Tuesday, March 5, 2013

Salman Rushdie - Step across this line. Collected non-fiction 1992-2002 (2002)



Salman Rushdie. Step across this line. Collected non-fiction 1992-2002. Jonathan Cape, 2002. ISBN: 0 224 06160 7.

Resensent: Joan Hambidge

Van die kleurryke Salman Rushdie, wie se Midnight’s children genomineer is as die Booker van die Booker, oftewel die mees uistaande roman van die eerste vyf-en-twintig jaar van die prys se bestaan, verskyn Step across this line, ‘n bundel essays. Rushdie se allemintige ego (hy het immers eenkeer die stoel agteruit geskop toe hy nie die Booker ontvang het nie) en die fatwa op sy lewe, omdat hy die Ajatolla onrustig gemaak het met sy uitsprake oor Moslems en Allah, kom ook hier aan bod.

Die versameling essays is soos Montaigne dit oorspronklik gedefinieer het as ‘n teks wat persoonlik in aanbod is en ‘n wat ‘n bepaalde punt of lewenswaarheid aan die leser wil oordra. Nie noodwendig moreel-didakties nie, maar ‘n lewenswaarheid of insig. En dit is hierdie essays bepaald. ‘n Bonte en briljante versameling oor uiteenlopende onderwerpe soos sy liefde vir sokker en die kultuur van hierdie spel, die dood van Lady Diana, ‘n persoonlike huldeblyk aan Angela Carter, ‘n kritiese blik op J.M. Coetzee se Disgrace, oor die fotografie van Avedon en hoe ‘n persona gekonstrueer word, oor sy eerste leeservaringe en die invloed van The Wizard of Oz op sy skryfwerk….    

Uitstaande en insigryk is sy essay oor die dood van Lady Di: hy vergelyk dit met Ballard en Cronenberg se filmweergawe van Crash. Op ‘n merkwaardige wyse is haar dood geseksualiseer deur die kamera, die objek (en ook geliefde) waarvan sy juis probeer wegvlug het.  Die ster en die motor. En die verdoemende ongeluk word so voortreflik semioties geanaliseer in hierdie essay. (“She died in a sublimated sexual assault”.)

Sy analise van sokker en die kultuur rondom hierdie sport, verdien ook vermelding. Geen wonder Vargas Llosa se mond het oopgehang nie. Nie al die essays het my interesseer nie. Die analises van Amerikaanse politieke figure is dikwels vir die nie-belangstellende te kripties.  Sy bestes is natuurlik letterkundige en media-kwessies:  ‘n kort blik op Arthur Miller; oor invloed en die gevare van die skrywer wat praat oor sy invloede; die omdigting van ‘n roman tot film en die probleme wat dit skep vir die skrywer; wat die titel Reservoir Dogs beteken en hoe dit in inspeel op Louis Malle se onvermoë om sy eie films se titels uit te spreek.

In “Heavy Threads” word ‘n blik gee op dit wat agter die skerms aangaan met beroemdes.  Sy ontmoeting met U2 en die skrywer wat ‘n alternatiewe beroep as akteur in sy jeug beoefen het, is werklik onthullend. Ons onthou ook die kameerolletjie in Bridget Joness’s Diary.   

En as ‘n mens dink die aanval op sy persoon het nie ‘n letsel gelaat nie, is jy uiters naief. Die hele verdelging van The Satanic Verses word met eerlike besonderhede geskryf. Onder meer ‘n besoek aan Indië wat gejukstaponeer word met die Hansie Cronje-insident en die besoek van Bill Clinton, wys van watter kaliber hierdie skrywer se waarnemingsvermoë is. Hoe sou hy ooit kon weet dat ‘n studiekursus aan Cambridge oor die Profeet se besoeking en die sataniese verse hom in soveel moeilikheid sou laat beland! Hy is opreg ontsteld oor die Japannese vertaler wat doodgemaak is deur die boek wat deur min teëstanders gelees is, maar met groot drif verguis is. Sy seun met sy meer moderne lewenshouding help die skrywer om na sy geliefde land te kyk.

Dit is ‘n skrywer se kladboek. Dit sal nie almal behaag nie. Dit is subjektief, dwars, intelligent, belese, tendensieus en uiteindelik omstrede. Maar veral goed geskryf soos wat ‘n mens van hierdie imposante skrywer sou verwag. Dit is boonop ‘n plesier om te lees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]