Saturday, March 9, 2013

Wêreldreis: Stad 3. Tokio, stad van koans (storie, dialoog, vraag)


Tokio skyline © shockerz

Dit is my tweede besoek aan hierdie opwindende stad. In 2002 het ek reeds die groot stede besoek en nou vertoef ek net in die hoofstad. Op die lughawe stap ek deur die groen lig, maar word gestop. ‘n Doeanebeampte maak sorgvuldig al my tasse oop. Die lang gesukkel om alles in te pas, word met een veeg ongedaan gemaak. Ek het my ou paspoort, en toe hy sien ek was al vantevore in hierdie stad, raak hy vriendeliker.

Waarna sou hy soek? Hy sien daar is net boeke, notaboekies, ‘n komputer, kamera, pen. Dalk is dit uiteindelik die bottel Isseymiyake wat hom paai en my laat deurstap. Hier het ek nie iemand wat my kom afhaal nie. Ek neem die metro. ‘n Hulpvaardige man beduie waar ek moet afklim. Dan weer ‘n taxi tot by die Shiba park (Y 1000) ‘n katspoegie ver.

Tokio gee niks prys nie. Dis ‘n stad vol geheimenisse, maar uiters georden. Om in Tokio te wees as ‘n besoeker is om ‘n geskenk met vele lae papier oop te vou en aanvanklik niks te vind nie. Net om te ontdek die papier was eintlik jou geskenk. Was dit Barthes wat dit geskryf het? Die strate is nie genommer nie en die mense stap verby sonder om te bodder oor jou. Ek is egter ‘n menskyker. Op die soelwarmdag stap ‘n meisie verby met ‘n rok wat papnatgesweet is agter. Sy bly egter elegant, terwyl ek self deur drie hemde per dag dreun (30 grade Celsius is geen grap nie).


Tokio is geweldig duur. Met $30 (3000 Yen) kan jy sowat tweekeer wasgoed was in ‘n hotelmasjien, of drie biere drink. ‘n Toeriste-dagreis is ver oor die duisend rand, maar beslis die moeite werd. Jy besoek al die bakens: die Tokio-toring, die Shinto-tempel, die groot Boeddhistiese tempel en ‘n bootvaart oor die stad se rivier. Shintoïsme, die aanbidding van die natuur binne ‘n komplekse godesisteem, is naas die Boeddhisme en die Christendom, die amptelike godsdiens. (As jy voor die tempel ‘n munt in die bussie plaas, sal jy voorspoed ervaar, vertel die gids.)

En dan is daar die Yen. Geld en tegnologie speel hier belangrike rolle. Alles is van die duurste en beste. My hotelkamer het gratis internet-toegang sodat ek presies weet wat in land gebeur. Ek stap geweldig ver en eet net Japannese kos. Heerlike organiese kos wat lig is om te verteer en jou baie energie gee. Reis is harde werk. Soos met geboorte gee vergeet mens glo die pyn en onthou net die vreugde. In die proses van reis is daar angs, beplanning, onvoorspelbaarhede, maar uiteindelik die beloning van ‘n vreemde plek beskou en herinneringe wat jy altyd in jou omdra. Ek herken bakens van 2002 se reis. Tóé het ek vervaard trein gery Kyoto toe, en hier, in Tokio, het ek 'n internet-kafee besoek: ek kon dit nog nooit regkry om terwyl ek reis alle kontak met my land te verbreek nie.

In ‘n vreemde stad toets ek altyd my interne GPS. Ek klim op ‘n bus en ry weg van my bestemming, klim af en stap dan terug en kyk op ek my hotel kan vind. ‘n Gevaarlike spel in Tokio, omdat mense jou nie verstaan nie. Maar ek stap my stap. Verby die stasie, oor die brug (onder lê die rivier), na Shiba Park Hotel. Survivor se moses. Hier kom ek. Ek vra net eenkeer ‘n aanwysing. Ek is op die regte pad, maar die man meen fronsend dat dit ver is…maar ek stap.
So ‘n kwartier later stop ek ‘n taxi. Te vogtig. Hoeveel sal dit kos? Dit klink bekostigbaar, en ek klim op. Geen Engels, maar baie humor. En so gaan die gesprek:
“Sukiyaki”, ek.
“Good day”, hy.
“Soesji,” ek.
“Love”, hy.
“Tsoenami”, ek.
“Sex,” hy.
En so gaan hierdie drama van die absurde met leë woorde aan todat die taxi gillend tot stilstand kom en die bestuurderes my verlos uit ‘n buidelende posisie van histerie. Dit bewys net nogmaals dat menslikheid ook in taal skuilgaan. Ek begin ‘n gedig wat ek eers later in San Francisco voltooi.

My lyf

My lyf is soos die naakmodel
in ‘n Lucian Freud skildery:
skrynend vol hompe en hobbels en heuwels
soos in Yerba Buena, oftewel San Francisco
soos in soos in soos in ‘n vergelyking wat nie opgaan.
Soma ook South of Market in hierdie stad van soveel vergelykings
waar die lyf soos slaggoed opgeveil word. 
Die lyf verraai die psige, waarsku Lacan,
iewers in een van sy lesings, opgeteken, vertaal
en dalk ook verfomfaai deur Alan Sheridan.
Is dit egter wat hy sou gesê het?
Dat die lyf ‘n taal van haar eie verraai?
Ons praat tog van body language?
Eens ‘n vesting vir die liefde, koesterende, aaiende hande.
Nou afgesluit met geen begeerte tot die Ander.
Altyd iets versus iets. Is teenoor was.
Skrams vang ek my lyf op in ‘n spieël
(soos wat jy ‘n blik van ‘n ander op jou betrap
in ‘n trein waar jy as vreemdeling uittroon bó reisigers
tussen ‘n stasienaam en ‘n tydelike vesting).
Is dit my lyf? Is dit ek? Is dit hoe ek lyk?
Objet à?
Odds and ends?
Langue maternelle?
Lyf, liggaam, soma.
Die lyf (in corpore sano of dalk soiets)
verniel deur vele reise
is uiteindelik al wat ek hadde
om sonder ‘n vergelyking, te wys.
Die stasienaam is die siel; die tydelike vesting,
hierdie hobbelende, heuwelende, eens heerlike lyf.


Bron:

John Snelling. 1990. The Elements of Buddhism. Massachusetts: Element.