Monday, March 4, 2013

Lydia van Eeden - Die verlore saak. Outobiografiese vertellings (2004)

Lydia van Eeden. Die verlore saak. Outobiografiese vertellings. Praag, 2004. ISBN 0 9584635 2 2.

Resensent: Joan Hambidge

I.
Uit die Praag-stal het daar sopas ‘n roman met die subtitel “outobiografiese vertellings” verskyn. Dit is Lydia van Eeden se Die verlore saak wat die verhaal vertel van die jonge Ingrid wat werk vir NI. Sy beland in Parys om die indertydse ‘aanslag’ van die ANC af te weer onder die vals naam Monique de Villiers. Hier beland sy in vele beddens en in vele intrigues met Leon Strydom, ‘n Boere-James Bond as haar hanteerder. Die roman wil kennelik vrae vra oor die posisie van die agent en hoe so ‘n persoon in grys gebied beland wat op die duur ‘n slopende uitwerking het op hul gemoedslewe.

Dit is egter uiters oordrewe om die leser te mislei met die uitspraak dat hierdie roman ons laat kennis maak ‘skadukant’ en die ‘onbekende’. Ook verneem ons “In geen riller is dit nog ooit so getreou uitgebeeld nie…”. Hierdie leser is ‘n kenner en liefhebber van die thriller-genre en terloops ‘n riller is nie dieselfde as die woord thriller nie.

Waarskynlik het hierdie roman te kort op die hakke van die oorrompelende Moltrein verskyn wat ‘n goeie beskrywing gee van Parys en die Franse leefwêreld. Verder word die roman van motto’s voorsien wat dikwels nie sin maak nie. Die belangrikste beswaar is egter teen die feit dat dit nie ‘n dwingende verhaal of storie word nie. Om ‘n teks as ‘outobiografies’ te tipeer, beteken nie dat dit ‘soos dit is’ weergegee kan word nie. 

In Kleinboer se Kontrei word die leser ook voorgestel aan die outobiografiese, maar daar gebeur iets tussen die werklikheid en die storie wat vertel word. Die skrywer fiksionaliseer, oordryf en neem die leser op reis. By Van Eeden is dit gewoon net ‘n relaas wat nie vertelling word nie. Dit is jammer, want die teks word oorhaastig uitgegee en ‘n mens dink indien sy iets sou byvoeg (of wegneem) kon dit oortuigend geraak het.

II.
Oor die struktuur van die spanningsverhaal of thriller het ek al uitgebreid geskryf en die James Bond-verhaal waarin ‘n vroulike karakter binne die domein van die manlike skaduwêreld intree, sou ‘n interessante roman kon oplewer. Ek verwys kortliks na my studie oor gender (2000).

In Jerry Palmer se Thrillers - Genesis and structure of a popular genre  (1978) word die genese van dié genre ondersoek. Palmer verwys na paranoia as 'n belangrike element van hierdie genre in die afdeling "Competition and conspiracy: Paranoia as ideology". Aksie beteken alles vir hierdie soort held en as daar niks gebeur nie, is hierdie held (soos James Bond) volledig identiteitsloos. ‘n Mens vind iets van die paranoia in die Van Eeden-teks, maar dit word nie genoegsaam ontgin nie.

Die James Bond-verhaal funksioneer rondom binêre opposisies en Umberto Eco in "James Bond: une combinatoire narrative" het die volgende opposisies uitgewerk: opposisies van karakters soos held/skurk; held/vrou - opposisies van waardes soos geldmag/idealisme; programmering/risiko. Bond is dan by uitstek in staat om telkens te kan improviseer binne 'n moeilike situasie, soos Palmer aantoon(1978, p. 7). Bond steek 'n sigaret aan en glip die pakkie in sy bo-sak wat uiteindelik verhoed dat 'n koeël hom tref. Hy maak asof hy dood is en vind dan 'n mes digby sy baggasie wat hom uit hierdie netelige situasie red. Hy dra dus altyd 'n "bag of tricks" met hom saam wat wys op die gevare wat as't ware voorsien of geprogrammeer is. As Van Eeden dan ‘n vrou in hierdie wêreld plaas, aktiveer sy al hierdie kodes en keer sy dit as’t ware op hul kop. Maar, sy stal dit net uit en neem dit nie ver genoeg nie.

Ook sy vyand het hul stel planne wat daarop ingestel is om Bond s'n te neutraliseer. Wat wel tersaaklik is, is dat Bond telkens staatmaak op vorige missies waarop hy dan improviseer binne 'n moeilike of dreigende situasie.

