Saturday, March 9, 2013

Wêreldreis: Stad 9. Istanboel, stad van wysheid (pranja)

Turkye © cnwrr

Orhan Pamuk se stad word dikwels as die primordiale stad van verhale beskou. Bizantium – Konstantinopel  Istanboel verbind die twee wêrelddele waaroor ek gereis het: Oos en Wes. En van oud na nuut tot weer by die ou wêreld.

Die Bosphorus wat stilweg daar is.

Al my reisplanne was perfek, behalwe tot ek by die Royal hotel intjekkereer en ontdek my kamer is nie beskikbaar nie. Ek moes al gister hier wees. Een grom en ‘n telefoonoproep na die plaaslike agent en ek kry my kamer. Die vlug van NY was lekker, maar lank. Turkse lamtjoppies en rooi wyn asof jy in ‘n spoggerige restaurant uiteet, is wat die Turkse lugdiens bied, plus kase en sjokolade wat goed afgaan. Ek kan nie slaap nie en kyk ‘n film van Charles Schulz se Peanuts waar Snoopy vir almal om die bos lei: hý is toe die ouma wat Linus se kombersie van hom wil afneem.

‘n Dans van sluiers is ook hier in die stad van voorstellings en lae. Dan ‘n reis na die hotel en laataand ‘n besoek aan ‘n plaaslike kafeetjie waar die mense bier drink en hoender eet op verskeie maniere berei. 

Die Turkse oubasies gesels land en sand.

Ek moes al gister hier gewees het, is dis dan ook hoe ek hierdie stad benader met sy verskillende lae. Alles het gíster plaasgevind en jy kyk dus net na die oorblyfsels. Dit stuifreën, maar ek flenter agter mense aan. Die groot museums het ek alles vantevore besoek. Istanboel gee nie maklik sy geheime prys nie.

Ook hier tel ek blare op en pars dit in my notaboek.

Derwiesje dansers het ek gesien dans en niemand stamp teen mekaar, val of raak duiselig nie, omdat hulle glo dat hulle met elke beweging nader aan God beweeg. Ook selfhipnose dus, sou sinici meen.

Hagia Sofia © www.istanbulvisions.com - 2007

Die blou moskee, Hagia Sofia (Divine Wisdom), die Topkapi-paleis en die Groot Basaar besoek ek nogmaals. ‘n Mens kan in Istanboel uiteindelik ‘n soort oordaad van die sinne ervaar: ongelooflike museums met skatte, en die ryk kos.

Die aand kyk ek sokker in die klein kafee en kyk hoe Turkye spook om Iran te oorrompel. Ek bestel ‘n klein halwe hoender, maar dit is so ryk dat ek dit nie kan klaarkry nie. Daarby Efes-bier en chili’s, hoe dan anders.

Uiteindelik, vir die eerste keer, moet ek Imodiums naderklap. Dit is asof my liggaam net nie meer al die indrukke kan verteer nie. Die lyf registreer immers die psige, weet Lacan te vertel. En so van die lyf gepraat. As gender-teoretikus is dit vir my opmerklik hoe dikwels mans hier aan hul voorlaaiers raak. En hoe ongeskik hulle met vroue kan wees. Sommer ‘n skrou as jy seg maar laai my af voor die hotel of as jy op ‘n plek sit waar jy nie eintlik moet wees nie… Pamuk is ook erg geboelie deur sy mense toe hy in die buiteland uitgepraat het oor ongerymdhede tenoor die Kurde.

Vroue is hier steeds ondergeskik aan mans, dis nou maar wors. Ek is ‘n paar keer begil, maar het net lydsaam die ander wang gedraai en binnesmonds gevloek oor waar jy die spreekwoordelike vinger kon laat woel. Ek doen niks en dink: ja, so gaan die kultuur van ‘n land oop en voel jy dit aan eie lyf.

Bosphorus-brug, Turkye © Yeterus

‘n Laaste bootvaart op die Bosphorus voordat ek oppak huis toe, sluit die reis af. Heel simbolies omdat dit die Ooste en die Weste versoen.

Istanboel, ‘n meditasie

In ‘n droom tussen wakker en slaap,
‘n tydverskil tussen kontinent en on-vasteland
hoor ek hierdie woorde aan my gefluister
op laataand televisie:
“‘n Klein pistachio-neut oopgebreek
openbaar sy ware aard:
harde dop met murgsagte binnegoed.”
Ek vaar oor die Bosphorus,
trek my skoene uit in die Blou Moskee,
staan in die Hagia Sofia,
onverwoesbaar deur soveel brande,
aardbewings, teenstand.
Stad van die Chora,
kerk, tempel of moskee:
Sy gesig orals gemosaïek,
‘n Geel Lig van Wysheid
omvou dié stad van die Vader,
Seun en Heilige Gees,
teen soveel aanslae bestand.                                                         

‘n Reis in ‘n sirkel bring ons uit by die mandala of sirkel. En by die tuiskoms word die Zippo’s se binnegoed gratis vervang deur ‘n Zippo-winkel: dis immers deel van die kontrak. En eindelose drome en herbelewenisse van ‘n reis bly my by:

New York, by nabaat

Over-abundance of the signifier,
is jy, stad wat ek betree,
stad der stede.
Jy het oud geword,
verinneweer geraak,
maar jou hande en oë
het dieselfde gebly, soos Derrida
iewers beweer van elke mens
en dalk ‘n stad?
Tog jou vingertoppe verraai littekens en knoetse;
jy moes immers sóveel aanslae verduur.
Philippe Petit stap steeds
in jou geheue tussen die Tweeling-Torings
op ‘n koorddraad en die Dame van Vryheid
kyk immer toe op die roesemoes
en onderlangs grom jou subway
rusteloos. Alice in Wonderland
gebronsbeeld in Central Park, ‘n stil getuie
soos die nouveau riche wat met ‘n trompopslag
‘n merk laat. In die TriBeCa
sketter die loeiende sirene van ‘n ambulans
soos op daardie dag van verblinding,
‘n maratyding, toe hulle jou vang op ‘n blindekant.
Maar dis jou oë waaraan ek jou bly herken:
die besonder, eiesoortige blik
van jou Brooklynbrug-bril
oor ‘n blougrys wasig, korrelende
soms knipperende oog.


Bron:

John Snelling. 1990. The Elements of Buddhism. Massachusetts: Element.
Fanpop - cnwrr's Profile Page
Bosphorus Bridge, Turkey 6 by ~Yeterus on deviantART
Hagia Sophia - Ayasofya. www.istanbulvisions.com - 2007