Jan van Tonder. Roepman. Human & Rousseau, 2004. ISBN
07981 4458 0.
Resensent: Joan Hambidge
Die pynlike oorgang van seun na manwees is waarskynlik
in Afrikaans deur Hennie Aucamp ingelei met sy Wimpie-verhale. Niemand het
egter die ‘coming of age’ meer behendig verwoord as Truman Capote in The grass harp en Other voices, Other rooms nie. Holden Caulfield in Salinger se The catcher in the rye is eweneens ‘n
indrukwekkende prestasie. Dit som die problematiek van die kind-verteller op as
outsider èn sensitiewe waarnemer. Enersyds buite die gang van sake; andersyds
registreerder en interpreteerder vanuit sy beperkte blikhoek.
In Jan van Tonder is (Sep)timus die fokalisator. Die
pa-figuur waarsku dat die lewe nie ‘n storie is nie. Hiermee word die
verbeeldingryke gemoed van die jong kind vir die leser oopgemaak. Hy leef ook
in ‘n tyd van politieke fabrikasie (Verwoerd se aanwesigheid en dood gooi ‘n
skadu oor die vertelling) en die sosiale kodes van die sestigerjare word
uitmuntend verbeeld.
Die gesin woon op Durban se Bluff-area en behoort tot
die werkersklas. Bevordering vir die pa beteken Stanger. Die susters wil die
huis verlaat waar die vader, ‘n patriarg, sy wil afdwing en sy kinders tug.
Timus word in die badkamer geslaan wanneer hy oortree. Deur Timus se oë (ook word Seppie ‘n
spotnaam) beleef ons ‘n kind se seksuele ontwaking (weliswaar laat), ‘n suster
se ongewenste swangerskap, ‘n kort, dog dringende homoseksuele ervaring. In
hierdie wêreld is die skeel Roepman ‘n beskermling vir Timus met sy gebreekte arm.
(‘n Simboliese aanduiding dat hy geskend is, net soos wat die bene van die
vlermuise wat hy optel weer aan die onsienlike verbind word en die leser
subtiel voorberei op die aborsie en Roepman se lot, uiteindelik.)
Die laerklas-leefwyse word helder en simpatiek geteken:
R.R. Ryger se Beertjie en sy boytjies
was satiries-uitbundig en Jeanne Goosen se Ons
is nie almal so nie, ‘n ironiese kragtoer. Roepman is hartseer-storie. Die leser bly pynlik bewus van die
ellendes wat die mense tref en arme Timus se desperate pogings om ‘n grootmens
te word. Ons vind die leefwyse van die laerklas: ‘n spoorweglewe, die Durbanse
hawe, die Addington-hospitaal wat verbeeld word soos dit is. Ons verneem
subtiel die kind drink koffie en eet brood met sy middagete; ‘n broer moet in
die gang slaap weens ‘n ruimte-probleem. Ontstellend en onthustend is die
eenvoud en veral skreiend weergegee deur die kind wat nie ‘n ander lewe ken
nie. Hy interpeteer die lewenswaarhede wat hy hoor, maar is uitgelewer aan
wrede elemente rondom hom.
As ons Alice Miller, die bekende psigoanalis op haar
woord moet neem in The forbidden issue, veroorsaak
jeugtrauma ‘n verklaring vir gedragsafwykings en kreatiwiteit. Die leser bly
dan ook bewus van twee vlakke in hierdie soort vertelling: die jeugwaarnemer
wie se waarnemings en ervarings gestuur word deur die volwasse skrywer. Hier
egter sonder verbittering of woede indien ‘n mens dit ook as verhulde
outobiografie wil lees. Die outeur ontken in die kolofon die werklikheid; op
die volgende blad staan die opdrag: dat hy stukkies van die lewe kon afloer en
-luister. Ook hierdie spanning in die teks is tersaaklik, ofskoon dit nie op ‘n
grensoorskrydende wyse nagespeur behoort te word nie. ‘n Roman verleen immers
altyd aan die skrywer die reg tot fiksionalisering en oordrywing.
Van Tonder is ‘n meester in subtitiliteit en suggestie.
Terselfdertyd is dit ook die mankement in hierdie boek: die Roepman-figuur moes
helderder geteken gewees het. As beskermling (wat subtiel verbind word aan die
bo-natuurlike), moes hy reeds van die begin af ‘n groter aanwesigheid gehad
het.
Die Roepman se lot word verbind aan die verlies in
onskuld en die modernisering van die spoorweë. Daar is simbolies nie meer ‘n
Roepman nodig nie, want die kind het insig gekry in die mag van leuens,
fantasie en hoe hy nooit weer ónbevange na die lewe sal kan kyk nie. Op ‘n
verbluffende wyse word al die simbole en motiewe saamgebind in die
slothoofstuk: ‘n ongewenste kind, aborsie, moord / ongeluk en ‘n uitbeweeg van
die onskuldige blik op die lewe na ‘n pynlik-volwasse insig. Die primordiale
krag van die gegewe word behendig verbind en Jan van Tonder beweeg diep in sy
eie psige in.
Daar soveel onthoubare momente in hierdie boek: soos
Boytjie, die bediende se swart kind wat deur die vader verjaag word; die
skuimtonele; die beskrywing van ‘n groter seun se seksuele uitbuiting van ‘n
jonger kind en die konfrontasie met Joon. In onderhoude bely Van Tonder deur
hoeveel weergawes hierdie roman moes gegaan het om uiteindelik hierdie boek te
word. Dalk, dalk kon ‘n laaste weergawe my beswaar ondervang het.
Lees hierdie roman.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]