Monday, March 4, 2013

Abraham H. de Vries (Samest.) - Die Afrikaanse kortverhaalboek (2004)



Abraham H. de Vries (Samest.). Die Afrikaanse kortverhaalboek. Human & Rousseau | Tafelberg Uitgewers, 2004. ISBN 0 7981 4443 2.

Resensent: Joan Hambidge

Ons mooiste prosa in een band. Ons beste prosa in een versameling. Ons mees verteenwoordiende, gekanoniseerde tekste in een band, byeengebring en gekies deur ‘n kortverhaalskrywer wat hier fungeer as keurder.  So gesien, is die samesteller ‘n buikspreker van die kanon wat keuses binne ‘n letterkunde vertolk, verduidelik en bestendig. ‘n Kundige samesteller of kanoniseerder, soos Harold Bloom aantoon in The Western Canon, lees nie net vir die hoogtepunte nie, maar kyk ook na die vergete tekste ten einde te begryp waarom sekere tekste in ‘n letterkunde as groot of klassiek geag word. Omstrede samestellers, soos Gerrit Komrij, fokus weer te veel op die vergete of weggelate teks wat dan ‘n soort skeefgetrekte bloemlesing tot gevolg het.

Brink op sy beurt kies ander tekste as Opperman, maar hy verduidelik vir die leser presies wat sy maatstawwe was.

Abraham H. de Vries is ‘n betroubare kanoniseerder van die kortverhaal wat teoreties oor die medium besin en ‘n goeie kortverhaalskrywer is wat onlangs bekroon is. Sy studies is nie ‘n ‘apologia pro domo’ soos wat ‘n mens ongelukkig vind by skrywers oor die kortverhaal nie, maar ‘n handleiding tot en begryp van die kortkuns. ‘n Mens mis tog vir my gevoel ‘n meer deeglike en intellektuele bepeinsing in die woord vooraf, soos wat Brink gedoen het in Groot verseboek 2000. Dit is tog die plek (veral omdat studente dit gaan lees) om in te gaan op die tendense binne die Afriikaanse kortverhaal. Die ‘baring  of devices’ soos hy opmerk, is tog in die Afrikaanse letterkunde veral gekoppel aan die postmodernisme en beoefenaars van die metaverhaal soos Hennie Aucamp en Koos Prinsloo se intertekstuele spel kon hier bespreek geword het. Met Johann de Lange se interessante ‘antwoord’ op hierdie komplekse mentorsverhouding. Waarom is De Lange nie opgeneem nie?

Ook die migrasie binne die kortverhaal: die ontginning van die plaas of plattelands-‘onskuldige’-bestaan tot by die meer gesofikstikeerde, ontredderende stadslewe by ‘n skrywer soos Herman Wasserman.  Die beskrywing  van die gedurfde seksuele leefwyse wat deur Aucamp vir die jonger skrywers moontlik gemaak is en die metaverhaal wat veral deur De Vries self so kompleks beskryf word dat die leser dikwels eers na ‘n tweede of derde lees die geheim snap.

In welke mate het die kortverhaal ook ‘n politieke ‘dokument’ geword? By Jan Rabie, John Miles, Emma Huismans, e.a. word die onregverdige politieke bestel aan die kaak gestel. En tydgenootlike bruin skrywers kyk op hul beurt anders na die werklikheid. En tog mag die basiese aard van die kortverhaal nie ontken word nie, naamlik dat dit ‘n storie moet wees.

Die intertekstuele spel tussen T.T. Cloete se “Dokter Diedericks leer om te lag” en J. van Melle se “Oom Diederik leer om te huil” is eweneens ‘n verband wat die leser trek. Hierdie simbiotiese verhouding tussen tekste bly ‘n belangrike verskynsel: die Van Melle-teks word ook nou met nuwe implikasies gelaai na die lees van die Cloete-teks.

Kortverhaalskrywers is nie mislukte romanskrywers nie. Hulle is ‘n interessante spesie wat dikwels soos digters werk. Die taal is gedronge, simbole word herhaal en die karakterisering is helder. Ook die fokalisasie stel sy eiesoortige eise. Wie sien? En wat word gesien? Die ek-verteller is dikwels ‘n meer verskanste, gedistansieerde verteller wat nie noodwendig die skrywer van die verhaal hoef te wees nie.

Die samsteller erken dat gehalte ‘n rol gespeel het en dat die net van stemme en tendense (hoe verhale op mekaar inspeel) ‘n oorweging was. ‘n Mens sou egter ‘n sterker teoretiese verantwoording van hierdie verskynsel wou sien.

Die meeste klassieke verhale is daar en die volwassenheid van die Afrikaanse letterkunde is indrukwekkend. J.M. Coetzee het nou onlangs misprysend gemeen dat ons ‘n klein letterkunde het en ons hoogtepunte goed bemark. Met die lees van hierdie bundel sou ‘n mens meen hy sou sy uitspraak moet hersien. Die Afrikaanse kortverhaal troon bo sy Engels-Suid-Afrikaanse eweknie uit.

Al die klassieke is daar en my gunstelinge het ‘n heerlike paar leesure tot gevolg gehad soos “Dood van ‘n maagd”, “Onthou jy vir Helena Lem?”, “Die judasbok”, “Drie kaalkoppe eet tesame”, om ‘n paar uit te sonder.  Waarom Nataniël en nie Johann de Lange nie? As ‘n mens so ‘n bundel misloop, dan mis jy kanonisering. ‘n Mens sou ook meer van Petra Müller wou sien, maar waarskynlik is dit moeilik om verhale by haar te kies weens die intranetwerk van haar bundels. En H.J. Pieterse?

128 verhale van 79 skrywers maak van hierdie band ‘n moet vir die boekrak. Meer as ‘n eeu se verhale word opgeneem en gelukkig is daar afgesien van die titel Eeu, wat vir my gevoel nie lekker op die oor geval het nie. Vir R165 is dit ‘n winskopie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]