Maretta Bellingan. Klitsgras. Protea Boekehuis, 2004. ISBN 1
86919 059 9.
Resensent: Joan Hambidge
Nou onlangs het Maretta Bellingan ‘n uiters ontoerende
huldeblyk oor haar kollega Barrie Hough geskryf. Dit het verskyn in haar Sondag-rubriek
“Klitsgras” (sopas gebundel deur Protea Boekehuis) en die leser verneem dat die
titel van die rubriek ingegee is deur Hough, ‘n talentvolle jeugverhaalskrywer
en kritikus. Opvallend van hierdie stuk oor Hough was die toon: weg is die
grimmigheid, die aweregese humor, die dwarsklappe, die mal humor en jy word
getref deur ‘n ander Bellingan.
Vra maar enige rubriekskrywer: of jy nou oor wyn, boeke,
kos of reis skryf. Jy het die volgende nodig: stamina, ‘n hoek (“angle”),
taalvaardigheid, humor en ‘n implisiete leser. Selfs die háátlike leser is
beter as die leser wat jou ignoreer of verby blaai. Boonop skryf die
koerantessayis of –rubriekskrywer teen ‘n spertyd in. Met e-pos en faksmasjiene
gebeur dit vinniger en sneller. Die leser wag jou op ‘n Sondag in. Party keer
is dit Koos Kombuis of Maretta; ander kere beide. Maar sy is altyd die lees werd.
Die uiteindelike vraag is natuurlik hoeveel van hierdie
rubrieke kan lewend bly binne bundelverband. Etienne van Heerden noem sy
rubrieke tereg kits-essays, maar dit is terselfdertyd stukke met trefkrag èn
onthou-waarde. Beland die Sondag-stuk binne die blaaie van ‘n boek, dan kyk die
leser anders as na die koerantpapier wat jou hande swart maak, terwyl jy buk
oor die braaivleisvuur.
Die suksesvolle rubriekskrywer het sy of haar eie
handtekening. Miskien is die beste opsomming van die rubriekskrywer dat dit ‘n
‘essayis-in-the-making’ is. Amper daar, maar nog nie heeltemal af nie. Tog was
daar al ‘n Audrey Blignault, Dot Serfontein en Madeleine van Biljon wat ónthoubare stukke geskryf het. Blignault
se stuk oor haar rooi rok, Serfontein se een oor hoe dogtertjies nie in bottels
onder ‘n tafel kan piepie nie en Van Biljon wat ‘n ongewenste bewonderaar in
haar huis moet verduur.
Ek hou van Bellingan se rubriek. Sy het die klassieke
opmerking gemaak oor Harry Viljoen, Bok-afrigter-saliger, wat meer ‘highlights’
in sy hare het as wat sy span kon presteer. Of haar heerlike gek stuk “Aknee is
nie jou skuld nie” waarin sy fietsryers se nuwe kleredrag vergelyk met ‘n bont
kondoom! Bellingan se vry assosiasies is ook haar sterkste punt: sy kry ‘n
beeld dan hardloop sy met hom weg: soos dat sy nie met die fietsryer wou tandem
nie.
Ook wens sy vir Patricia Lewis en haar geliefde man net
die beste toe. Sy hoop ook dat daar ‘n paar haardroërs tussen die trougeskenke
was!
Lees hierdie boek vir die humor. Van ‘n skrywer wat wat
dalk ‘n erelid van die Patricia Lewis fan
club mag word en peetma van haar Barbie-poppe.
Bekendes soos Joost van der Westhuizen, die President en
algar wat dink hulle is ‘n Iemand se siel word uitgetrek. Nooit satiries-lelik
nie, eerder parodies of ontluisterend
sodat jy eweneens die kop skud oor hoé absurd mense kan wees.
As André le Roux die koning van die intro in Afrikaans is, kan bittermin rubriekskrywers so ‘n lekker
slot presteer as Maretta B.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]