Tuesday, March 5, 2013

Kim McClenaghan - Revisitings (2002)



Kim McClenaghan. Revisitings. UCT younger poets series No 2, Snailpress, 2002. ISBN 1-874923-65-5.

Resensent: Joan Hambidge 

Die landskap van die hart. Dis die beste opsomming vir hierdie gawe debuut van Kim McClenaghan, Revisitings, wat die tweede een is in die UCT younger poets series, uitgegee deur Gus Ferguson. (Time and again van Fiona Zerbst was nommer 1.)

McClenaghan skryf met ‘n selfvertroue en tegniese beheer wat ‘n mens selde by ‘n jong digter vind. Ook die insigte is volwasse.

Die digter skryf ‘n gestroopte, eintlik ragfyne gedig wat hy laai met betekenisse en implikasies.  Dit gaan dikwels oor verlore liefdes, jeugherinneringe en verlies. Die magiese triade van die digterlike bedryf. Maar hierdie jong digter laai dit met nuwe vuur.

In “Heart’s tinder” skryf hy in teen die bekende struktuur van die liefdesvers wanneer hy op ‘n verrassende manier besluit:

I love you no longer –
I never have, nor ever will.

Die openingsvers stel dit duidelik: alle gedigte handel oor eindes (en verliese).  In  bykans alle verse slaan die digterlike bedryf deur as een wat alles bepaal en dikteer. Dit word vir die digter ‘n doelbewuste keuse (“where the poems of life are written”): hierom is daar dikwels ‘n afstandelike blik op mense, situasies. Die digter vra dan ook himself af:  “I write to live,/ or live, to write of life”.

“I, spinnaker” gebruik vernuftig skipbeelde om die liefdesreis te beskryf en die titelgedig is so suiwer en indrukwekkend.  In “Toads” word ‘n jeugherinnering gelyk gestel aan ‘n pynlike ervaring dat sy geliefde hom versaak het. As kind kon hy paddas se koppe vermorsel; nou word die ander man hierdie amfibiese dier wat hy verag.  Ook word die kinderverhaaltjie van die prinses wat die padda moes soen hier geaktiveer.

Begryplik dat die digter ook ‘n liriek vir Leonard Cohen skryf met die ontstellende stelling dat ‘n geliefde jou lewe steel as dit sleg afloop. Ook in “The way of things” word hierdie onbegryplike proses van die liefde verhaal.  In “Poets and lovers” word die verbintenis tussen skryf en liefde (wat is eerste? wat is die belangrikste?) behandel.

Die digter luister ook na sy ‘inner music’. Hierdie verruklike gedig word ook ‘n klein ars poetica wat saamgelees moet word met “All this time” (vir Cavafy). Eweneens behendig is die gedig oor Dylan Thomas waar die digter aan die woord gestel word. Die verse oor (en vir) Guy Butler en Arthur Nortje word eiesoortige lykdigte waarin reëls van die digters aangepas en gebruik word in sy vers. Nou onlangs het Lina Spies in ‘n artikel in Stilet  onsinnighede kwytgeraak oor in welke mate die lykdig van een digter ‘n ander se stellings en tegnieke mag gebruik: hierdie verse wys haar teorie verkeerd.

Daar was ‘n lang tyd toe die Afrikaanse debutante hul Engelse mede-digters ver verbygesteek het. Dit is die afgelope twee jaar of wat nie meer die geval nie. Daar is ‘n handvol sterk en belangrike stemme waarvan kennis geneem moet word. En Kim McClenaghan is só ‘n digter, nes Isobel Dixon, Finuala Dowling, Fiona Zerbst, e.a.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]