Monday, March 4, 2013

Tom Sharpe - Wilt in Nowhere (2004)



Tom Sharpe. Wilt in Nowhere. Hutchinson, 2004. ISBN 0 09 179965 1.

Resensent: Joan Hambidge

Tom Sharpe, David Lodge en Malcolm Bradbury. Spreek die woord en onthoubare vinjette doem voor die geestesoog op. Om nie eens te praat van Kingsley Amis se Lucky Jim nie. In Sharpe se Indecent Exposure, wat hom die argwaan van almal op die hals gehaal het, is daar etlike tonele en in Wilt, my allergunsteling, die opblaaspop wat soveel konsternasie veroorsaak het. Soms troef Lodge hom wel met die akademiese opset wat hy so kan opstuur.

Wilt in Nowhere is egter ‘n groot leesteleurstelling. The Times kondig hom aan as die snaaksste romansier van ons tyd, maar hierdie jongste roman is on-snaaks. Dis soos ‘n grap wat jy al iewers gehoor het en iemand vertel en die ‘punchline’ verkeerd het.

In 1986 is Tom Sharpe bekroon met die gesogte XXXIIIème Grand Prix de l’Humour Noir Xavier Forneret.  Porterhouse Blue o.a. het die televisieskerm gehaal en Wilt is verfilm. Die oubaas se slag met swart humor laat hom nou egter in die steek. Of dalk is humor maar iets wat dateer.

As dit vir jou snaaks is hoe iemand ‘n bietjie in die toilet wegkruip om sy vrou se aanslag te vermy of ‘n vet vrou op reis verdink word van dwelmsmokkelary, lees dit gerus. Of hoe Wilt verdwaal in Engeland. Die roman begin met baie belofte wanneer die akademiese toneel gesatiriseer word. Rekenaars weet ons kan met stiptheid ‘n rooster uitwerk, maar nie bepaal watter vakke of persoonlikhede liefs nie neffens mekaar aangebied moet word nie.  Of sou David Lodge dalk iets méér hiervan gemaak het?

Die lagkurwe van die vorige boeke het gedaal. Die boek is ook in ‘n groter druk gepubliseer asof die skrywer gesukkel het om die bladsye vol te kry. Ook die ‘cliff-hangers’ tussen hoofstukke, juis dit waarin hierdie outeur nog altyd uitgemunt het, werk nie oral nie.  Inderdaad kan ‘n mens van hierdie roman ook skryf:”Things just happened to people for no good reason…”(p. 247). Miskien moes die skrywer beplan het.

Die fut is uit.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]