Winnie Rust. Martha.
‘n Verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford. Hemel & see boeke, 2004. ISBN: 0 620 32476 7.
Resensent: Joan Hambidge
Martha is ‘n verhaal enig in sy soort: die eerste (en
waarskynlik enigste) bruin vrou met ‘n Britse adeltitel: the Honourable Lady
Martha Solomons, Countess of Stamford. Die ‘buzz’-woorde van ons tyd word dus deur
hierdie roman geaktiveer: ras, klas, identiteit en die koloniale diskoers.
Nou is dit so wanneer ‘n mens inbeweeg in die domein van
die Kaapse leefwyse aan die einde van die negentiende eeu, skryf jy teen die
grote Karel Schoeman in, by name. En die leser van die historiese roman is ook
‘n punteneurige aasdier wat enersyds ‘n feitelik-korrekte verslag verwag en
andersyds ‘n storie, dus ‘n ‘onwaarheid’ of fabrikasie van die gegewe wil lees.
En wanneer daar afgewyk word van die feite, moet die verhaal sterk genoeg wees
om die leser te oortuig. Ons dink hier aan beoefenaars van die genre soos J.M.
Coetzee, Dan Sleigh, Dalene Matthee, en andere. Jeanette Ferreira, self ‘n
bekwame romanskrywer, beweer dat hierdie roman ‘n trotse plek in die galery van
historiese romans kan verower. Nogal groot woorde, sou u meen.
Vanaf die eerste woorde (wat terloops in die roman die
belangrikste woorde behoort te wees) weet die leser instinkmatig dat hierdie
roman nog ‘n herskrywing benodig het.
Die prosa is vaal en die poging van die skrywer om te
verduidelik dat sy in die taal van die fokalisator weergeem is waarskynlik
binne die opset van die episodiese roman oortuigend en aanvaarbaar. Dit is
immers dan ook een van die kenmerke van hierdie soort roman waarin ‘n ouktoriale
verteller die gegewe struktureer (hier met hoofstukindelings) en dan ‘n
verteller aanstel om die storie te vertel. Miskien sou ‘n duideliker
afwisseling tussen ‘n meer beheerste stem en die naïewe verteller dit opgelos
het. ‘n Mens dink hier aan Tom Jones,
aan die romans van Dickens.
Met groot vrug het Erica Jong hierdie tegniek
gebruik in Fanny waar
hoofstukindelings die storie stuur. Daar is bepaald aangrypende passasies in Martha, maar die storie is dikwels te
tydskrifagtig na my sin. Dit bewys weer dat die stem van die verteller van
uiterse belang is en waarskynlik het die leser die gevoel dat die implisiete
outeur en die karakters se stemme nie genoegsaam geskei is nie. Of dat ‘n stem
outentiek moet klink. Ook word belangrike insidente te kursories vertel.
In die nawoord gee die outeur duidelike riglyne in welke
mate sy gefiksionaliseer het. Wat bygesit is en wat weggeneem is. Soos dat sy
Anib geskep het. Hierdie dinge wat vertel het, is die waarheid, verneem ons op
bladsy 186 en dat dit vertel moet word in die taal van Martha Solomons se
mense. Die stem oortuig nie en is op die
duur vervelend. Vir die kenner van die historiografie is dit bronne van uiterse
belang om die letterkundige en historiese speurtog te onderneem.
Hierdie vertelling staan waarskynlik nog te na aan die
skrywer en haar navorsing en omdat sy die bronne goed ken, het sy dit nog nie
genoegsaam in vertelling omgesit
nie. Dit word inderdaad ‘n verhaal ‘oor’ iemand, in plaas van ‘n verhaal uit
iemand uit.
Waarskynlik is die grootste
leesversperring dat die skrywer nie seker was waar om die verhaal te plaas nie:
is dit populisties of is dit ernstige literatuur? As ‘n hoes vergelyk word met
naels wat teen ‘n ruit krap (p. 188) wil dit waarskynlik eersgenoemde wees. Of
die sielige tussenwerpsels soos “Harry, ai dié Harry” (p. 188).
Daar het die afgelope tyd soveel pakkende romans binne
die Afrikaanse letterkunde verskyn (soos Agaat,
Roepman, Voor ek vergeet) en dit is jammer om ‘n teks van hierdie
ambisieuse opset te sien misluk. Die roman sou ook baat gevind het by ‘n
strenger redakteurshand van ‘n Hettie Scholtz of Charles Fryer.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]