‘n beter wêreld,
verby inperkings, vérvandaan, oor groot mure
veel, veel langer as sesduisend kilometer klip. 
‘n Toevallige besoeker sien dit alles, vou dit op
en knoop dit vas in haar geheue. So vredig
om in hierdie oomblik te wees, so ongelooflik eenmalig.


Bron:

John Snelling. 1990. The Elements of Buddhism. Massachusetts: Element.