Palmer(1978, p.14) meen egter dat Eco se klassifikasie nie voldoende is nie. Hy verwys na die amateur/professioneel/burokraat as 'n handiger sisteem.

Volgens Palmer is die amateur en burokraat nie in staat om uit ervaring te leer nie. In die wêreld van die burokraat is daar niks nuuts en onverwags om te ervaar nie. Alles bestaan soos wat dit behoort te bestaan. Dr. No is 'n voorbeeld van só 'n figuur en hierom kan James Bond hom volledig uitoorlê. Bond bring 'n hyskraan (met 'n vrag vol guano) nader en versmoor Dr. No hierin.

Ook die amateur kan eweneens nie uit ervaring leer nie, gewoon omdat alles nuut is. Hierteenoor is die professioneel, soos Bond met sy licence to kill, in staat tot improvisasie. In vele Bond-romans en -films is dit juis hierdie aspek wat die leser/kyker betrek. In die jongste Bond-films is die spesiale effekte onder meer al so aanskoulik dat selfs die BMW waarin Bond ry met afstandbeheer werk en by implikasie Bond se kragte oorgeneem het. Die oortreding van reëls of aanwysings word dikwels in Bond-tekste gevind omdat dit die enigste manier is wat hy werklik sy vyand kan uitoorlê. Palmer (1978, p. 63) betrek tereg Casino royale (1953) waar Bond van dobbeltafel na dobbeltafel beweeg ten einde meer te wete te kom oor sy vyand.

Tog herhaal die films telkens dieselfde struktuur wat herinner aan Vladimir Propp se Morphology of the folktale (1913) waarin die optrede van dieselfde figure telkens teruggevind kan word: die held of doener; die Prinses of "sought-after person"; die boef, en dies meer.

Elkeen van hierdie karakters het volgens Propp spesifieke funksies. Palmer wys ook daarop dat die skurk byvoorbeeld betrokke raak by 'n situasie weens wraak, geld of 'n maglus (soos in die geval van dr. No)(1978, p. 16). Om die eksotiese lewenstyl uit te leef, moet die skurk dus beweeg in die wêreld van die ondergrond of die onwettige bestaan. In hierdie opsig is Fleming se skurke in wese parodieë op onderwêreldse mens of primitiewe krag, soos dikwels in feëverhale aangetref word. Hulle leef selfs onder die see of in luukse skepe; in tombes van staal wat dit uiters moeilik maak vir die held om hierdie gevaarlike onderwêreld (ook 'n manifestasie van die onbewuste) te betree.
Palmer voorsien dan ook die volgende tabel:

Professionalism            Amateurism
           Bureaucracy


Reciprocity                      Ectopia
                    One-way information flow


Experience                 Arrogance
      Incompetence


Participation              Isolation

James Bond-verhale maak ook spesifieke gender-stellings wat die leser/kyker nie kan negeer nie. Bond met sy Aston Manor en beretta het 'n licence to kill. Hy drink sy Martini's "shaken and not stirred" en hy is bestand teen moegheid of enige nagevolge van sy liefdesavonture. Hy word voorgestel as 'n super-man en vroue is eweneens nie bestand teen sy sjarme nie.

Hulle is dan dikwels die prooi ten einde 'n missie suksesvol af te handel. Maar die vroue gebruik Bond ook weer vir húl doeleindes wat die kritiek dat Bond misogonisties is, bevraagteken. Ook is dit so dat hierdie teks hul gender-rolle oordryf en bykans parodieer. Dit wat vergroot word (die term blow up uit Umberto Eco se The role of the reader, 1978) moet uiteraard weer beskou word.

Die uitstal van James Bond se machismo is sowel die Fleming-tekste as die films maak 'n spesifieke gender-stelling. Op die oog af lyk Bond misogonisties en sou die leser/kyker selfs kon kommentaar lewer op die seksisme waaroor verskeie feministiese kritici al kommentaar gelewer het. Die vroue is egter ook spioene wat Bond soveel misbruik as wat hy hulle gebruik.

Bond se machismo word geëwenaar deur vroulike lis of geslepenheid. Hierdie vroue vertolk net oënskynlik die rol van die "tweede seks". In wese is hulle gelyk aan hom en manipuleer hulle hom soveel deur middel van seks as hy vir hulle.


Bronne:

Hambidge, Joan: Genderkonstruksies in die Afrikaanse letterkunde’n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk. Phd, UK. 2000.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Spilpunt geplaas.]